top of page
  • Uitmelkbos

KLEIN BIKINI’S OP ‘N GROOT BOOT

Die tweeling op hul dekstoele langs die Sinfonia se swembaddens

‘n Impromptu stoeigeveg op die marmervloer voor die casino.

Genoeg glansende marmer, gloeiende okkerneuthout en spieëls vir die troonkamer van ‘n praalvors se paleis omskep die MSC Sinfonia (uitspraak Sin-fo-nié-a) in ‘n weelderige drywende hotel, soos hierdie Melkbosse vaalseun nog nie beleef het nie.

Julle ken seker die storie van die Koekemoertjie wat op sy huweliksnag onder die ouerlike dak so tekere gegaan het dat Vader kom vasstel het of alles pluis is. Die bruidegom se antwoord op die bekommerde klop aan wittebroodskamer se deur was: “”Ai, pa, ek het nooit geweet ‘n gewone Koekermoertjie kan só lekker kry nie.”

Ditto, ‘n gewone van Deventertjie as hy só met sy kierietjie verkennend van die een restaurant na die ander pendel – van die klassieke Il Galeone en Il Covo ( ja, dis alles ‘Taljaans op hierdie spogskip, al vaar hy onder ‘n Panamese vlag) tot die informele La Terrazza Buffet op die agterstewe met die verkwikkende seesproei in jou neus.

Die Teatro San Carlo (en sy fyn can-can-danseressies met hul swierige pluime en passies) bied kabaret soos ek laas in Parys aan die Seine beleef het. Oe-la-la!

Die deftige kroeë en kuierplekke op die nege verdiepings is só talryk dat ek twyfel of ek in almal was, ondanks ‘n doelgerigte poging. Was ek ooit in die Buddha Bar of die Café La Baroque? Kan eerlik nie onthou nie.

Maar dis vroegoggend as jy, agter ‘n eerste koppie koffie aan, by die deur van dek 11 uitstap, verby die ry verloklike swembaddens en borrelbaddens, aan, en jy die rye en rye diepseeblou dekstoele waarneem, uitgepak in foutlose simmetrie, dat jy miskien die heel beste besef: dis nie ‘n hierjy-skippie dié nie!

Hierdie mense het styl, hulle is gedril en hul diens bly onbesproke al is hulle al 21 dae ter see gelaai met ryk Europese toeriste, wat in hul te klein bikini’s (Tokkie se hulle is verby hul rakleeftyd!) hul lywe op die dekke lé en verkaiing of by die eksklusiewe winkels met die verleidelikste handelsmerke, of in die casino en elders, met dik beursies uithang.

Toe ons in die Kaap opklim Durban toe, was dit vir die laaste skof van die Europe seisoen. ‘n Uitgebreide Suid-Afrikaanse sisoen lé nou voor met Durban as die spilpunt. Een komplikasie was dat ons, soos die Europeërs, met Europryse gekonfronteer is – maklik R300 vir ‘n botteltjie wyn of R200 plus vir ‘n soewenierfoto. Vir die SA seisoen geld tegemoetkomender dollarpryse.

Daaroor was sekere reisigenote die viesste in. Van die ervare vaarders het ook gekla die kos steek af by wat hulle al beleef het – veral die informele “spreads”. Die tradisionele middernagfees was nietemin glo ‘n kulinêre fees, en ‘n fees vir die oog wat die kameras laat blits het. Word op enige ander plek op een dag per kamera soveel foto’s geneem as op n vakansievaart? Ek glo nie. Word op enige ander plek so aanhoudend in sulke kwantiteite ge-eet? Ek twyfel nog sterker.

Van middernagfeeste en daardie klas ding wis die Van Deventers en die rweeling-kleinkinders Jacob en Thomas Claassens (5) egter niks. Ons was salig in droomland, moeg gekerjakker in die swembaddens en borrelbaddens, of gestoei op plekke wat seker nie juis vir uitgelate kinderstoeiery bestem is nie.

Maar die galakonsert in die gepakte Teatro San Carlo het ons bygewoon, en ons asems is weggeslaan. Thomas is veral deur die slanke danseresse en die towenaar meegevoer. Die vreugde in sy onmiddellike omgewing was as hy telkens met ‘n ernstige gesiggie en ‘n luide stem by sy Ouma verneem: “Dis goed hé, Ouma?”

Ek het gepraat oor die onvleiende lywe in die te klein bikini’s. Uiteindelik word dit een van die hoofindrukke van die drie dae ter see: die verbete (soms bra patetiese) gejaag na ‘n vervloeë jeug van al die ander gekamoefleerde oupatjies en oumatjies wat hulle om die dood nie sal wil ophou met kleinkinders om hul voete nie – terwyl dit juis ons groot plesier was.

Daardie sorgvrye ure op dek 11 sal ek vir niks ruil nie – met as spesiale bonus die vies trek op die gesig van ‘n beer van ‘n man wat een oomblik dag hy het ‘n borrelbad eksklusief vir sy omvangryke lyf; die volgende oomblik plons die twee jillende Suid-Afrikanertjies by hom in die borrelwater!

Waarom elke bootvaart met ‘n kultuur van ooreet moet gepaard gaan, gaan my verstand te bowe. Maar werklik, enkele ure ná ‘n oorvloedige maal word al weer vir komkommertoebroodjies tou gestaan. Saans word reuse-porsies “baked Alaska”: weggepak, wat selfs gedugte roomyseters soos Jacob en Thomas onderkry, Dit wil gedoen wees!

‘n Derde indruk is die pluspunt van ‘n geweldige klem op higiëne met handewas-stasies op elke strategiese plek. Oupa moes sy dissiplines vinnig opskroef. Suid-Afrikaners in die algemeen kan by hierdie strewe tot sindelikheid veel leer.

Klink ek dalk te veel soos n verkoopman vir die Sinfonia, wat met sy oor die 1 500 passasiers en 720 bemanningslede, terloops, die grootste passasierskip is wat nog ‘n Suid-Afrikaanse hawe aangedoen het? Dan haas ek my om lesers te verseker dat ek geen sent afslag gekry het om te help “bemark” nie – net vier Cokes op ‘n warm, windlose middag op dek 11 het Oupa R150 armer gemaak!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page