Konserte en my eie helaas onmerkwaardige loopbaan op die verhoog was nog laas my onderwerp in hierdie ruimte toe ek so brutaal onderbreek is deur julle weet wat.
Eintlik is dit tekortkominge aan die korttermyn-geheuefront eerder as faktore van buite wat daardie vertellings ietwat stomp laat eindig het. Die liewe Tokkie herinner my: wat van die twee kerkkonserte?
Aarde, my vrou, skoon vergeet – en dit was sommer nou annerdag.
Op die een program was ek die dirigent Herbert von Karajan. Hoekom juis hy, weet ek nie. Ek het die stokkie geswaai vir die gemeente se drie leraars as die drie tenore Pavarotti. Domingo en Carreras.
Ons vier het ‘n entoesiastiese rendisie van Verdi se polsende La Donna E Mobile uit Rigoletto gelewer. ‘n CD met genoemde snit was natuurlik op die draaitafel. Op my kop was ‘n blonde bossiekop-pruik wat in ‘n stadium na ‘n buitengewoon swierige swaai van die bolyf grondwaarts getuimel het.
Die applous was van die allerbeste wat my in my ondermaanse bestaan van 69 jaar en 11 maande te beurt geval het.
By die ander kerkkonsert was ek ‘n predikant wat in ‘n Fair Lady-rige toneel die huweliksbevestiging moes behartig van die vrolike bruidegom wat in daardie blyspel Take Me To The Church On Time gesing het – klaarblyklik nie om dowe neute nie.
Ter wille van ‘n ekstra vrolikheidjie het ek op eie insiatief die element ingebou van ‘n halfbottel Klippies onder die kansel, waaraan ek ruim slukke geneem het, met (darem net kamma-kamma) ‘n sterk negatiewe impak op die samehangendheid van my boodskap en die ratsheid van my tong.
Na die kleedrepetisie het ek ‘n oproep ontvang van ‘n besorgde wat gewonder het of my uitbeelding nie afbreuk doen aan die waardigheid van die amp nie, en waarin ek aangeraai is om liefs my dors op die kansel met water eerder as met Klippies te les.
Later het ek gehoor daar was nog ‘n oproep. Hierdie keer na een van die leraars wat in die rol van Josef onderwerp is aan die verleidinge van Potifar se mooi vrou. Ons leraar het teen hierdie versoekinge van die vlees nie juis so walgegooi dat jy dit sou agterkom nie – meen Potifar se vrou was in lewende lywe darem sy eie aantreklike eggenote, wat enige Josef se voete onder hom kan uitslaan.
Of dit dieselfde besorgde lidmaat is wat die uwe gebel het, weet ek nie, maar ook vir ‘Josef” was daar in ‘n grafstem ‘n vermaning oor die telefoon dat hy hom tot stigting van die gemeente tog liefs maar moet beteuel as hy “Potifar se vrou” gryp.
Ek het ‘n vermoede ons sou albei groter applous gekry het as ons toegelaat sou gewees het om ons rolle volgens ons oorspronklike insigte sonder inhibisies te speel.
Comments