top of page
Uitmelkbos

KLEIN IRRITASIES

Jou vabond, wag, ek sal jou kry, Van jou sal net ‘n bloedkol bly Hier op my kamermure. Deur jou vervloekte gonsery, Deur jou gebyt en plagery Kon ek nie slaap vir ure. Mag ek my voorstel, eer ons skei, Eer jy die doodslag van my kry – My naam is van der Merwe.

Muskiet, wees maar nie treurig nie, Wees ook nie so kieskeurig nie, Jy moet tog ééndag sterwe. Verwekker van malaria, Sing maar jou laaste aria – Nog een minuut vir grasie. Al soebat jy nou nòg so lang, Al sê jy ook: ek is nie bang, Nooit sien jy weer jou nasie… Hoe sedig sit hy, O, die kreng! Sy kinders kan maar kranse breng, Nóu gaan die vabond sterwe…Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer! Maar dòòd sal hy, sowaar, ek sweer – My naam is van der Merwe!

As jy, soos ons, graag die somer ook Laeveld toe mik, maak jy jou klaar vir die bos op sy groenste, plate klein huppelende rooibokkies …… en die gezoem van muskiete. Kom skemer, word die spuitmiddels uitgehaal en die sitronellafakkels aangesteek: ‘n heel bekoorlike gesig, maar, helaas, met minder vreedsame idees in jou kop as wat die oningeligte van die flikkerende vlammetjies kan aflei.

In daardie omstandighede vereenselwig jy jou met oorgawe met A.D. Keet se ou gediggie, Muskietejag. hierbo.

Hierdie keer vat ons saam met die stewige voorraad sitronella-olie en ander muskiet-afweermiddels ook ‘n splinternuwe digbundel saam. Dis Daniel Hugo se Hanekraai.

In hom is ‘n versie wat ek sekerlik by heelparty vuurtjies vir die kampvuur-gardes gaan voorlees – ook oor muskiete. Onder meer.

Die titel is Afrika, my Afrika.

Geniet dit so tussen die somerse ge-zoem deur:

1.

Vergeet van sprinkane en droogte

haelstorms en meteoriete

dit is die klein irritasies

wat my radeloos maak:

vlieë, vlooie, muskiete

2.

Die muskiet prospekteer met sy boor-

stellasie op die vlakte van my vel:

hy soek die minerale in my are

3.

Die vervlakste, ratse vlooi is ‘n spring-

haas op die karooveld van my kooi

4.

Die vlieg is ‘n voorste sensasiesoeker:

in hierdie droë land is hy eerste by – geboei

deur trane wat loop, bloed wat vloei.

Die vlakte van my vel, die minerale in my are. Mooi, Daniel, mooi, man.

(Met vergunning van die digter.)

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page