“Ekskuus, hoor, ek het ‘n klein mistykie gemaak.” Dit is woorde wat ‘n mens nie dikwels hoor nie. Nie omdat foute nie volop is nie; eerder omdat mense traag is om vir hul foute pa te staan.
Vanoggend oor die radio het ‘n dr. Potgieter oor dié onderwerp gepraat. Ek het net skrams iets van die gesprek gehoor, en weet dus nie watter koers dit ingeslaan nie. Wat wel vasgesteek het, is die een of ander verbysterende syfer wat hy genoem het van resultate op Google as jy “docter’s mistakes” intik – iets soos nege miljoen.
Ek het self die oefeninkie gedoen – dis nader aan tien miljoen!
’n Kollega het enkele maande gelede in ‘n koerantbrief dokters in Bloemfontein gekasty oor ‘n reeks verstommende foutiewe diagnoses terwyl die kanker meedoënloos aan sy vrou vreet. Een, ‘n spesialis, het selfs teenoor ‘n kollega opgemerk dat sy dalk ‘n soort kanker-fobie sou hê. ‘n Mens trek jou ha..a..are uit jou kop, soos my Tant Minnie altyd gesê het.
‘n Ander kollega het vasgebyt en ‘n span dokters hof toe gevat oor ‘n mislukte operasie met rampspoedige gevolge vir sy seun. Die skuldiges se sakke voel dit. Ek skryf hierdie stukkie egter nie om dokters by te kom nie. Almal begaan foute en op elke terrein van die lewe word die bal gereeld gruwelik laat val.
Dr. Potgieter het afgeskop met die grappie dat dokters se foute begrawe word; advokate s’n word opgehang (in die goeie ou dae van die doodstraf), argitekte plant bome voor hulle s’n en onderwysers stuur hulle s’n politiek toe!
Koerantmense het in my tyd ‘n weergawe bygevoeg: hul eie foute word op die voorblaaie gepubliseer vir almal om te lees.
Ja, ongelukkig kom ek uit ‘n dissipline waar die pot kwalik die ketel kan verwyt. Dit moet ek erken. Ek erken ewe geredelik dat verskonings soos tydsdruk, verwarrende inligting uit onbetroubare bronne en selfs die drukkersduiwel se rol soms ietwat opportunisties oordryf word om puur en simpel vrot werk te wil verdoesel.
Dus: dokters, advokate en prokureurs, argitekte, onderwysers en wie nog, wees gerus dat hierdie ou uit nederigheid en bittere eie ervaring oor mistastinge saampraat. Trouens, twee boeke met veelseggende titels het in die jare 90 oor joernalistieke blapse uit my pen verskyn: Scoops en skandes en Flaters en kraters. Verskeie boeke kan nog oor skandes en kraters gepleeg word. Stof is legio.
Oor een verwyt wat koerante gereeld kry, het ek wel ‘n ietsie op die hart. Dit is dat hulle onwillig sou wees om hul foute te erken. Ja, hulle plaas iets groot op die voorblad. As hulle oortuig kan word dat hulle die kat aan die stert beet gehad het (wat onwaarskynlik is!), plaas hulle teensinnig ‘n onopvallende regstellinkie op bladsy twee, hoor jy dikwels.
‘n Lang dissertasie hieroor is nie op my agenda nie. Moet dus niks verwag oor al die wakende ombudsmanne, of selfs oor al die valse beskuldigings dat mense verkeerd aangehaal sou gewees het, terwyl die waarheid is dat die klipgooiers eintlik in glashuise woon nie; dat dit dikwels hulle is wat uit onbeholpenheid of ander redes hul voet in ‘n ding gesit het.
Nee, kom ons los maar daardie klas verwere vir ‘n ander debat op ‘n ander dag. Eintlik kry ek skielik vanoggend n.a.v. dr. Potgieter se bydrae die begeerte om slegs een opmerkinkie in hierdie verband op my blog te sit. Dit is dat juis koerante se erkenning van hul foute en bereidheid om dit reg te stel, in sekere gevalle selfs met ‘n ekskuus daarby, na my oordeel hulle nogal positief onderskei van annerlike dese en gene wat om die dood nie ooit sal erken dat hulle gegly het nie.
Jy kry inderdaad sulke soort snare wat nooit wankel in hul onwrikbare geloof in hul eie volmaaktheid nie. Ek wil waag om te sê dat hulle in bepaalde groepe meer algemeen voorkom as in ander, maar ek is nie lus vir baklei nie. Daarom sal ek my nie laat uitlok om enige beroepsgroep by name te noem nie. Nie eens politici nie.
Comments