Besoekers uit die Suide oornag die eerste keer by ou vriende op Potchefstroom en bewonder die styl en vakmanskap van die meubels in die gastekamer met verskuldigde eerbied.
Die indrukwekkende, swaar spieëlkas en bypassende hangkaste van donker embuia is die toonbeeld van vervloë elegansie. Jy kan in jou geestesoog sien hoe die stukke die boudoir van ‘n adellike dame van ‘n vorige era komplementeer, kompleet met donker brokaatgordyne en die weelderigste wolmatte.
Wat opval, is dat die nederige bed allermins by sulke erfstukke van formaat pas. Dis bra doodgewoon; die kopstuk eenvoudig ‘n vierkantige stuk donker verniste denneplank.
Aan die ontbyttafel word die lof van die meubels besing. Die eienaars stem saam dit is iets besonders, en skets die pad wat dit deur opeenvolgende generasies gevolg het voordat dit hier aan ‘n digte akkerlaning naby die Potchefstroomse Universiteit ‘n staanplek gevind het.
“En die bed dan? Waar en wanneer het dié verlore gegaan?”
‘n Stiltetjie sak toe. Dan bieg die gasvrou, langs wie, op ‘n hoë kleuterstoel, ‘n (baie) laat laatlammetjie sit.
“Dit was die dag toe ek die nuus kry dat ek op my jare weer swanger is. Ek was so be-ongeluk dat ek daardie blerrie bed nooit weer wou sien nie. Ek bel toe die pandjieswinkel om die dêm ding dadelik te kom haal!”
Comments