top of page
  • Uitmelkbos

JOU KLEIN KLITS!



Net so ‘n blouetjie gehad!

Hoeveel blikkies kondensmelk koop ‘n mens vir R200 000? Hoop omtrent soveel as wat jy in 1960 vir R500 gekoop het. Anders het die Italiaanse “skilpadjie”, die Fiat 500, darem allemintig duur geword.

Ek het in 1960 as derdejaar-Tukkie ‘n Fiat 500 by my ouers gekry – een van die eerste 500-stasiewaentjies, met die deftige naam Giardiniera. My vriend Pierre le Roux het, toe ek by Kollegehuis daarmee opdaag, my ryding terstond die “Skoolbus” gedoop. My kar is ook deur studentemaats onvleiend die “Grassnyer” genoem.

Daardie pynlikheid net terloops. My punt is eintlik dat daardie splinternuwe plaasvervanger vir my ou “Santa Maria” (‘n Peugeot 203 van 1953) my ouers, as ek reg onthou, plus-minus R500–R600 uit die sak gejaag het. Vandag lees ek in “Rapport” ‘n mens dok nou meer as R200 000 vir so ‘n oulike kêreltjie in sy byderwetse gedaante uit.

Die kondensmelk kom in by wyle Fred Schnetler se kondensmelk-prysindeks. Soos in die geval van die Big Mac-indeks kom dit daarop neer dat pryse van produkte plus-minus in verhouding met mekaar gebly het. As jy doerie tyd tien blikkies kondensmelk (of soveel Big Macs) vir iets moes uithaal, sal dieselfde ding jou vandag nog rondom tien blikkies (of soveel Big Macs) kos.

Met die Fiatjie is hierdie indeks onder druk geplaas, vrees ek. Maar in alle billikheid die Fiatjie van nou en die Fiatjie van toe is nogal perde van ‘n ander kleur. Daardie outjie met sy piepklein-wieletjies se 17 perde onder die vloer van die kattebak het langer as ‘n minuut gespook om van 0 tot 100 km per uur te “versnel” – kwalik ‘n ryding vir die nuwe geslag. Vandag versnel (sonder aanhalingstekens, let wel) die Fiat van 0 tot 100 in ‘n handvol sekondes. Selfs die grootste jappie swel van trots op sy Fiat-blitsbuksie in sy motorhuis.

My outjie het op ‘n epiese reis van Bloemfontein na Kaapstad vir die Parlementsitting van 1963 – ek was toe parlementêre verslaggewer – my geduld nogal beproef. Nadat ek die eerste aand tot by Beaufort-Wes aangekruie het (die Wawiel-motel), het eers ek laterig die tweede dag die noordelike stasgebiede van Kaapstad bereik. Ek was ongeduldig en gedaan, en is dadelik na my skoolmaat wyle Carel Weeber by die Trust Bank om ‘n lening te vra. Daarmee het ek ‘n gebruikte Cortina gekoop, wat later my en Tokkie se vrykar geword het. Hy was lekker ruim met genoeg beenspasie en so. Hy kon ook die teerpad vreet!

Aan die verandering van lewenswyse (van ‘n Fiat 500 tot ‘n Cortina 1500) het ek enkele weke gelede rede gehad om te dink toe ek in Kuilsrivier by Carel se gedenkdiens was. Ek glo my goeie maat het oor my betroubaarheid ‘n goeie woordjie by die kredietbestuurder gedoen. Dankie, Carel!

Eintlik wou ek destyds ‘n Mini koop, daardie klein windgat ikoontjie van die Britse motorbedryf. Maar op Klerksdorp was nie een op die vloer nie, en ek het eenvoudig te erg gebrand vir nuwe wiele om een in Johannesburg te gaan haal. Dalk was dit uit die oogpunt van ratsheid ‘n fout, maar sou ek met ‘n vinniger Mini nog ewe veel pret gehad het?

Ten slotte: laat die nuwe 500 nou maar so ougat wees soos hy wil, dis die koddige 500’tjie wat tesame met die Vespa en die Lambretta die arm Italianers ná die Tweede Wêreldoorlog die weelde van wiele laat leer ken het. Ek glo ‘n generasie Italianers het tot aan die einde van hul dae aan hul eerste 500’s lojaal gebly.

Hoe kan ek dan anders as lojaal wees aan my klein klits? Dus hulde, ou maat, by herhaling. Ten minste dan ter wille van jou suinigheid met brandstof (jy het van Bloemfontein na Kaapstad omtrent net ‘n paar stewige wynglasies vol petrol geledig). Tweedens ter wille van die eindelose pret wat jy my en my Kollegevriende besorg het.

Kan boonop nie onthou dat jy een keer onklaar in ‘n werkwinkel was nie. Wat ‘n getuigskrif vir Italiaanse kwaliteit en duursaamheid!

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page