Kaptein Kevin Oprey – regs agter die “preekstoel” in sy skip se grootste teater, die Royal Court.
‘n Geliefkoosde beeld van ‘n koerantredakteur in die ou tradisie was dat hy kaptein van die skip is. Sy vinger was op die pols. Hy het die besluite geneem, die praatwerk gedoen en na binne en buite die verantwoordelikheid gevat.
Kaptein Kevin Oprey van die Queen Mary 2 is so ‘n kaptein. Iemand wat dadelik vertroue inboesem. Geen gevaar dat die skimmelgrys Engelsman soos ‘n berugte Italiaanse eweknie in ‘n krisis ter see (“per ongeluk”) halsoorkop tot in ‘n reddingsboot sou “struikel” nie!.
Die vaart het pas begin toe ‘n tegniese probleempie opduik. Die reuseskip was skielik pikdonker. Hysbakke het tot stilstand geknars. TV-skerms was swart. ‘n Situasie wat senuagtige passasiers nogal kon onstel. Hierdie kaptein het ons nie lank laat wonder nie. Oombliklik het die rustige stem van die brug af oor die dertien dekke gespoel: “Net ‘n klein probleempie. Bly kalm. Ons ingenieurs vat dit gou vas.” Hulle het. Sommer gou-gou.
Daardie rustige stem het jy elke dag gehoor. Minstens een keer. Presies om 12:00 het die kaptein van dek 12 af van die gesofistikeerde brug (amper 50 meter breed) kortliks verslag gedoen. Wat is die presiese posisie van die skip? Hoe vinnig vaar ons? Hoe lyk die weer? As jy hoor “dis die kaptein wat praat”, het jy alles net so gelos en respekvol geluister. Selfs die energieke tafeltennisspelers by die Pavillionswembad op dek sewe! Dis die gesag wat die man uitstraal.
Net ná Mauritius is besluit om vinniger aan te stoot Fremantle toe vir “noodsaaklike instandhoudingswerk”. Ons sou ‘n dag vroeër by Perh aankom, waarskynlik om die kinkel in die kragnetwerk te laat uitstryk. So het ons geraai. Kaptein Oprey het die verwikkeling en die implikasies oor die uitstekende klankstelsel breedvoerig verduidelik – helder en volledig. Die aand was ‘n brief oor die onderwerp op elke kopkussing. Die trant was gesellig en positief. Passasiers kon dadelik na die ekstra dag aan land as ‘n bonus begin uitsien. Bykomende ekskursies sal dadelik gereël word, is belowe.
‘n Model van voortreflike kommunikasie.
Kaptein Oprey is verreweg nie net ‘n prater nie. Hy bring ure deur op die reusebrug, die skip se elektroniese hart, wat 24 per dag deur minstens twee waaksame offisiere beman word. Maar hy word ook op die regte tye op die regte plekke gesien. By elke noodoefening vir die bemanning is die kaptein die hoogs sigbare gesagsfiguur; dan op dié dek, dan daardie een. Sy passasiers se veiligheid en die voorbereidheid van sy bemanning weeg duidelik by hom swaar. Die oefeninge is nie vir hom sommer net ‘n formaliteit of selfs ‘n beslommernis nie.
Wat Christen-passasiers geweldig waardeer het, is kaptein Oprey (of sy adjunk) se leiding by die interdenominasionale kerkdiens elke Sondag in die “Royal Court”-teater. In sy melkwit uniform was die gesagvoerder ‘n imposante figuur op die podium. Die diens was kort, kragtig en inspirerend. Aan die einde is die tradisionele seemanslied, lied 25, gesing, met begeleiding deur een van die skip se drie pianiste om die beurt:
“Eternal Father, strong to save/Whose arm has bound the restless wave/Who bidd’t the mighty ocean deep/Its own appointed limits keep/O hear us when we cry to thee/For those in peril on the sea…”
“For those in peril on the sea.” Jy het daardie woorde uit volle bors saamgesing. Jou hart was aangeraak.
‘n Finale indruk is dat kaptein Oprey ‘n gemoedelike mens is, maar ook kan ferm wees. Hy is duidelik nie ‘n man wat doekies omdraai nie. Toe die Suid-Afrikaanse doeanespan in Durban laat opdaag en die passasiers verontrief, is die roede nie gespaar nie.
Waarvan hy niks hou nie, is dat mense hul vaart op die Queen Mary beskou as ‘n “cruise”. Nee, sê kaptein Oprey, die QM2 is geen “cruise ship” nie, dis ‘n “ocean liner”, gebou vir die diepsee. ‘n Vaart op sy skip is g’n “cruise” nie, dis ‘n “voyage”. Onthou, asseblief!
‘n Besonderse man. Maar ek oordryf darem. Geen mens – selfs geen redakteur of skeepskaptein – kan immers vir absoluut alles verantwoordlikheid vat nie.
Een middag loop ons kaptein Oprey by die hysbak op dek ses raak. Hy groet vriendelik en vra uit: “Geniet julle die vaart?” Ja baie, antwoord ek. Maar kan hy nie darem iets aan die weer doen nie? Dit is nou al ‘n paar dae grys en grou.
‘n Skewe glimlag verskyn op sy gesig. “No, I drive the ship, the guests provide the weather!”
* Kaptein Oprey is in die omgewing van Southampton gebore en is van kleins af deur skeepvaart gefassineer. Sy loopbaan tot heelbo lees soos ‘n storieboek: van jong navigasiekadet tot aanvoerder van Cunard se kampioenskip, Hy en sy vrou, Cheryl, woon in Warsash aan die suidkus van Engeland. Hulle het twee (mooi) dogters, Karen en Danielle. Hy speel ‘n potjie gholf. As hy ‘n kansie kry, vat hy graag sy eie seilboot uit op die water. As dit in jou bloed is, is dit in jou bloed.
留言