Die seisoen leen hom tot nog ‘n rugbystorie, meen ek. Om nie in dieselfde diep donker gat as Helen Zille te val nie, word geslagsgelykheid in vandag se storie nagestreef.
Vergeet ‘n slag die Bulle. Hierdie is die storie van ‘n rugbywedstryd tussen die Fisio’s en die Radio’s (almal asters) by Tukkies vroeg in die jare sestigs – of eintlik die storie van Santie en die joppie-op-haar-koppie; ‘n buitengewoon onortodokse variasie op die tema skrumpet.
My bron is ‘n informele boekie, “Herinneringe van Oud-Tukkies” wat in 1988 die lig gesien het. “Die skrumpet” het anoniem verskyn, so gejukstaposisioneer dat ‘n wye vermoede posgevat het dat die uwe die outeur was. Dit was nie ek nie, maar ek sou nie skaam gewees het om outeurskap te erken as dit ek was nie. Allesbehalwe. Dis ‘n eersteklas-storie.
Vir die groot wedstryd het die meisies hul kêrels se toks geleen, en in hare, Kosie, se toksak ontdek Santie toe die vreemde affêring, wat net lanklaas ‘n wasmasjien gesien het. Na heelwat kopkrappery word dit deur ‘n gesaghebbende spanlid as ‘n skrumpet geïdentifiseer.
“Met een van die fris slotte se hulp word die veters ongemaklik stewig oor die vaal haartjies, onder die ken en agter die een oor verby gespan. ’n Dik, tosselagtige deel bons los oor haar voorkop – seker waar ‘n veter afgebreek het.”
So verplaas die anonieme skrywer die leser na die kleedkamer.
Dan draf hulle op die veld, eers die Radio’s en toe die Fisio’s. Santie draf voorlaaste op. Ene Lepellip herken eerste die flappende hoofbedekking. Hy sak agteroor, lam van die lag. Van die vroulike toeskouers lag ook, aldus die outeur, sommige met insig, die ander net om nie uit te wees nie. Die arme skeidsregter byt die fluitjie in die een hoek van sy mond vasen grinnik deur sy tande.
Van hierdie punt af pleeg ek skaamteloos plagiaat. Anoniem laat die gebeure ontplooi in ‘n verteltrant wat ek nie sal probeer oortroef of selfs net ewenaar nie. Die aanhalingstekens is ter erkenning aan ‘n eietydse meester van die vertelkuns. Hy (of sy) rapporteer die verwikkelinge aldus:
“ Santie, met haar dieper insig, kom gou agter dat sy die hoofbron …. nee, die enigste bron van laginspirasie is. Nie onnosel nie, merk sy op dat al die betraande oë wat nog oop is, op haar kop gerig is. Nou-ja, dan speel sy maar saam.
“Die oorryp piesangagtige aanhangsel se bokspringery kan sy nou beheer deur ‘n knik van haar kop, kerplaks op haar linkerwang, kerplaks op haar regterwang en kerplaks op haar neus.
“ Sy speel nou vir die ‘stands’. Snaaks, waar’s Kosie? Hy lag dan so graag.
“ As sy maar kon weet! Kosie, moedverloor en bleek om die kiewe, het stilletjies sy fiets gesoek en haastig afgesit koshuis toe. Daar het hy lam-lam op sy bed gaan lê, en in tamatiestraat sy kop met die kussing bedek.
“Rustyd breek aan. Ons heldin trakteer die menigte fotograwe met haar knikkop hier’s-jy-daar’s-jy-toertjie. Almal dink net aan die persprys vir die Grappigste Foto van die Jaar!
“Maar nog is dit het einde niet. Die ouens wat besig was om op die ander veld te oefen, het kom uitvind wat aangaan, en terstond besluit dat die meisie met haar joppie-op-haar-koppie-wedstryd veel meer opwindend is.
“Dié wat nie meer kan lag nie, lê flou onder die bome, dié wat nog kan lag, lag nog en dié wat nog nie gelag het nie, staan nader om te lag.
“Maar aan alles kom ‘n einde, en so ook aan Santie en haar piesangdans.
“Arme Santie. Soos die spreekwoordelike verontregte vrou was sy ook die laaste om te weet. En so was daar ook meer as een gretige spreekwoordelike beste vriendin wat gebrand het om haar die waarheid mee te deel.
“ ‘Santie, jy weet dit was nie n skrumpet nie?’
“ ‘Nie? Wat was dit dan?’
“ ‘ Het jy nie broers nie?’
“ ‘Ja, maar hulle is nie voorspelers nie.’
“ ‘Het jy al ooit n man in n buustelyfie gesien?’
“ ‘Nee!’
“’ Hoekom dra hulle dit nie?’
“ ‘Ag man, jy’s laf! Hulle het mos nie die regte goed nie!’
“ ‘Nou juis! Meisies het ook nie die regte goed vir daardie e…skrumpet nie… Santie? …Santie? Hoekom word jy so bleek? O vadertjie …. Ous, kom help! Santie het uitge-paas!’”
Nou-ja, fluit, fluit met daardie “paas” is my storie ook uit.
Comments