‘n Yslike luiperdmannetjie wat ‘n rooibokram tot op jou stoep sleep vir ‘n vroeë ontbyt ‘n meter van jou voordeur is nie juis die klas verrassing waarop ‘n Christenmens voorbereid is as jy om 05:30 vreemde geluide op die stoep hoor nie.
Trouens, in hul onderskeie beddens het die gesin Liversage van erf 246, Sabiepark, misnoegd lê en wonder hoekom die bobbejane – die eindeloos lastige “mafia” van die park – daardie oggend, 22 Desember 2008, so vroeg reeds hul posisies in die gemakstoele kom inneem het.
Vir Lindi, die dogter, het dit gelukkig nie by wonder gebly nie. Sy is nuuskierig op haar tone voordeur toe vir ‘n ondersoek ter plaatse. Deur die glasvoordeur kyk sy toe vas in die vurige oë van die groot kat met sy prooi in sy bek – gereed om te begin weglê aan die homp vars vleis aan sy voete.
Toe sy die ongelooflike toneel voor haar waarneem, het Lindi haar eers boeglam en toe wawyd wakker geskrik. Haar krete het vinnig die res van die gesin uit hul katels laat vlieg.
Volgens Etienne, gesiene onderwysman van Natal, was dit “die grootste ontdekking van ons nagenoeg 24 jaar verblyf in Sabiepark”. Ek verstaan sy sentimente.
Hy vertel: “Na ‘n paar oomblikke van indringende oogkontak het die luiperd syne geknip, sy prooi as ‘n vroeë Kersgeskenk aan ons gesin prysgegee en al sluipend die stoep verlaat.
“Deurmekaar opgewondenheid en besluitloosheid rondom die ‘Kersgeskenk’ het gevolg totdat Gait-Jan (Gait-Jan Sterk, adjunk-parkbestuurder) ingeroep is om oor Sabiepark-eiendom, dood of lewend, uitspraak te gee. Hy het nie geweifel nie: die bok behoort steeds aan die jagter en natuurlik sy hiëna-opponente wat Sabiepark met hom deel.
“Die bok is binne sigafstand van ons stoep naby die grond in die mik van ‘n boom vasgemaak en elke lid van die gesin het ‘n beurt gekry om met sy oë vasgenael op die karkas op die toneel te waak.
“Teen sononder, asof ‘n teken gelykdtydig gegee is, het vier hiënas uit een rigting en die luiperd uit ‘n ander op die prooi toegesak. Hoewel die getalsoorsig in die hiënas se guns was, het die luiperd sy stem behoorlik dik gemaak en kort-kort ingestorm om sy pond vleis te eis.
“Die verskeuring van die bok en die geknars van beendere het geruime tyd geduur, met die luiperd wat elke af en toe vir sy lewe moes vlug met twee of meer hiënas kort op sy hakke. Intussen het die verkeer en die toeskouergetal op ons werf so toegeneem dat dit aan Parkstasie herinner het – dog hoe meer siele, hoe meer vreugde!
“Teen 22:00 het die hiënas ‘n laaste verbete aanslag op die luiperd geloods, en hom die keer reg oor ons werf tot binne ‘n groot maroelaboom gejaag. Terwyl die luiperd doodluiters, dog uitgeput, op ‘n dwarsstam lê, het voertuie rondom die boom saamgetrek en kameras het behoorlik geflits.
“ Dit is toe dat luiperd se kind besluit het om te gaan kyk of sy bok nie dalk nog op ons stoep lê nie! Hy het uit die maroela gespring en met al die voertuie in gelid agter om aan, reg op ons huis afgepyl.
“ My eerste gedagte was: wat nou van Lindi wat wat oomblikke tevore nog niksvermoedend op die verligte stoep naby die vuurmaakplek gesit het?
“ Die luiperd het ons huis met ‘n passie genader, op die stoep gespring, naby die oop voordeur vasgestel dat hy definitief van sy prooi beroof is, by die steeds goeiende kole verbybeweeg en in die nag verdwyn.
“En Lindi? Gelukkig was sy, soos die res van haar gesin, in ‘n voertuig – dus buite die gevaarsone!
“Terwyl ek en Sophia en die kinders die gebure van 22 Desember nog tot laatnag herkou het, het ons geweet hierdie was ‘n dag toe moedernatuur asemrowend pragtig in ons rigting geglimlag het.”
Tot so ver Etienne Liversage en sy “Kersverhaal” wat seker een van die buitengewoonste van Kersfees 2008 moet wees. Hierdie arme drommel, wat salig onbewus van die hele tedoe by sy eie vuurtjie geen kilometer van die aksie af gesit het nie, sal nie nou probeer lieg en probeer voorgee dat hy nie groen van die jaloesie is nie.
Werklik, Etienne, Sabiepark het julle een van sy wonderlikste belonings gebied. Saam met verhale van allerlei leeu-avonture – van aksiebelaaide vangste tot wilde jagtogte – onverwagte olifant-‘invalle’ en ‘-padversperrings’, vorige luiperd-dramas, besoeke van jagluiperds en wildehonde, buffelaanvalle en wat nog sal jul ervaring gewis in die annale van Sabiepak opgeteken staan as een van die goue oomblikke in sy bestaan van dertig jaar hier aan die Sabierivier, neffens die Kruger-Wildtuin.
Geniet die herinneringe!
(Hierdie luiperdstorie is vroeër kortliks in my blog vermeld. Etienne se vertelling in kleur en geur regrverdig egter ongetwyfeld die oorvleueling, glo ek. Hoop om darem later ‘n foto of foto’s by te sit. HvD)
Comments