top of page
  • Uitmelkbos

KAT SE SNOR


Lank en kaal die bolip ….

Snorre is die onderwerp van ‘n radiogesprek oor die motor se luidsprekers. Dis Snormaand en oweral word mos nou allerlei snorre gekweek vir die jaarlikse kankerinsameling. Voorste kwekers – die hardebaarde as ‘t ware – deel met ‘n geamuseerde Martelize Brink van RSG hul wyshede oor die haredossie op hul bolippe.

 Tuis gekom, is ek dadelik spieël toe. Nie dat ek op weligheid aanspraak kan maak nie.  Trouens, die gelaat wat na my terugstaar, vertoon maar ‘n ylerige, spierwit gryse strepie haartjies onder die neus, ‘n beskeie eiendomlikheid wat boonop duidelik fyner sorg met ‘n skerp skêrtjie en ‘n stewige hand verg.       

 Maar dat dit ‘n beleë snor is, is nou maar wors. Die oesjaar is 1957. Ek het in matriek skuins voor die eindeksamen die onderwysers begin aanstoot gee met my entoesiasme om met ‘n wollerige bolip ‘n stelling te maak. Ek het in 1958 as ‘n ienk met ‘n snor by Tukkies opgedaag, en die seniors het my maar laat begaan. ‘n Ou met ‘n snorkannet so bekwaam vuil sokkies was as ene daarsonder.

 My snor is dus juis nou dat die matrikulante eksamenlokale vol sit, ‘n gedenkwaardige 55 jaar oud – seker een van die bejaarder snorre in die Republiek. Die kort onderbreking sou ek liewer wou verswyg.  Dit was in 1977 in Cambridge,Massachusetts, toe ek een oggend met die skeermes ‘n ligte mistykie began. Die ander helfte van snor moes noodwendig ook waai. Rus in vrede. Marisa, toe ‘n tedere drie, het gegril vir die vreemde pa.  Almal wou weet: “What happened to your moustache, Hêni?”

 Daardie kaal bolippie het gevoel of hy van my voorkop tot teenaan my ken strek: die langste, naakste stuk vel op my gesig. Oornag het ek die skeermes weer selektief begin aanwend.  Die snor (snorretjie) het sy herverskyning gemaak. Ek sit ‘n foto van HvD sans snor hierby – so weerloos het min mense in lewe die uwe al gesien.  Aangename kennis, my naam is Hennie van Deventer …..

 Ek is jaloers op die ouens wie se indrukwekkende snorre hulle vir die bynaam “Snorre” laat kwalifiseer. Die bekendste “Snorre” van resente tye moet Peter de Villiers (gewese Springbokafrigter) wees. In die geskiedenis was daar heelparty op die SA toneel – “Snorre” de Jager was in die 60’s (glo ek) nogal ‘n rugbyslot van formaat.  In die Weermag was ‘n welige snor in ‘n stadium amper ‘n soort rangteken.  As ‘n troep ‘n snor sien, salueer hy sommer!  (In Noorweë is natuurlik ook hope ouens met die naam Snorre – baie so kaal-bolip soos hulle in die wêreld gekom het.  Snorre is daar ‘n gewilde seunsnaam en het niks met die status van jou bolip te doen nie.) 

 Dit net terloops.  Die vraag ontstaan: hoekom ‘n snor?  Dat dit jou soenbaarder maak, is waarskynlik ‘n mite, al word in ‘n spreekwoord beweer dat om ‘n man sonder ‘n snor te soen, is soos om sop met ‘n vurk te eet (of iets in daardie trant).  My eie kuservaring, hoewel nie uitgebreid nie, het my onder die indruk gebring dat meisies nogal kielierig kan wees.  

 My snor, moet ek maar bely, het gegroei uit die behoefte om, soos ek bo laat blyk het, as baba van die matriekklas én dan ook taamlik grootdoenerig van nature ‘n uitdagende stelling te maak.  “Ek is amper ‘n grootmens! Whê!” Die snor het my, kortom, soos die kat se snor laat voel.

 Daarna het gewoonte oorgeneem.  Vandag sal ek nie oorweeg om skeermes in daardie kontrei in te steek nie.  As die koel seebriesie so hier op Melkbos opsteek, kan ‘n ou se bolip dalk so koud raak dat dit wegkrimp soos iets anders van daardie Weskusser wat nou die dag in Die Burger oor die watertemperatuur gekla het.

 Of grootte tel of nie tel nie, is op ‘n ander terrein ‘n onderwerp van debat, amper soos: Wat is die magtigste –   die pen of die swaard?  Op grootte (van snor) kan ek ongelukkig nie aanspraak maak nie. Maar daardie nederige snorretjie is ekke.  So sal ek bly tot my laaste asem vir laas die haartjies roer … of totdat ‘n warkop-verpleegstertjie wat verkeerd geluister het, dalk ook eendag ‘n ligte mistykjie maak oor waar aan my lyf sy my vir die teater moet voorberei.     

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page