O gonna, Tamatiestraat (wat uiteindelik gister verskyn het) bevind hom nou in gevaarlike geselskap, lyk dit.
Die gifpyle vlieg om die kop Van Griffel Media (uitgewer van Tamatiestraat, en ook my vorige pennevrug, Byl in my Bos). Gelukkig is dit darem, nie oor die HvD-boekies nie, maar ook Griffel se glanstydskrif Pomp 11 wat ook in hierdie dae sy buiging maak.
’n E-pos veldtog is in die omloop waarin Pomp 11 beskuldig word dat hy op sy voorblad “die vrou tot ’n verbruikersartikel verlaag”.
Kerkbode word karnuffel omdat ‘n advertensie van Griffel op Kerkbode se webblad verskyn. Op grond van onverwante webwerwe word die arme Griffel en Kerkbode sommer deur boses aan kinderpronografie gekoppel, wat darem baie vergesog is! Die uitgewer van Griffel, Hendrik Venter, noem die onsinnige bewerings tereg “onverantwoordelik, domastrant, lasterlik en ’n leuen”.
Op die omstrede omslag van Pomp 11 verskyn ‘n skildery van ‘n nooientjie wat a la die ou-ou Afrikaanse liedjie gaan water haal daar onder by die dam, maar dan, anders as in die liedjie,
slegs met ‘n Voortrekkerkappie op die kop!
Venter betoog “die naaktheid van die meisie simboliseer die emansipasie van die Afrikanervrou … ’n simbool van die durf, deursettingsvermoë en sterk karakter van die Afrikanervrou”.
Ek gaan nou hier ‘n geheimpie verklap oor Tamatiestraat, en sal dit dan maar op die kinnebak vat as dit kom. In Tamatiestraat is naamlik ook ‘n mooi kaal meisie. Sy draf met net ‘n fladderende waslappie voor haar naaktheid totaal onbeskermend uit ‘n badkamer. Of sy ook die “durf en emansipasie” van die Afrikanervrou simboliseer? Nee, dit sal ek nie beweer nie. Sy’t net vrek groot geskrik toe die aarde skielik om haar begin rammel, skud en skeur terwyl sy in ‘n vreemde huis in ‘n warm bad ontspan.
Die arme kind was nou ferplie kaalbas in Tamatiestraat!
Sensitiewe lesers hoef nie te vrees dat ‘n foto van die Tamatiemeisie in die oomblik van haar haar vrees en verleentheid in my boekie verskyn nie. Haar verskyning in gemengde geselskap was glo net momenteel. Die volgende oomblik was die ligte af in die chaos van die aardbewing wat haar paniekbevange uit die bad gedwing het. Selfs die huisbaas kon later nie mooi onthou wat hy gesien het of nie gesien het nie – of so het hy beweer.
In elk geval, lees liewer self die boek . Dalk is daar ook ‘n paar ander verrassings aan die kaalnooi-front. Maar niks stout foto’s nie, hoor! (HvD)
* Praat-praat in Tamatiestraat sal binnekort op die rakke van boekwinkels wees (ook die CNA), en natuurlik by Kalahari, On The Dot en so. Hy kos R160,00. Die boek kan ook direk bestel word by Boekblik by die volgende skakel:
My lojale vrou, Tokkie, meen dit sal ‘n oulike Kersgeskenk wees, maar natuurlik nie vir my nie, omdat ek die inhoud ken. Ek het hoeka nuwe naskeer nodig.
Comments