Twee, nee drie, totaal onverwante artikels het my opgeval in Maandag se koerante. Kom ons lys hulle, dan vertel ek julle hoekom hulle al drie in my blog te lande gekom het.
Die eerste is ’n stuk wat in Die Burger verskyn het onder die opskrif: Kleinsus is óók die bliksem in.
Die tweede is ’n redaksionele hoofberig wat vandag in 56 koerante in 44 lande verskyn het. Jip, al ses en vyftig koerante het dieselfde berig gedra: Maak erns met die aarde se klimaat.
Derdens ’n artikel oor ’n nuwe Bentley wat minstens R1,4 miljoen kos en slegs 4 km per liter brandstof kry.
Nou vra julle: Wat de ongeluk?
Wel, kom ons begin by Kleinsus. Sy sê vir die Boetmanne: Julle het vir die NP gestem. Kyk mooi om julle rond. By elke verkeerslig is ’n Buti. Buti is lankal gatvol vir arm wees. Buti soek werk. Buti kan ’n AK kry en, sê Kleinsus, Buti gaan dit nie teen sy eie kop druk nie.
Sinies?
Ek is mal oor siniese mense.
Waarom dan opgewonde raak oor Kopenhagen? Enige sinikus sal jou sê dis ’n spul warm lug daardie. (Ek sal in ’n ander blog die kwessie van aardverwarming aanraak – dis ’n hele kwessie op sy eie.) Die belangrikste aspek is egter dat Kopenhagen handel oor ryk lande wat hulle rykgatinwoners so ver moet kry om minder te mors. Niks anders nie.
Dan vra ek jou, waarom sal Bentley hulle kar groener maak deur die verdomde ding op biobrandstof te laat loop? Biobrandstof is een van die grootste euwels wat ons kon uitdink, want dit vat kos uit die armes se monde. Waar eens mielies vir kos geplant is is, word nou mielies en peule vir olie geplant.
’n Buti sonder kos het nie tyd vir ’n Bentley wat sy mielies eet nie – dankie Kleinsus.
Ken julle Simon Geer se boek? Die titel is: Going Green: 365 Ways to Change Our World.
Simon sê boeke en stories, dis ’n begin. Lees vir jou kind stories en jou lewe sal al klaar baie minder morsig wees.
Comments