top of page
  • Uitmelkbos

KENT GIJ DAAI GOGGAS?


Vyande van die Boere , pas op! … Catharina van Rees

“Kent gij dat volk vol heldemoed …?” Heldemoed, ja, maar ook ‘n volk met ‘n paar goggatjies in die kas se houtwerk indien dan nie jakkalsies in die wingerd nie – soos elke ander volk op die aardbol seker ook maar.

Die laaste ruk het goggatjies/jakkalsies soos dié oor Racheltjie de Beer, Piet Retief, Sarie Marais en ander Afrikaanse volksliedjies sensitiewe volksgenote omgekrap. Hulle meen hulle bespeur ‘n moedswilligheid iewers om rofies af te krap met die een of ander sinistere doel. Dis die onheilige werk van ‘n nare klomp “post-moderne joernaliste”, meen ‘n briefskrywer in By.

Die uwe moet dadelik deklareer: Geen sinistere doel hier in Penguin Place, Melkbos, nie. As die soeke na inligting oor die jare her rosyntjies oplewer, is vanD egter ook nie een om daarvoor sy nuusneus op te trek nie. Vreeslik jammer dus as ek op tone trap, maar moet tog maar laat glip: ook oor die liewe ou Transvaalse volkslied hang vrae.

Wie was nou eintlik die skepper van “Kent gij dat volk “? Volgens sommige persepsies is dit van onbekende Duitse herkoms. Volgens die FAK en die meeste bronne is die komponis Cath F. van Rees soos ek in my blog van 11 Oktober, Bring my trug na ou Tennessee, geskryf het.

Cataharina (Cato) van Rees is inderdaad in 1875 deur ‘n vorige studentemaat en mede-orkeslid, die latere president Thomas F. Burgers (wat terloops op sy beurt van die predikantsamp onthef is weens sy “duiwelse liberalisme”) versoek om ‘n volkslied vir die Transvaalse republiek te skryf en te toonset, lees ek.

Sy was ‘n bedrewe komponis en veelsydige musikant. ‘n Maand nadat sy Burgers se versoek ontvang het, het sy op 14 Oktober (vandag presies 137 jaar gelede) twee komposisies aan die president voorgelê. Hy het “Kent gij dat volk” verkies. Tuis het die Volksraad dit as volkslied aanvaar en die Transvalers het dit met oorgawe gesing. Naas die Vierkleur het dit ‘n spesiale status in die lewe van die Boerevolk verwerf.

Ook in Europa het die lied gou bekend geword as die Boere se vryheidslied. Die melodie is oral gehoor. Dit is selfs in verskeie tale vertaal. In die Duitse mars Buren-Marsch is ’n volledige weergawe inkorporeer, tesame met ’n Duitse vertaling van die oorspronklike Nederlandse teks sowel as ’n vryer weergawe daarvan. Dit is moontlik waar die persepsie van Duitse konneksie sy ontstaan het.

Oor die melodie van “Kent gij dat volk” het intussen in ons stamland ‘n al hoe groter wolkie van omstredenheid opgebou. Sekere Nederlandse literêre kritici het gemeen die liewe Catharina het dit by die komponis Richard Holl (of Richard Hol) gegaps. In sekere bronne word sy en Holl (of Hol) saam as komponiste aangedui. Van haar verdedigers het gemeen sy word sommer vals beskuldig. Dis haar militante feminisme wat ook weerstand teen haar as komponis uitgelok het.

(Dit lyk of die heer Holl (Hol) ook ‘n ander melodie of twee vir Transvaal gekomponeer het: Een ieder nasie heeft sijn land / Di vierkleur van ons dierbaar land.)

Catharina was verstaanbaar diep gegrief en bitter oor die Nederlandse polemiek. Sy het gevoel dat haar integriteit aangetas is. As sy inderdaad vals beskuldig is, is ‘n mens se simpatie natuurlik by haar. Hoe sal ons egter 137 jaar later weet!

Naskrif: Die foto hierbo en heelwat van die inligting kry ek by my vriend Ollie Olwagen, ‘n eersteklas-krapper na koringkorrels tussen al die kaf. Hy beskryf haar oulik as die “g‘n-nonsies-Catharina van Rees wat lyk of sy self op aandag staan om die vyande van die Boerevolk te bevlieg”.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page