top of page
  • Uitmelkbos

KATTE-VERSKRIKKERS

Daar is inderdaad meer as een manier om, spreekwoordelik, ‘n kat dood te maak – nie net met ‘n behendige kap of swaai van ‘n graaf soos die tuinman Daniël destyds in Bloemfontein om die bedreiging van die bure se “Snuffels” vir Tokkie se wit duiwe af te weer nie.

Nadat ek in ‘n vorige blog (28/10) my lot bekla het oor die grys kietsie wat luiters hier rondwals en snags op die onheiligste tye die alarm aktiveer, het welwillende bloglesers met ‘n verskeidenheid rate vorendag gekom.

‘n Blikkie tuna wat ‘n week in die son gestaan het, skyn redelik wyd beproef te wees, hoewel die verspreiders van sulke advies ‘n sekere beskroomdheid oor hul identiteit openbaar.

Ander raad behels die aanwending van sitronella-olie op strategiese punte. Katte verafsku glo die reuk. Wel, wel … met sitronella voer ons in die bos die stryd teen muskiete. Ons brand allerlei sitronella-kersies, -fakkels en dies meer, en was selfs met sitronella-sepies. Om te weet van die veeldoeligheid verbreed die kennis. Dankie.

Uit Nederland laat weet ‘n vriendin sy kan onthou dat haar ma in die ou dae in Pretoria “zoopoo” gebruik het om katte uit die tuin te verwilder.

Daardie “zoopoo” koop jy nie in ‘n spuitkannetjie nie. Die prinsipe was dat leeumis huiskatte verjaag, soos party mense hier te lande onwelkome honde met bottels water van hul grasperke probeer hou.

Een of ander slim Koos van der Merwe het die dieretuin-idee gekaap en dit bemark as “Zoopoo” ( lees “Zoepoe”).

Ongelukkig kan die vriendin nie onthou of dit gewerk het nie. ‘n Ander komplikasie is verkrygbaarheid. Ry ek Tygerberg-dieretuin toe met ‘n skopgrafie? En wat as die leeu nie genoeë neem met die versamel-aksie in sy/haar hok nie?

Nou die aand was daardie vriendin Amsterdam toe vir ‘n uitvoering van “Amandla Mandela, the musical”, wat sy terloops nie juis aanbeveel nie.

Sy sien toe in die pouse by Carré hoe hulle duiwe van mure weghou – Amsterdam ‘n groot duiweprobleem (soos sy probleem met die vragte “hondepoep” wat troetel-Wagters op sy sypaadjies deponeer).

Die ondernemende Hollanders weer die duiwe met duiwe- “spikes” – só ‘n strook met lang gevaarlike penne. ‘n Mens kan dit met katte ook probeer, meen die vriendin (en dalk skrik dit boosdoeners terselfdertyd af!).

Moeilikheid is net die verdekselse kat wat die Van D’s vergal, is só ouderwets dat ek wonder of hy/sy nie sulke “Katspikes” (Nederlands) of “Katspykers” sal aansien as ‘n nuttige hulpmiddel om ‘n jeukmaag teen te krap nie.

Gelukkig is daar goeie nuus uit Melkbos. Dalk het die kat geskrik vir die raad wat instroom. Hy/sy loop die laaste paar nagte wye draaie.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page