top of page
  • Uitmelkbos

KAAL IN DIE KERK

As matriekseun moes ek drie keer buk vir my laaste, my heel laaste, en my heel-heel laaste pakke slae. Een keer was nogal oor ‘n persoonlike mode-rebellie; die ander twee kere oor uit die koshuis glip vir rugby en vir fliek, laasgenoende in die matriekeksamen,

One o’ clock, two ‘o clock, three ‘o clock, rock – Bill Haley en sy Comets. Lekker!

Die klerekonfrontasie is vir die doel van hierdie skrywe relevanter. Ek is die aand eetsaal toe met ‘n krawat. ‘n Dasvereiste het gegeld. Mnr. Jack Slabber het daardie uitdaging van die klerereëls van Volkies se Jack Pauw-koshuis op die goeie ou Potch nie met welgevalle bejeën nie.

Hy het my dasloosheid as “onordentlik” bestempel, en ek het entoesiasties van hom verskil.

Uiteindelik is ek kamer toe gestuur om my “ordentlik” te gaan aantrek. Ek doen dit toe met mening, en keer terug in my blou dubbelborspak, beste Sondagdas, die lot. Die eetsaal dawer. Mnr. Slabbert – hy leef nog, meen ek, maar is al diep in die 80 – word al hoe rooier in die gesig en wys my opnuut die deur.

Ek is daar uit, direk grootpad toe en ryloop toe na my ouerhuis op Klerksdorp (in 1957 was ryloop algemeen), waar ek voorspelbaar nie met ope arms ontvang word nie. Die Saterdag word ek agter in pa se Chevvie Fleetmaster geboender. Die hoof, dr. H.F.B. Muller, ‘n suur vent, wag grimmig in sy kantoor, rottang in sy hand….

Hoekom ek die hierdie storie opdiep? Wel, dis omdat ek iets oor die jeug se respek vir klerereëls op die hart het, en nie wil waag dat iemand my uitvang oor die geraamte in my eie kas in dieselfde verband nie.

Kom ons kry dit dus dadelik agter die rug: mea culpa – ek is ook skuldig. Ja, ek was maar goed moedswillig met die alewige dasdraery, en sal dus skynheilig wees as ek geen begrip vir jeugdige uitdagendheid teen gedwonge konformering openbaar nie.

Maar Hennie die haantjie moes op sy neus kyk – dit was die groot verskil met my pyn van die oomblik. Destyds kon jy ook die reëls uitdaag, maar gewoonlik teen ‘n prys. Vinnig-vinnig het die reëls gewen en jou agterwêreld gebrand.

Vandag is dit vir my of dinge half agterstevoor verloop. Die klererebelle is die oorwinnaars. Trouens, hulle word deur misleide gesagdraers subtiel en onsubtiel aangemoedig om selfs uitdagender te word en hulle al hoe minder aan reëls of standaarde te steur.

By die kerk is die kinders se kleredrag werklik vir die ou gryse ‘n bron van misnoegdheid. Seuns en meisies daag op in klere wat ek liewer nie sal waag om te probeer beskryf nie, buiten om te meld dat dit vir my, en ander ouer mense, soms maar uiters-uiters on-kerklik voorkom.

Ons verwag nie meer dubbelborspakke en dasse of sykouse en lang rompe mie. Maar onstigtelik is dit darem bepaald, soos die meisies gleufies en kaal magies (met naelringetjies) vertoon en die seuns se broeke dreig om oor die heupe grond toe te sak.

Selfs by die formeelste van formele okkasies op die kerkkalender soos Belydenisaflegging en nagmaal lyk die jongklomp meermale eerder na ‘n vrolike spannetjie pretmakers by ‘n informele tiener-uithangplek.

By ‘n onlangse nagmaal het graad 11’s en ouer kinders die brood en wyn uitgedeel. Mooi kinders, oulike idee. Maar mooi aangetrek? Moenie glo nie. Skynbaar was die strewe om so min as moontlik na pligplegers by die viering van die gewyde sakramant te lyk – eerder of hulle toevallig daar opgedaag het.

Die vrolike uitrustings van die spannetjie “informele diakens” is afgerond met ‘n bonte variasie op die tema plakkies – van daardie soort wat jy op die strand aanslof. Dat daar hoegenaamd plakkies aan hul voete was, was egter iets waaroor ons moet dankbaar wees, hoor ek. Dominee het laat glip die plan was oorspronklik om kaalvoet die kerk se gange in te vaar.

Klerekodes geld tog oral – mag jy byvoorbeeld kaalvoet gaan fliek? Of uiteet? Sekere restaurants sal jou gou die deur wys as jy die standaarde te ver probeer oorskry. Party het selfs stelle “moets en moenies” by hul deure opgeplak.

Hoekom is reëls hier aanvaarbaar, maar by die kerk taboe? Dáár “dryf dit jongmense weg,” soos ‘n besorgde leraarsvrou eendag iewers opgemerk het.

Wat die uwe ook nie begryp nie, is waarom kinders hulle vir okkasies soos matriekafskeide en sekere uitspattige partytjies so duur en deftig wil uitvat, maar vir die kerk wil hulle so “kasueel” as moontlik kom – in stranddrag as ‘t ware.

Ag, ek weet ek soek om gebrandmerk te word ….. ‘n regte Koos uit die oude doos, en dies meer. Maar ek wou dit van die hart kry en nou het ek … en voel ek ook sommer minder beswaard.

Meen, waarheen is ons op pad as ouer mense te bang is om vir voortvarende kinders sekere strepe te trek?

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page