top of page
  • Uitmelkbos

KIETSIE, KIETSIE, KA-A-A-ATS!

Mense baklei soos katte en honde oor katte en honde.

Ek soek nie om in ‘n kattegeveg (of hondegeveg) oor die ou-ou strydpunt ingesleep te word oor watter een van die twee die beste/lojaalste/dierbaarste troeteldier is nie. Diegene wat hul katte lief het, bly gerus lief vir hulle. Diegene wat by honde sweer, sweer gerus by hulle.

Die sonde wat ek vandag het, kom egter van eersgenoemde. So ‘n donkergrys kolletjieskat versuur my lewe. Ek soek dringend raad, asseblief.

Die moeilikheid is dat hy ons erf hier op Melkbos duidelik as deel van sy domein ag. Hy kom en gaan soos hy wil – of dalk is dit

‘n sy, want dis ‘n kat met ‘n houding, hoor!

Goed en wel, bedags rig die katteverkeer oor die tuinmuurtjies en die voorstoep min skade aan. Dis snags dat dit lol.

Ons het n buite-alarm. Sulke oge wat vir mekaar loer. As die sein gebreek word, gee dit ‘n gekattemaai van die eerste water af.

Wakker is die Van Deventers . Wakker (en de ongeluk in) is die bure. Telefoon lui. Die gewapende reaksie-span wil weet of alles in orde is. Dan is dit: wagwoord asseblief. Soms is ek so deur die slaap dat ek twyfel oor die klinker – is dit ‘n “u” of ‘n “o”?

Laasnag was dit weer sulke tyd. Toe ek die gordyne ooppluk, sien ek hom (haar?) momenteel (en triomfantlik, lyk dit) op die muur poseer, stert pronkerig doer in die lug.

G’n twyfel meer dat ons probleem ‘n katprobleem is nie, al sê die alarm-mense wat. Dis immers nie ‘n kat op die grond wat die sein breek nie, maar een wat met diaboliese doelgerigtheid van die muur af direk voor die oog ‘n sierlike sprong kom uitvoer.

Taks om taks.

Vanoggend sê ek vir Tokkie: “Nee magtig, nou moet ons plan maak.”

Sy (altyd prakties): “Wat?”

Ek verlang skielik na Daniël, tuinman uit ons Bloemfontein-era, nou ook al saliger. Toe die bure se kat – Snuffels, meen ek – Tokkie se witduiwe beloer, toe slaan Daniel hom met ‘n graaf uit die boom.

Snuffels is in die agterplaas begrawe. Daniël kon trots rapporteer: “Hy sal nie weer vir ……… (politiek inkorrekte alternatief vir mevrou) se duiwe loer nie.”

Een of ander kattevanger?” waag ek hoopvol.

“Bestaan nie,” verpletter T. my hoop.

“Met die kat se baas gaan praat?”

“Wie’s die baas? Tien teen een is dit sommer ‘n rondloperkat.”

Só troef sy my.

Liewe blogvriende, wie het tog raad?

(Naskrif: Ja, ek is die skrywer van “’n Vriend vir altyd” (omslag hierbo) – kan dit nie ontken nie. My simpatie is dus by honde, wat by al hul ander deugde ook die voordeel het dat hulle nie snags op mure loop en alarms aktiveer nie.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page