top of page
  • Izak de Vries

Kassie besoek die Sexpo

Helaas. Ek en my ou pel Kassie was die ander dag by die Sexpo. Die hele ding was ons pel Madlala se idee. Madlala wou gaan tips vang. Ek en Kassie was gewoon nuuskierig.

En so sak ons daar in. Madlala het eers gaan kyk na die Volkswagens wat daar uitgestal staan. Mooi, blonde, maar ten volle geklede vroue is besig om suggestief bakke oop te maak, deure te laat oopgly en saggies te fluister hoeveel hulle jou sal afgee as jy nou teken ...

Ons los vir Madlala en val in agter ’n ry meisiekinders in wat stokkielekkers suig. Mmm.

’n Honderd rand later (wat elkeen van ons moes neersit) is ons binne.

Ons draai links. Die kosstalletjies doen goed, maar Kassie se vrou het ons gewaarsku om eers eet voor ons die wêreld van seks aanpak.

By Mavericks sit die mooiste meisies. Almal te koop. Ek soek hulle oë, maar hulle kyk af, loer skelm en buig oor om ’n glasie sjampanje aan te bied. Pragtige borste flits terwyl sy vorentoe buig, maar ek sê nee.

Kassie is reeds op pad na die volgende stalletjie toe. “En?” vra ek.

“Voel jammer vir hulle. In die ou dae het ons slawe hier in die Kaap uitgestal.”

“Dié girls het darem ’n keuse, Kassie.”

Ons is dit al lankal eens dat prostitusie nie maar gewettig moet word, want dis die heel beste manier om die meisies te beskerm.

In Nederland kan jy hulle op die internet bestel. “Plassen? Nee. Anaal. Ja. Kussen? Nee.”

Onderklere. Gay pride. Eetbare kondome.

Aborsieklinieke. Hello! Hier is ’n meisie besig om haarself teen ’n paal te skuur. Suggestief wikkel sy haar boudjies, saag die paal en druk ’n stokkielekker tot agter in haar keel.

Haar aksies is perfek, maar verveeld. Stukkie vir stukkie trek sy meer uit, maar haar gesig bly passieloos.

Madlala kom aangebons. Hy is opgewonde. Daar is niks wat ’n man so warm maak soos ’n mooi kar nie. Hy ril. “Die Eos stoot 147 kW uit!”

Vir een kort oomblik buk die meisie vorentoe en trek die laaste stukkie lap tussen haar bene uit. ’n Groot gejuig gaan op en die manne druk deur na die drankstalletjies toe.

Madlala loop op lug. Hy babbel oor die Eos se sesspoedratkas. En weg is hy.

Vibrators. Hopelose kuns. Dildo’s. DVD’s.

Ek raak verveeld.

“Luister,” sê Kassie. Ek luister, maar hoor niks besonders nie.

Kassie grinnik groot. “Luister mooi. Afrikaans!”

En wragtig. Om ons is hulle: Afrikaanse omies met snorre, en aan hulle arms is Afrikaanse tannies met gepermde hare.

Wragtie! Nou grinnik ek ook. Om my staan omies en tannies wat so oud is soos my pa toe hy dood is. Ek sweer hy sou ook die Sexpo geniet het, maar hy sou te skaam gewees het om dit te erken.

Ou Kassie lyk asof een van die Teasers girls vir hom lap dance aanebied het. “Moer,” sê hy. “Dis lekker om vry te wees. Dink net watter blommerangskikkings ou PW in die saal sou wou sien!”

2 views

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page