My eerste kierie is een wat my seun Johan vir my laat maak het uit die geldjies wat hy as koerantseuntjie in Bloemfontein verdien het: ‘n swarthout-kêrel wat nou so dertig jaar oud is en heelwat littekens op sy kersftok het. Johan het hom spesiaal by ‘n meubelmaker laat draai. Hy lê nog na aan my hart.
Trouens, op Melkbos is hy my nommer een-kierie, hoewel ek wandelinge op die strand deesdae liewer aandurf met ‘n moderne, verstelbare wandelstok uit aluminium – ‘n sogenaamde Scout First Ascent. ‘n Rooie nogal. Sy slim ontwerp met ‘n ronde skermpie onder naby die punt sorg dat hy nie in sagte sand wegsak en sy afhanklike op daardie manier tot fisieke struikeling bring nie.
Dis die regte “kierie” – net wat die dokter ge-order het as ‘t ware – vir ‘n ou wat van ‘n vroeë lid van die kieriekommando intusen tot ‘n hinkepinker agteruitgegaan het: heupe verslyt maar oweral rondom my ook bra vinnig.
Op Sabiepark is my gunsteling-kierie ‘n meesterstuk uit Transvaalse kiaat met ‘n spoggerige blink vlakvarktand as handvatsel. Die dag toe my kollega Jan Scholtz met sy onblusbare liefde vir hout en sy uitsonderlike skrynwerkers-vakmanskap die erfstuk te voorskyn bring, kon ek net oorstelp dankie prewel en Tokkie roep om die kamera te bring.
Die oorhandigingsfoto is hierbo. Die plegtigheid is daardie aand afgerond met die tradisionele vuurtjie, tjoppies en wors en ruim aanwending van Kaapse kultuur in blanc de blanc-vorm. Jan is ‘n groot Namakwaman; ek hou van my Perdeberg, Boland of Bonnies (KWV se Bonne Esperance wat jy waaragtig ook deesdae in ‘n netjiese drieliter-boks kan koop). Saam kan ons ‘n bottel of twee seermaak.
Daardie kierie word agter slot en grendel bewaar as ek en Tokkie nie in residensie is nie. Een keer het ek dit so goed weggesteek dat ek ses maande later dag die vlakvarktand het dalk ook moeti-moontlikhede en is om daardie rede uit Wildevy 154 verduister.
Ek het al hier vertel hoe enorm my dankbaarheid was toe ek hom in die klerekas se donker hoekie agter baadjies en goeters versteek kry. Tokkie wou toe by my weet: “Sal jy ook so bly wees as ek sou wegraak en jy my weer vind?” Het haar ‘n antwoord skuldig gebly!
Ek het in Sabiepark ‘n hele verskeidenheid kieries, onder meer ook ene wat my studentemaat Pierre le Roux van Mosselbaai by die kraampies op pad na die Krugerhek van die Wildtuin vir my gekoop het – ‘n ruwer knaap, maar met ‘n Bosveldkarakter soos min.
Party ouens met kierieversamelings wat die Guiness Book of Records kan haal, sal nou nie juis oor die omvang van die HvD-kierieversameling kortasem raak nie, maar nietemin. Ek wou maar net die punt maak dat ek al van my jare mid-veertig ‘n kierieliefde in my binneste vertroetel, en dat ek in enige geselskap – selfs die geselskap van trippelende jong meisiekinders – onbeskaamd en onverleë met ‘n kierie sal “aanstap Rooies”.
In daardie opsig verskil mense ook maar geweldig, soos in ander opsigte. Ek het ‘n neef – ‘n goeie vier jaar ouer as ek en by wie hartversaking lastige afmetings begin aanneem – wat botweg weier om met ‘n kierie te loop. Sukkel eenvoudig hyg-hyg en staan-staan voort, maar hy is “nog nie so oud nie”.
My aarde, Ben. As jy maar kon weet hoe gerieflik ‘n kierie is. Ek meen jy met jou lang lenige lyf en wit hare kan nogal elegant lyk met ‘n kierie soos Oupa Visser s’n!
Comments