top of page
  • Uitmelkbos

KAALMOLESTE: HELE STORIE

Kaalbas-kirpatse, badkamermoleste, natlyf-neukery – noem dit wat jy wil. My en Tokkie se ervaring onder die ligte sonder ‘n draad klere aan ons lywe word in die rubriek “Blaaskans” in die jongste Huisgenoot vertel. Die titel: “Badkamerblaaskans. “

Vir “Blaaskans” word ‘n mens se storie egter in vaste formate gegiet – deesdae is dit 950 woorde om plek te maak vir ‘n illustrasie (wat darem nie ekke is nie!). As iemand die onverkorte weergawe wil lees met al sy kinkels en nadraaie – hier volg hy:

Om die volle omvang van my en Tokkie se penarie te begryp, moet ek verduidelik hoe die eerste eienaars van Penguin Place 11 die sogenaamde en-suite-badkamer aan die primêre slaapnessie se uitleg geprakseer het.

Die fokuspunt is ‘n skewe hoekvenster met ‘n westelike ruit wat plus-minus parallel met die tuinmuurtjie aan die straat se kant loop. In die hoek, knus teen die venster, is ‘n ruim bad. Die krane sit half after die rug van die ingesetene wat venster toe front. Dis tradisioneel die vader des huises se plek.

Wanneer Tokkie eerste in die bad is, soos dikwels, skuif sy altyd bedagsaam eenkant toe om vir my plek te maak, met my lyf, soos hulle dit stel, “oopketel” in die rigting van die venster en die straat.

Hierdie Saterdagaand verloop alles volgens neergelegde prosedures en praktyke totdat ‘n soeklig deur die ruit priem – direk op my onbeskutte onderlyf, voel dit. Ook mev. Van D. versteen, want, sonder om onnodige detail te verskaf, sit sy (weens strukturele redes) in so ‘n posisie dat haar profiel ongetwyfeld deur die onwelkome lig as’t ware soos in ‘n kunsfoto geaksentueer word.

Soos meerkatte het ons gesit, het sy verskeie proesende vriendinne later ingelig. Soos springhase, was eerder die beeld van ons ongemak wat by my opgekom het. Die spesie van die betrokke fauna is egter nie ter sake nie – wel die instinktiewe verlamming wat haas of kat in sodanige scenario te beurt val.

Tokkie kry eerste haar stem terug. “Hulle lig op ons!” Die inligting is so buitengewoon dat ek verwilderd sukkel om dit te verwerk. “Hulle staan op die sypaadjie en lig op ons,” brei sy op haar eerste bondige aankondiging uit. Met my steeds sprakeloos, my hand beskermend abdominaal oopgesprei, gaan sy toe tot aksie oor. Sy vloog uit die water met ‘n blink boog.

Eers op daardie oomblik kom my stem terug: “Pas op!” Skielik lyk dit onheilspellend of my vrou haar nou ten volle in die kollig bevind, soos ene Carmelita een bewoë aand in ‘n berookte teatertjie in Hamburg op ‘n mannebesoek in roekeloser dae.

Die bleddie lig, of te wel, die skerminkel met die bleddie lig, reageer op die bewegings anderkant die ruit met ‘n vinnige herberekening van posisie, om maar ‘n uitdrukking by die GPS-meisie te leen. Die lig swiep heen-en-weer, lyk of dit nader kom en groter word, en fokus dan op die kol waar T. blitsig van die ergste nattigheid staan en ontslae raak.

“Trek aan, trek aan,” moedig ek uit my hoekie aan, want die gedagte aan die intieme waarneming wat die volslae vreemdeling waarskynlik te beurt val, bring my ingebore besitlikheid in opstand.

“Gaan kyk gou by die slaapkamer se venster,” neem ek met skielike selfvertroue bevel van die operasie oor. Waaragtig, woerts swaai die lig agterna. Momentele donkerte sak in die badkamer toe. Dadelik is ek toe ook rats op my linkerknie en met een vergeet-van-die-heup-sprong by die onheilsvertrek uit.

Waarom iemand met ‘n moerse lig op ’n Saterdagaand, met Willem Pelser se “U Eie Keuse”, wat net mooi na die advertensiebreek weer begin spoed kry op RSG, ons privaatheid (sekerlik dan ook ons grondwetlike regte en dies meer) kom skend, is ‘n tergende raaisel. Wel is ek oortuig dat sake ver van pluis kan wees en dat die motief, tot dusver verborge, bepaald nie op enige verhewenheid aanspraak sal kan maak nie.

Toe Tokkie haar vinnig in die naaste kamerjas (myne, nie hare nie) inwurm en afsit voordeur toe, besef ek egter ek moet agterna – kan haar darem nie vrou-alleen die onbekende gevaar laat trotseer nie.

My groter lyf word in haar kleiner kamerjassie toegewikkel, as toegewikkel in die konteks die beskrywendste woord sou wees. ‘n Versigtige paar tree agter my hoogs gemotiveerde vrou mik ek ook deur toe vir ‘n inspeksie ter plaatse, of wat die polisie dit ook al noem.

Die lig skuif saam, en die gedagte ontsnap my nie dat TvD met haar deurmekaar haredos in haar eggenoot se te groot kamerjas bepaald in die deurdringende lig van die vreemdeling se flits ‘n verwonderende indruk moet maak. Hoe my verskyning langs haar in haar jassie daardie indruk noodwendig negatief moes beïnvloed het, laat ek aan die verbeelding oor.

Nietemin, my vrou is nie een wat vir vreemdelinge met sterk kolligte op Saterdagaande by Van Deventer-eiendom ingaan nie. “Wat soek jy?” eis sy ‘n verduideliking vir die verwikkelinge by haar badkamervenster. In haar stem bespeur ek ‘n klank wat ek, uit ervaring van 45 gelukkige huweliksjare, as dreigend herken.

‘n Lang storie ontvou, en verbeel ek my of hoor ek ‘n kwalik onderdrukte lag in die streng stem? Ons motorhuis se deur is wawyd oop, blyk dit. Dit, maan die stem, is ‘n resep vir moeilikheid en ‘n uitnodiging vir nare elemente. Natuurlik.

Gelukkig bestaan die buurtwag. Gelukkig was ons daardie Saterdagaand op sy roete. Maar ongelukkig het sy herhaalde lui van die klokkie op dowe ore geval. Die slaapkamer is in die verste hoek, die binnedeur was al agter slot en grendel en Willem Pelser se musiek was harder as gewoonlik om dit met die geplas van twee lywe te laat meeding.

Daarop haal die engel in buurtwag-gewaad toe sy lig uit – en, skelms, neem gerus maar kennis, dis ‘n meneer! Ons ridder bly ingeplant by die hekkie met sy toorts totdat “die oom die motorhuisdeur gaan sluit het”.

Hoe diep die stomme “oom” daarna in die warm water was – en nou nie in die dubbelbad in sy eie badkamer nie! – is ‘n ander storie. Want hierdie keer was (oeps!) nie sy eerste misstap t.o.v. die vername sekuriteitstakie nie. Voel soos gister toe ‘n netjiese jong boerseun (klaarblyklik) ons ‘n vorige keer om 01:00 wakker gelui het met die nuus: “Jul waenhuis (sic) se deur staan oop!”

Ek is geleer om altyd die positiewe uit enige ervaring te haal. Hier is sommer twee positiewes uit die insident met die lig op ‘n Saterdagaand by ons huis op Melkbos. Een is dat ek, sonder seep of water, so hardhandig die kop gewas is dat ek nie sommer weer die “waenhuisdeur” oop sal vergeet nie. Die tweede is dat ek nou proefondervindelik weet ons kan maar bad sonder om die hortjies te laat sak. Nogal gerusstellend.

Met my polisieflits in die hand geklem, is ek net die volgende aand na buite om die badkamervenster uit elke hoek te bespied. Ek kon dankbaar rapporteer dat die geriffelde glas in alle omstandighede doeltreffende privaatheid verseker.

79 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comentários


bottom of page