top of page
  • Uitmelkbos

KEREWeN-KRONIEKE


Die vakansie met die Gypsey deur Fred Mouton se bril in Weg.

Aan die “kerewên”-kultuur het ek ondanks my voorliefde vir ver paaie en die ooptes nooit vat gekry nie. Moet nou nie vir my kwaad word nie, liewe vriende van die Woonwagilde, maar dit klink al te veel soos harde werk en is in belangrike opsigte vakansie-onvriendelik, o.m. weens die legio slaggate – letterlik en figuurlik – wat ‘n mens sonde kan besorg.

Nadat ek in die jongste Weg my karnallie-kollega met die goue pen, Johan van Wyk, se kroniek gelees het van Koos Kerewên van Knelpoort se krisisse op sy epiese reis met ‘n lendelam ou Gypsey agter ‘n kragtige Ford F100-bakkie aan deur die Suid-Vrystaat Gonubie toe is ek taamlik oortuig dat my instinktiewe weerstand nie misplaas was nie.

Wil niemand die plesier ontneem om Johan se storie eerstehands te lees nie. Sal wel verklap dat die Gypsey, namate die reis vorder, ook in flentergat-geid toegeneem het. Bloudraad en ‘n tang moes oortyd werk. Maar stukke wat in die ry verlore raak, kan jy darem nog op ‘n manier vaswoel. As rook eers by die wiele begin uittborrel, breek die nag aan, boeta. Nag met ‘n hoofletter-N.

Al rede hoekom die Gypsey nie ‘n hoenderhok geword het nie, was, soos ek dit verstaan, dat ‘n pophuis vir die meisiekind daardie tyd ‘n groter prioriteit op Knelpoort was.

Laat my dink aan ‘n ander Volksblad-kollega, Philip van Rensburg, se beproewende kennismaking met ‘n Gypsey, Sprite of iets dergeliks, jare gelede toe die ekonomiese aspekte van gesinsuitstappies noodwendig swaar geweeg het, en hotel-akkommodasie eenvoudig vir ‘n jong joernalis onbereikbaar duur was. Gastehuise was nog nie deur slim entrepreneurs uitgedink nie.

Eerste komplikasie was dat Philip nie geweet hoe om die geleende (of gehuurde) affêre weer agteruit in die straat te stoot as dit eers op die werf sou wees nie. Hy parkeer hom dus nonchalant in die straat voor die huis. Die hele buurt was omtrent toeskouer toe die gesin die voorraad vir ‘n “rustige” naweek by Bethlehem se Loch Athlone by hul Bloemfonteinse huis begin uitdra.

Daardie nuuskierigheid was klaar nie bevorderlik vir ‘n ontspanne vakansiestemming nie. Toe kom die Rit. Ek skryf dit ook met ‘n hoofletter R, soos die Nag hierbo se N. Dit was ‘n Sukkelrit (met ‘n hoofletter S), soos Philip kleurryk kan vertel. Stadig, bitter stadig, het hulle aangekruie Oos-Vrystaat toe terwyl hul motor se enjintjie proes en protesteer. Die petrolnaald val soos ‘n klip. Sowat van petrol suip, het Philip nog nie voorheen gesien nie.

Nance en die twee dogters was nie geïmponeer nie. Vraende kyke, verwyte en vrese dat hulle nooit Bethlehem gaan haal nie, het die arme Philip se lewe heelpad versuur. Net toe hy begin voel hy bereik nou die limiet van sy stamina, hoor die Van Rensburgs meteens ‘n aaklige skeur- en klapgeluid. Toe’s dit al goed donker en in die dowwe maanlig is dit nie dadelik vir hulle duidelik watter lot hulle getref het nie.

Die karretjie bokspring terselfdertyd vorentoe en die enjintoere sak dadelik tot ‘n gemakliker vlak. Die motortjie begin oustryk aanstoot asof ‘n yslike gewig van sy skouers is. “Die blerrie woonwa is weg!” Dit is al gedagte wat deur die stomme man se gedagtes flits. Sy vrou en dogters dag insgelyks en weens die algemene paniek ontstaan ‘n hele relletjie in die motor oor wie se skuld is wat.

Maar nee, nadere ondersoek bring aan die lig die woonwa het nie, soos vermoed, losgebreek en veld-in koers gekry nie. Die koppeling is steeds stewig. Nou wat de ongeluk? Die rede vir die groter beweeglikheid word eers later ontdek. Uit onkunde het my jong kollega die hele pad nog met die woonwa se handrem aan gery! Nou-ja, metaal kan ook net soveel vat. Uiteindelik breek die geteisterde rem los met ‘n knal.

Die rit het daarna darem vinniger verloop, en die petrolverbruik was sonder handrem nie meer so buitensporig hoog nie. ‘n Seën dus dat die spulletjie tog maar liewer die gees gegee het.

Presies wat alles by Loch Athlone skeefgeloop het, onthou ek nie meer mooi nie. Ek weet egter dat Philip verbaas was om in die lig van hul laat aankoms, wat hom betref, ‘n aantreklike staanplek naby die ablusieblok te kry. Hoekom alles dan daardie nag so windskeef was, het hulle die volgende oggend ligdag eers ontdek. Een wiel het gevaarlik in die lug gehang oor ‘n fris rots op daardie kol, wat Philip in die nagdonkerte nie gewaar het nie. Op die een of ander manier het hy die rots, woonwa en al, bestyg.

Toe skeur die hemele oop en dit reën en reën emmersvol dwarsdeur die nag. Nie ideale weer vir onervare woonwamense nie. Soos ek dit egter het, was die ongelyke parkeerplek darem toe op langelaas ‘n beduidende voordeel. Hoeveel ander staanplekke was kniediep onder die water. Die skuins Van Rensburg-waentjie het egter droogvoets daar in die lug gehang. Maar dis ‘n ander storie…

My punt wat ek wou maak, is dat Philip op een reis genees is van enige kerewên-ambisies wat hy gehad het.

Soos my vriend Piet Parlement van wie ek in Praat-praat in Tamatiestraat vertel. Hy’t mos so lank gedroom oor sy eie “karavaan”, en droomvakansies by eksotiese bestemmings. Met ‘n onverwagte erflating van ‘n verlangse niggie kon hy sy droom bewaarheid.

Die eerste aand verloop als volgens verwagting. Die welbehae in die lewe wel dermate in Piet se binneste op dat hy romantiese inklinasies ontwikkel. Gelukkig is die kleinkinders, wat saamgebring is, moeg gebaljaar en gou in droomland. Maar net toe dinge op dreef kom op die klein dubbelkateltjie agter in die verruklike Jurgens-model, skrik enetjie wakker. Toe nommer twee.

“Is dit ‘n aardbewing?” wil hulle bevrees weet. “Oupa, ouma hoekom skud dit so? ”

Dit was ‘n kritieke oomblik in Piet se lewe. Net daar het hy sy smaak vir sy nuwe speelding verloor. Hy’t die Maandag die koerant se advertensie-afdeling gebel en gevra om na die meisie by Woonwaens Te Koop deurgeskakel te word.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page