top of page

JUWEELMENS VAN A TOT Z

Uitmelkbos


Links: By Oom Barnie se 70ste in 1994. Regs: Swanie Human (nee Swanepoel) in die 40’s.

Vergeet ons so gou?

Die vraag kom by my op toe ek vanoggend die volgende boodskap van ’n vriend en oud-kollega, Sarel Venter, uit Bloemfontein ontvang: “‘n AVBOB-kennisgewing by die geklassifiseerde advertensies is al wat Volksblad-lesers vanoggend inlig dat Swanie Human oorlede is en Woensdag begrawe word.”

Dit ruk ‘n mens. Sy was so ‘n vorstelike dame met soveel grasie (Swanie – die swaan!), swier, styl en vriende. Nou sterf sy so onbesonge. Maar sic transit gloria mundi – glorie van die een era gaan onglorieryk heen in ‘n nuwe. Swanie, tydloos soos sy was, het by die einde van haar era verbygeleef.

By die 70ste verjaardag in 1994 van haar eggenoot, die legendariese motormagnaat Barnie (wat in 2006 oorlede is), is ‘n gedenkboek gepubliseer, opgedra aan Barnie en Swanie, “want Barnie beteken Barnie en Swanie”. ‘n Treffende en raak woord! Wat sou Oom Barnie tog sonder Swanie aan sy sy gewees het?

Sy het die vorstelikheid in die Human-huwelik gebring, ook die elegansie en sjarme: ‘n model-vrou wat jy altyd deur ‘n ring kon trek. Een met elke haartjie op sy plek. Smaakvol en stylvol letterlik van die kroontjie tot die toontjie. ‘n Vrou van wie jy kennis geneem het as sy by ‘n deur inkom.

Haar huise, hul hoofhuis in Albrechtstraat, Bloemfontein, met sy lushof-tuin wat al dekades lank die omgewing domineer; op Ramsgate, hul prentjiemooi uitspanplek; asook die karaktervolle plaasopstal op die ou Brandfortpad, was altyd eksieperfeksie. Elkeen het die stylstempel van Swanie Human gedra. Daar, omring met die beste in elke opsig, was sy atyd die perfekte gasvrou, met gasvryheid ewe legendaries as haar man se sakesukses.

Vriende wat die voorreg gehad om by enigeen van die plekke saam te kuier – veral by al drie! – reken daardie geleenthede by die Groot Feeste in hul lewens. Ai, hoe verplaas ek my nie nou in my gedagtes Ramsgate toe nie, waar ‘n mens kon sien en beleef hoe die Humans waarlik ontspan – terwyl hul gaste soos konings bederf word!

Drie akker van eksotiese tuine met onder meer iets soos 3 000 anthiriums, private rolbalbaan, snoekerkamer, verhitte swembad en wat nog langs die dreunende Indiese oseaan. Onvergeetlik. Onvermydelik het die kosbare landgoed, soos verwag kon word, ook voor ontwikkeling moes swig.

Oor Swanie Human sou jy lank liries kon uitwei, maar om ewewigtig te wees, verg dat jy ook haar sin vir eenvoud vermeld, haar oop hart en beursie vir mense in nood (gestremdes was veral na aan haar hart, onthou ek) asook die deernis jeens haar ewemens wat sy selfs teenoor wildvreemdes kon openbaar.

My vriend Sarel onthou byvoorbeeld: “Vanjaar 44 jaar gelede het ons op Port Edward vakansie gehou. Gerhard was ‘n jaar oud. Hy kry toe herpes met sy hele mondjie vol sere. ‘n Kiem op die strand in die sand opgetel, seg ‘n dokter. Hy had verskriklike koors en ons besluit om huis toe te kom. Ry deur na Durban se lughawe. Sit hom en Liesbeth die Sondagmiddag op ‘n vliegtuig wat direk na Bloemfontein vlieg. En ek vat die pad deur die nag huis toe; skoonpa en skoonma saam met my.

In die vliegtuig sit Liesbeth met die siek Gerhard toe naby Swanie en haar dogter, Christa. Swanie was moederlik besorg oor die siek kind en het aangebied om vir Liesbeth huis toe te bring van Bloemfontein se lughawe af.”

En hoeveel skatryk vroue was hul eie ondergoedjies? Swanie het al die jare, want “dit is duur en moet opgepas word”.

Barnie en Swanie het mekaar, volgens oorlewering, op 20 Mei 1943 op ‘n huispartytjie ontmoet (toe hierdie ou gryse nog net ‘n raps oor die twee was!). Sy was ‘n nooi Swanepoel van Bainsvlei. “Daar sit my vrou,” het hy glo aan ‘n vriend gesê. Op Woensdag 26 Desember 1945 is hulle in Bloemfontein getroud.

Barnie Human was ontsettend lief vir sy karre. Dit weet almal. Hy was selfs nog liewer vir sy mooi vrou, Swanie. Dié dat hy haar in ‘n goue Jaguar laat ry en met juwele oorlaai het wat in ‘n paleis se brandkas sou skitter. Natuurlik behoort hy haar te bederf het. Swanie was die juweel van sy lewe. Trouens, sy was van A tot Z ‘n juweelmens.

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page