top of page
  • Uitmelkbos

KERSVREUGDE IN DIE BOS

Die toppunt van ‘n bos-Kersgeskenk? Tot Woensdag 24 Desember omstreeks 15:00 was vir my loshande die onoortreflikste denkbare geskenk die rooibok-rammetjie wat ‘n meneer van ‘n luiperd-mannetjie die vorige dag op die voorstoep van mede-Sabieparker Ettienne Liversage se huis kom deponeer het.

Toe skeur die hemele Woensdagmiddag oop. Reën giet neer in ondeurdringbare grys vlae soos ek nog maar min in my lewe – indien ooit – gesien het. In twee magnetiese uur van donder, bliksem en selfs ‘n bietjie hael word ‘n kruipende droogtegreep in een enkele storm op Kersaand gebreek. (Ek hou, om klaarblyklike redes, vol dat die aand van 24 Desember Kersaand is, nie Oukersaand nie!)

Die reënmeter klim, klim, klim … tot ‘n vinnige 50 millimeter. Die veld begin lewe in ‘n koor van tjilpe, kwetters en kwake. Die vreugde in die hart, die diepe dankbaarheid wat mens en dier verenig, is so meesleurend, so oorheersend dat selfs Ettienne se unieke luiperd-ervaring daarteen verdof.

Bonus op bonus: ‘n bewolkte Kersdag met milde temperature (maksimum 22 grade, minimum 10) en ‘n Welwillendheidsdag wat vanoggend aanbreek met ‘n ligte gestuif – “kiesa” het ons dit in my kinderdae in Natal genoem. Lyk nie of die son maklik vandag gaan deurbreek nie.

Vergeet van braai in die buitelug, vergeet van in die swembad rondplas, maar ag wat maak dit nou saak as die bos so sprankel? Hoe geseënd en gelukkig kan ‘n gewone mensekind tog nie wees nie! So in die Kerstyd tref die gedagte ‘n mens met dubbele impak.

Maar die luiperd en die rooibok – ongelooflik soos dit klink, het dit werklik Dinsdag gebeur. Nou is die ongewone verhaal ook deel van die Sabiepark-annale van bos-avonture en veld-ervarings wat immer nuwe hoofstukke bly byvoeg.

Die drama is ingelui toe Ettiene, onderwysman van Natal, se dogter vroegoggend ‘n vreemde geluid op hul stoep in Apiesdoringlaan hoor. Toe sy die deur oopskuif, kyk sy en die luiperd mekaar in die oë. Hy probeer sy prooi by die trappies opsleep.

Toe hy die mensekind gewaar, neem die groot kat die wyk. Die kantoor kom, saag die ram se kop af as ‘n trofee vir die Liversages en plaas die karkas in die mik van die boom. Net na 18:00 is die luiperd terug, maar is ook vier hiënas op die toneel met ambisies vir ‘n stukkie vars vleis vir Kersfees.

Tot 23:00 probeer die jagter sy prooi beskerm teen die hiënas wat al hoe vrypostiger raak. Die Liversages en vriende sit vasgenael die verrigtinge in die ligte van die vriende se voertuig en dophou. Later is die luiperd selfs weer op die stoep – en hulle in die vriende se voertuig. Maar 23:00 is al ver verby slaaptyd in die bos.

So sak die gordyn op ‘n Sabiepark-sage waaroor nog by vele kampvure bespiegel, gesels en geredeneer sal word – natuurlik met ‘n gesonde kwota afguns van mense soos ek wat salig onbewus van die hele tedoe rustig tuis, om die hoek in Wildevylaan, my vleisie sit en braai het. Niks, maar niks kan uiteindelik egter daardie twee vreugde-ure van Dinsdagmiddag oortref nie.

‘n “Kersgeskenk” van ‘n totaal ander aard het die Van D’s gelukkig vrygespring. Want ja, die bobbejane het toe teruggekeer om weer te kom swem. Maar hierdie keer het ons hulle gefnuik. Die blou seiIltjie was gespan. Al wat vir hulle oorgebly het, was om so ‘n bietjie te mors en “trampolien” te spring.

Die ongeluk: moeite of nie, maar daardie sieltjie sal klaarblyklik nou maar op somerdae altyd gespan moet word as ons gaan rondloop.

Op nog ‘n persoonlik noot, wil ek darem ook net rapporteer dat die tweeling, Jacob en Thomas Claassens (4), hul eerste vuurproef van ‘n Laeveldse donderstorm dapper deurstaan het. Die lugtigheid was groot, want hulle was gewaarsku die harde donderslae en die bliksemstrale is anders as die knalletjies waaraan hulle in die Kaap gewoond is. Maar hulle het al hoe makker en makker geword, en was aan die einde van die storm omtrent so meegevoer soos Oupa en Ouma.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

留言


bottom of page