top of page
  • Izak de Vries

Kaffermeid en die aanval op Minister Oliphant

Ek het verlede jaar ’n ou, blinde tannie ontmoet in ’n kerksaal in Athlone. Haar naam is Kaffermeid.

Jip.

Ek het Saterdagaand eers haar storie gehoor en dis een van daardie gevalle wat ek móét neerskryf.

Sy was nie altyd blind nie. Sy en haar tweelingsuster is siende gebore. S‎ý is egter as “huisslaaf” aangehou op ’n plaas daar in die Prieska-distrik.

In daardie dae is huismense ingebreek. Soos perde. Hulle is “na die hand geleer” en slae was deel van die opleiding. Liederlike slae. Lees André Brink. Van die goed wat hy skryf is grotesk, maar ek het al heelwat van sy bronne nagelees en ... eish, dis histories korrek.

Terug na die vrou met die naam Kaffermeid. Sy is só jonk aan die plaasmense oorhandig dat sy haar eie naam vergeet het.

Sy’s Kaffermeid genoem in die huis, en dis die enigste naam wat sy ken.

Eendag het ’n loesing te ver gegaan. Sy kon daarna nooit weer sien nie.

Die oplossing van die plaaseienaar? Sy’s in ’n motor gelaai en Kaap toe gebring. Hier is sy afgelaai en aangesê om te wag.

Sonder om te kan sien, sonder om ’n idee te hê waar sy was, het sy van die oggend tot laatmiddag gewag. Toe het ’n “Slamse vrou” (so het die verteller gesê) gekom en met haar kom praat. “Ek wag op die baas,” het Kaffermeid gesê.

Die Slamse vroue het gou besef wat aangaan, vir Kaffermeid huis toe geneem, van kos en water en basies toiletgeriewe voorsien en haar tuinman aangesê om te gaan wag om te sien of die baas sou opdaag. (Hy het natuurlik nie.)

In daardie dae was die term kaffermeid so alledaags dat die nuwe gesin waarby sy tereggekom het, haar ook so genoem het. Geld kon hulle haar nie gee nie, maar in ruil vir kos en slaapplek, het sy hulle wasgoed begin was.

Die tuinier het haar jammer gekry en begin uitvra. Hy het ook konneksies gebruik en probeer uitvind waar sy vandaan kom. Haar eie kennis van geografie en haar eie mense was bitter gebrekkig, maar sy wis van haar sussie en kon darem ongeveer sê waar die plaas was.

Van hulle kant af het die gesin ook begin vra. Pynlik – oor maande heen – het boodskappers nuus uitgeruil.

Intussen het die tuinier begin om elke maand van s‎ý karige salaris ’n knertsie af te knyp en aan Kaffermeid gegee. Daarmee het hy dan vir haar die nodige toiletware en klere gekoop wat sy benodig het.

Hulle het die gesin opgespoor en die tuinier het Kaffermeid vergesel om na ’n punt te gaan waarheen ’n familielid van die gesin gekom het om te verifieer dat Kaffermeid inderdaad die verlore persoon is.

Via dié familielid is ’n boodskap aan haar gesin gestuur: Die tuinier het besluit om met Kaffermeid te trou.

Tog is aan my vertel dat dié tuinier, wat tot met sy dood baie mooi vir haar gesorg het, van die begin af gesê het: “Ek trou met haar uit jammerte, nie oor liefde nie.”

* * *

Nee. Dis nie ’n kortverhaal nie. Dis die reine waarheid. Die tannie leef nog. Vandag, in die jaar 2011, antwoord sy nog steeds net op die naam Kaffermeid.

* * *

Bogenoemde verduidelik deels hoekom vakunies so sterk staan op “decent jobs”. (Sien die hele artikel hier, as julle nie al gelees het nie.)

Ek stem glad nie saam dat enige werk benede ’n persoon is nie. Maar as ons bogenoemde geval in ag neem – en ek weet van ander ook wat dalk nie so opspraakwekkend is nie – dan kan ’n mens begin verstaan waarom die woord “decent” in die prentjie gekom het – en dis ook hoekom minister Nelisiwe Oliphant nou ook die woord “decent” begin gebruik het.

Ek vrees ons het produktiewe werkers nodig – wat ENIGE werk sal doen. Broodnodig. Tans is die buitelanders gewillig om harder en deegliker te werk as Suid-Afrikaners wat met ’n siek vorm van entitlement in hulle koppe rondloop. Maar ek kan nie help nie om saam te stem met die minister dat daar basiese, basiese goed moet wees om werkers te beskerm.

0 views

Recent Posts

See All

コメント


bottom of page