Twee keer in ons somervakansietjie van 20 dae het die hemele behoorlik gerittel en beef en het die waters neergegiet – op 15 Desember en weer op Kersdagaand. Elke keer is 50 mm gemeet. By twee ander geleenthede het sagte, deurdringende reen 10 mm of meer opgelewer.
Aan die resultaat van die gereelde verkwikking sal ‘n knap skilder beter reg laat geskied as wat hierdie blog-skrywer kan. Sabiepark is inderdaad ‘n groen paradys, ‘n jubelgroen, gloriebos. So groen het hulle daardie wereld nog nooit gesien nie, se die ringkoppe.
Die somer-oes aan dierebabas is ‘n vreugde vir die hart. ‘n Vlakvarkma en haar vier japsnoete het gereeld kom oe wys by onse boshuis, Tarlehoet. Die eerste keer in 11 jaar het ‘n bosnagaap in die pendoringboom voor die huis opgedaag met haar nuwe tweeling grootoog op die rug. In Gwarrieboslaan staan vier wildebeeskalfies op wankelende bene by die trop. Dartelende klein rooibokkies is die strate vol.
Ds. Carl Louwrens van Skukuza wat altyd met ‘n verrassing kom, het die Sondag voor Kersfees uit Sefanja gepreek. ‘n Leraar-kollega was verbaas – wat het jy oor Sefanja te se? Ds. Carl se antwoord was tipies van sy soort humor: Ja, dis ‘n goeie vraag, want om Srfanja in die Bybel te vind is al klaar ‘n uitdaging!
Vir sy tema, Blydskap, was Sefanja egter ‘n slim keuse. En soveel blydskap het die Van Deventers die vakansie ervaar dat Safanja en ds. Carl se spreek telkens in die gedagtes opgeduik het.
Vir Oupa en Ouma was die blydskap nie net natuurverwant nie – bepaald ook weens die louter plesier wat die sesjarige tweeling Jacob en Thomas opnuut aan die bos had – veral ook aan die
bos-swembadjie op snikhete somerdae, en, indien moontlik, selfs nog meer aan hul nuwe digitale Canon-kameratjies.
Hulle het letterlik alles afgeneem, van leeus en wildehonde tot skilpadjies en akkedisse. Ook vir Oupa en Ouma op hope vrolike groepfoto’s – in die swembad, by die braai, in die kermisbed – met ‘n kundigheid wat Oupa, self ‘n kamera-entoesias, verras het. Oor hul jagtog met hul kameras doen ek later afsonderlik verslag. Dis ‘n blog op sy eie.
Groot skrik is veroorsaak deur die baie slange – onder meer ‘n ratse “grasgroene” by die vullisblok en ‘n “witgesiggie” in ‘n gaatjie in die baksteenmuur onder die grasdak. En vet skerpioene – die was behoorlik oral.
‘n Onplesierige ontdekking was drie kameelperde met bebloede nekke. Luiperd se werk, dag ons eers. Bosluise s’n, hoor ons egter later. Eintlik des te meer die renostervoeltjies s’n, wat in swerms op hul slagoffers toesak om die klein bloed-spikkeltjies van die bosluise tot oop wonde oop te pik. Parkhoof Stefran Broekman het gedokter so al wat hy kan. Hoop die langnekke kom gou reg.
Die nagapies was hierdie keer skaarser – die bosnagape het hulle aand vir aand in die piesang-wedloop uitgestof. “Losers” het die tweeling hul Ouma se gunsteling-diertjies gou gedoop. Die hiena was ook ‘n ongereelde besoeker, maar het gisteroggend ewe beleefd kom groet toe ons pak om te ry.
Oupa het self (soos die twee entoesiastiese jong papparazzi) ‘n paar foto’s om te wys (hulle kom later in ‘n Picasa-album) – en kon boonop op 25 Desember spog met sy goudbruin Kerskalkoen uit die Weber. Hy maak hom egter maar klaar om binnekort ook op die kulinere terrein uitgedaag te word.
Hozzászólások