top of page
  • Izak de Vries

Kleinste Taalmuseum ter Wêreld


hAp

(HUIS VIR AFRIKAANSE POËSIE)

‘n Plek van Woorde. ‘n Tuiste vir Menswees.



WÊRELD SE KLEINSTE TAALMUSEUM IN PYPLYN

Die wêreld se kleinste Taalmuseum open 4-5 Oktober by die Huis vir Afrikaanse Poësie (hAp) in Capital Park, Pretoria.

‘n DROOM WORD GEBORE

hAp bestaan reeds sedert 2002 en het sy ontstaan gehad uit poësievoorlesings wat maandeliks in die voortuin plaasgevind het

Maar dié baba het heelwat groter geword. In 2005 is die Boekerij deur Mimi Coertse geopen, wat ‘n Letterkundige Naslaanafdeling vir Afrikaans, Nederlands en Engels bevat, sowel as ‘n afdeling waar boeke gekoop kan word. Op die Poësieroete in die bostuin kan jy weer van ons groot digters ontmoet. Die hAp kunsgalery bied altyd iets vir die kunsliefhebber.

Woordkunstenaars ontmoet reeds die afgelope 5 jaar elke Saterdag by hAp om aan hulle skryfwerk en gedigte te skaaf, deur woord en klank meegevoer te word en ander skrywers te ontmoet. hAp bied ook vanaf Mei 2008 twee kursusse oor die Afrikaanse Digkuns aan.

NUWE REIS BEGIN MET TAALMUSEUM

Met die byvoeging van ‘n Taalmuseum beloof hAp om voorwaar ‘n uitsonderlike taalhawe vir ieder en elk te wees.

‘n Ware Afrikataal wat wag om ontdek te word. Met ‘n mengelmoes van invloede deur Hollands, Maleis, Khoi, Frans, Portugees en ander inheemse tale het Afrikaans ontwikkel en gegroei tot die hartsuitdrukking van miljoene mense – elkeen so uiteenlopend soos hierdie unieke wêreldtaal, maar almal gebind deur ‘n gemeenskaplike klank.

Die hAp Taalmuseum Pretoria sal besoekers op ‘n reis neem na die ontspring van Afrikaans, padlangs verby Namakwa-Afrikaans, Bo-Kaap Afrikaans, Oranjerivier-Afrikaans en haar vele ander tonge. En dan kronkel die taal met ‘n diaspora oor die groot blou water na Ausie-Afrikaans.

Maar haar klanke keer telkemale terug na Afrikabodem – ‘n plek wat haar altyd met trots sal ken oor stofpaaidjies, berg en seelangs – haar grondgebied en hartland.

Die Taalmuseum by hAp sal nie net die wêreld se kleinste en enigste privaat Taalmuseum wees nie, maar ook die wêreld se tweede Taalmuseum. Die Afrikaanse Taalmuseum in Paarl is natuurlik die enigste ander Taalmuseum in die wêreld. Welgedaan Afrikaans!!!

TAALSKENKINGS WELKOM

Persone of instansies wat graag items van belang in die Afrikaanse geskiedenis vir die hAp Taalmuseum wil skenk of betrokke wil raak by die vestiging van die museum kan Charl Pretorius by 076 842 9212 of info@hap.co.za kontak.

Word ‘n Vriend van die Taalmuseum – besoek ons webblad vir meer inligting.

hAp is Saterdae (09:00 – 17:00) en Sondae (11:00 – 17:00) oop. Vind ons by Venterstraat 116 en Malherbestraat 115, Capital Park, Pretoria.

Pak jou woordtas en kom reis saam met Afrikaans!

Besoek ons webblad by www.hap.co.za vir meer inligting oor die Taalmuseum en gebeure by hAp.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page