Die kredietkaart – seën of vloek? Ek weet nie of skole nog debatsaande hou nie, (te “boring”?) maar bogenoemde sou ‘n gawe debatsonderwerp kon wees. Stapels argumente ten gunste albei standpunte is beskikbaar en met die internet net ‘n klik ver, hoef jy nie ver te gaan soek nie.
As ek doodeerlik is, sou ek stem die kredietkaart is ‘n seën – al was ek ‘n laat beginner wat eers as ‘n man van dertig, veertig genoeg selfvertroue kon monster om my geheime “pin” in te tik en met ingehoue asem te kyk hoe die transaksie voltrek word.
Persoonlike wantroue is aangevuur toe ‘n kitsbank in Bloemfontein ‘n slag net begin note spoeg. Die verslae kliënt was skoon verswelg in die geld, maar dit het in strome bly kom. Hy moes natuurlik elke sent opdok en was glad nie gewild by die betrokke bank nie – al was hy doodonskuldig.
Kredietkaarte het in die laaste 50 jaar werklik algemeen begin word. Deesdae is dit een van die moderne mens se onontbeerlikste geriewe. Iewers lees ek die tipiese Amerikaanse gesin dra tien van die goed rond. Kredietkaarte vir kinders is niks snaaks meer nie. Selfs troeteldiere kry toenemend aanbiedings.
Nietemin, wonderlik is dit om net jou kredietkaart te kan uitpluk en die kredietdeure voor jou te sien oopgaan. In die geval van skielike nood kan daardie stukkie plastiek ‘n lewensredder wees. “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?” het ‘n studentemaat graag opgemerk. Nou’s jou Visa of Mastercard jou paspoort – al is jou sitvlak in die betrokke kontrei volslae vreemd.
Maar ‘n vloek is ‘n kaart bepaald vir koop-oliste sonder self-dissipline of as ‘n bedrieër jou beetkry en jou rot en kaal besteel voordat jy snuf in die neus kry. Dis erg om te dink: selfs daardie oulike kelnerinnetjie wat flussies so stout vir jou geknipoog het, versteek dalk ‘n kloonmasjientjie in haar Wonderbra. En trap tog in jou spoor by ‘n kitsbank. Die rampokkers lê daar op loer soos monnik-aasvoëls.
My grootste kaartverleentheid was weens vrot wiskunde. Die liewe mev. D. het op ‘n ongemaklike tyd van die maand op ‘n linne-kopietog gegaan en haar man nie gewaarsku dat daar ‘n dag of twee kredietkomplikasies kon wees nie. Toe leen ek niksvermoedend my seun se bakkie en ry Paarl toe vir my jaarlikse groot drankaankope.
Nodeloos om te sê, met die kartonne vyf-jaar-oud en Roodeberg hoog gelaai op die laaiplank, weier die transaksie om deur te gaan .. en hy weier .. en weier.
Ek kon Tokkie moor, en ek kry nou nog koue rillings as ek aan die verkoopsjuffrou se hovaardige trooswoord dink:”Toe maar, meneer, ons kan die kartonne weer terugpak.”
My antwoord was ferm: “Juffrou, ek het ‘n bakkie geleen vir die okkasie en julle pak nie ‘n enkele karton terug nie!”
Hoe ek uit daardie verleentheid ontsnap het, is nie nou ter sake nie. Detyds had ‘n mens egter nog ‘n bankbestuurder, en myne, Jurie Blom, was ‘n engel in ‘n swart pak. Die insident lê egter vlak in die geheue.
Ewenwel, nou kom ek by my tema van die dag. Dit is hoe die kaartkultuur kleintjies gekry het. Vandag is daar Wildkaarte, Voyagerkaarte, Clickskaarte en watse soort kaarte nog.
In my pensioentrekkers-portefeulje is ook nog ‘n fliek-afslagkaart vir seniors, my siekefonds-kaart, ‘n AA-kaart (darem Automobiel-assosiasie, nie Alkoholiste-anoniem nie!) en dies meer. As dit by die betaalslag kom, moet jy kophou soos ‘n dronk weeluis op ‘n warm sinkplaat.
Op Kroonstad gooi ek brandstof in en bied my “garagekaart” aan. Die joggie bly lank weg. Hy kom kop onderstebo terug: “Haau, oubasie, die masjien wil nie daardie kaart vat nie.”
“Laat ek sien” – dadelik op my perdjie. Maar toe is dit die Ster-Kinekorkaart wat per ongeluk uit die beursie gehaal is.
Gister, eergister laat ek foto’s afdruk en presenteer ewe in my skik my splinternuwe “Kodak Express”-kaart, dag ek. Toe is dit weer my kaart van Naspers se Mediese Fonds.
Tokkie sê onsimpastiek: “Konsentreer, konsentreer.” Sy’s seker reg. Maar mag ek darem hierdie versugtingkie hier slaak dat iemand vir senior burgers bo 65 met ‘n alles-in-een-kaart vorendag kom. Hoe lekker sal dit nie wees nie as ek vir my ete by die Spur, my bloedtoetse, my periodieke fliek en my besoeke aan die Wildtuin nie elke keer vir ‘n ander kaart hoef rond te tas nie?
Die heel beste: as die ouman vergeet het waar hy sy beursie neergesit het (wat ongelukkig van tyd tot tyd gebeur), hoef hy dan net een kaart te kanselleer; nie ‘n dosyn nie.
Комментарии