top of page
  • Uitmelkbos

Jonk genoeg

Anke Theron resenseer Lotta se lewe, deur Alice Pantermuller. (LitNet) Ek skryf nie normaalweg oor resensies van vertalings nie, maar maak hierdie uitsondering omdat Boeke24 en Rapport Boeke kinder- en jeugboeke afskeep, en hierdie resensent ’n kwessie aanspreek waarvan boekliefhebbers kennis moet neem. Dit is naamlik die gebruik wat uitgewers het om boeke vir jonger lesers te koppel aan spesifieke ouderdomsgroepe. Die oomblik dat so-iets gedoen is, verkry die ouderdomsbepaling ’n vorm van ewigheidswaarde. Jeugroman A is vir die ouderdomsgroep 10 tot 12, byvoorbeeld. Maar as daardie toedeling in 1990 gemaak is, is dit hoogs onwaarskynlik dat dit nog in 2014 sal geld. Kinders en tieners word enersyds vroeër aan baie meer dinge blootgestel as in 1990, en andersins het leesvaardigheidsvlakke ook sedertdien geskuif. Anke Theron se resensie is daarom baie belangrik. Sy neem ’n behoorlike teoretiese aanloop, en kom dan uiteindelik by ’n oordeel van die ouderdomsbepaling tot niet maak. Een van die knapste resensies van die afgelope ruk.

Johannes Bertus de Villiers resenseer ’n Duisend stories oor Johannesburg, deur Harry Kalmer. (LitNet) Wat vir my bevredigend is van ’n resensie soos hierdie ene, is dat mens reeds in Rapport en die oggendblaaie gelees het wat ander resensente daarvan maak, en nou soek jy daardie nuwe hoek. De Villiers verwys na die resensies wat syne voorafgegaan het, dui aan dat hy op een belangrike punt van hulle verskil, en brei dan daarop uit: Watter duisend stories is dit waarna die titel verwys, en kan mens dit werklik in verband bring met’ n Duisend en een Arabiese Nagte? Hy doen dit met vernuf en groot oortuiging. Ek wonder net hoekom hy nie ook na die belangrikste leidraad op die omslag verwys het nie.

Joan Hambidge resenseer Gordel, deur Adriaan Coetzee. (Rapport Boeke) Dis goed om weer ’n resensie van Hambidge te lees. Sy doen dit deeglik, sy doen dit reg. Een sin som alles op: “Dit wou e.e. cummings en gert vlok nel ook doen – met groter sukses.”

Johan Smith skryf oor Donker spoor, deur Martin Steyn. (Rapport Boeke) Smith kondig ’n nuwe bringer van leesgenot aan, maar laat na om te sê presies wat vars is aan hierdie “bloedspoortjie”.

Louise Ferreira skryf oor Seisoen van lig en donker, deur Alta Cloete. (Boeke24) Ferreira doen een belangrike ding, en dit is om die koerantleser te laat opsit en kennis neem van die boek en skrywer. Maar as mens mooi daaroor nadink, bewys sy die skrywer geen guns nie. Die kritiek wat sy uitspreek, slaan op die agtelosigheid van die redigeerder. Om dan ten slotte te sê die roman is nie sonder foute nie en na te laat om dit uit te spel, sal die skrywer magteloos laat wonder wat haper en wat kan sy volgende keer doen om dit te vermy. Dít is tog wat die ander funksie van ’n koerantresensie is – om ook vir die skrywer insig te gee in die ontvangs van sy/haar roman.

Joan Hambidge resenseer In ligte laaie, deur Jannie Malan. (Litnet) Ek twyfel of ’n debuterende digter op’n beter manier ontvang kan word as deur ’n positiewe resensie deur Joan Hambidge. Soos ons pas in Rapport kon sien hoe sy Adriaan Coetze  se Gordel met skerpe insig takseer en deurdring tot die kern van sy probleme, net so ontleed sy die vernaamste kenmerke van Jannie Malan se debuut – positief, ontvanklik, waarderend. Die twee eindnotas gesels op intrigerende manier saam met die resensie. Net een punt van kritiek op die resensie. Die samevatting staan in skerp kontras met die deeglike formulerings van die res van die resensie – “Op die keper beskou: ‘n belofteryke, sterk debuut wat veel beloof vir hierdie debutant wat reeds in Nuwe stemme ‘n buiging gemaak het.”

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Bình luận


bottom of page