
Witnek, Sabiepark se gryse duiker, minus ‘n horing wat hy in ‘n geveg verloor het.
Om ‘n bok te skiet, is om ‘n leuen te vertel, aldus JL van Schaik se uiters nuttige Afrikaanse Spreekwoorde en Uitdrukkings.
‘n Leuen? Dis darem ‘n baie harde en brutale uitspraak, meen ek – ook na aanleiding van die duikertjie wat in my eie bokkie-bloggie hieronder sommer ‘n impala geword het (of andersom).
Nietemin, genoeg gewroeg en genoeg boete gedoen oor daardie “ligte mistykie”.
Hier’s ‘n ander soort bok-skiet-storie wat hopelik ‘n glimlag sal uitlok:
‘n Omie met iets in die 80 jaar onder die belt, besoek sy huisdokter vir ‘n roetine-ondersoek. Dit gaan uitstekend met hom, lig hy die dokter in. Hy het nog nooit hupser gevoel nie. Sy 21-jarige bruid is juis swanger met sy kind. Wil gedoen wees, nê!
Die dokter gaan maar rustig voort met sy stetoskoop en goeters. Toe hy klaar is, sê hy hy wil vir die omie ‘n storie uit die jagveld vertel. Sy een vriend is ‘n kranige jagter. Op ‘n dag is hy baie haastig. Hy gryp toe sy sambreel pleks van sy geweer, In die veld gewaar hy skielik ‘n duiker agter ‘n bos. Hy lig sy sambreel. Kaboem! Daar lê die duiker.
“Met die sambreel, dokter?”
“Met die sambreel.”
“Onmoontlik,” sê die omie. “Iemand anders moes daai duiker geskiet het.”
“Presies,” sê die dokter.
Comments