top of page

KAMERA-KNAPE


In sy aandgebedjie vermeld ons kleinkind Thomas gereeld kindertjies wat, na sy oordeel, die een en die ander ontbeer. Daardie aand in Sabiepark bid hy toe voor slapenstyd onder andere ook “vir kinders wat nie kameras het nie.”

Ouma merk tersluiks op: “Hy kan liewer bid vir die oupas en oumas van kinders wat kameras het!”

Jacob en Thomas het kameras, klein digitale Canons. Dit was hul Kersgeskenk, en hulle is met hul nuwe speelgoed om die nek saam Sabiepark toe om die diere te gaan afneem.

Hulle neem af en neem af – alles wat beweeg en nie beweeg nie. Oupa en ouma moet net maan: “Julle het al sebras”, of: “Hoeveel vlakvarke wil julle nog afneem?”

Elke dag is dit ‘n wedloop wie die meeste kere die knoppie kan druk. As een agterraak, begin hy

net lukraak links en regs foto’s neem om die agterstand in te haal.

Die uitvee van oortollige foto’s word ‘n deel van die daaglikse roetine. Die taak is in omstredenheid gehul en botsende standpunte word opgewonde gestel.

Maar die kordate knape met hul Canons begin algou verras. Op die eerste, tweede Wildtuintog kry ons renosters en buffels op die Doispanepad. Die kinders se foto’s steek nie juis af by oupa s’n met sy kanonlens nie.

‘n Dag of twee later kry ons wildehonde naby die Transportdam. Hulle draf op die teerpad in ons rigting. Die Canon’tjies klik aanhoudend.

Op pad huis toe glip ‘n luiperd oor die pad op die rivierpad, die S3. Amper mis hulle hom omdat die fokus ietwat lank neem. Maar hulle mis hom nie.

Olifante is skaarser as gewoonlik, maar die ou bosreuse kry ons ook uiteindelik in die Renosterkoppies-omgewing.

Ons kry renosters amper om elke hoek en draai; ons kry selfs ‘n tweede keer die troppie wildehonde, maar leeus bly ontbreek. Die spanning laai op.

Ek begin aanvaar die kinders gaan nie die Vyf Grotes hierdie vakansie afgeneem kry nie.

Die laaste dag ry ons via Renosterkoppies Malelanehek toe. Iewers in daardie labirint van grondpaaie gewaar ek by ‘n kruising ‘n motorgewoel – ook een van die groen safarivoertuie met sy vrag toeriste. Ek druk die Honda se neus daar in.

“Leeus”, roep Tokkie. Soos mes het die kinders hul kameras uit die rugsakkies in die kattebak en begin neem. ‘n Jong maanhaar verrys uit die koelte en wys tande. Die Canons werk oortyd.

Op die foto bo is Jacob se wildehond en Thomas se leeu. Ek kon nog vele wenners gewys het.

Julle kan dink hoe voldaan is oupa. Sy een boek se titel is nie verniet “In Kamera” nie. Dis ‘n informele biografiese boek aan die hand van die foto’s in my pakke en pakke foto-albums. Saterdag op die viering van my 70ste het ek vir elke gas ‘n eksemplaar gegee.

Dink net hoeveel albums gaan die tweeling nie op 70 he nie as hulle reeds op die tere ouderdom van ses fotografie as een van hul stokperdjies kies.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page