Meshack, Johan en Novo in Bloemfontein, circa 1990
Die tagtiger-dekade was onder meer ook die dekade van Meshack, ‘n ware karakter wat in die Van Deventers se lewe nie net kleur gebring het met sy arbeid in onse blombeddings in Van Schoorstraat, Bloemfontein, nie, maar ook as mens.
Hy was – en dit is nogal nie ‘n algemene kenmerk van tuinmanne nie – geseën met ‘n vrolike humor. Ouma kruie byvoorbeeld met haar loopraam in die motorpad af. Meshack spuit met die tuinslang ‘n paar water-esse voor haar voete. “Wat maak jy nou?” “Ek breek net ‘n bietjie Ouma se spoed,” kom die antwoord blitsvinnig.
Hy was lief om mense byname te gee. Vir Ouma het hy Winnie Mandela genoem. Sy het geprotesteer vir ‘n vale. Ek was, agter my rug darem, Mike Schutte. Het natuurlik geen idée hoekom nie!
Tokkie was sommer net “ou Tokkie”. Kenmerkend van hul onderlinge kommunikasie was dat hulle mekaar geroep het met ‘n uitgerekte: “Joe-hoe.” Amper 14 jaar gelede het ons Meshack gaan soek by die Sentrale Universiteit van Tegnologie waar hy later gaan werk het. Ons is na die Loubsersaal verwys, wat dolleeg was. Toe roep Tokkie: “Joe-hoeee!” Iewers van agter die verhoog kom die antwoord: “Joe-hoeee!”
Hoekom skryf ek oor Meshack? Wel, Tokkie, laat val nou die dag dat sy dikwels wonder hoe dit met hom gaan. Asof ‘n mikrofoon in ons huis op Melkbos versteek is, kry ons enkele dae later ‘n SMS. “Jy sal nie raai nie!” roep Tokkie uit. Nee wragtig, ek sou nie raai nie.
Meshack SMS: “Gooie naand ou tokkie. meer as 13 jaar sien ek nie vir julle nie. Ek dink altyd van Johan (ons seun) die hond novo (Johan se staffie). Ek mis julle. My naam is Meshack Cadaffie (nog altyd sy ou streke!). Dankie Marisa (Mariza) Johan Hennie Ouma en ander Marisa (ons dogter) en sy tweeling kenders.” Gelukkig verskaf hy ‘n selnommer. Tokkie bel en die ou drade raak opgetel.
Sy herinner hom onder meer aan hoe sy hom Saterdagmiddae in haar geskenkwinkel toegesluit het om skoon te maak. Hy geniet die herinnering.
‘n Eie herinnering is aan ‘n Kaapse Paasnaweek-besoek in 1993 om hom die vreemde wêreld te wys. Waterfront, Tafelberg, Houtbaai – waar was hy nie oral nie? Ek wou destyds by hom weet wat die grootste indruk op hom gemaak het: Dit was die “lughawe van die bote”. Die Waterfront (en hawe) was eenvoudig vir hom ‘n verbysterende belewenis.
Hy was die Sondag saam met ons in Welgemoed se NG kerk. Dit was nogal iets daardie tyd.
Die vrolike Meshack het ook ‘n ernstige streep. Toe al het die bediening hom getrek. Hy was reeds gekwalifiseer om kinders te begrawe. Op pad Kaap toe het Tokkie met hom uit die aard van die saak deur Laingsburg gery. Die groot Paaskruis op die dorp wat tevore onder só ‘n geweldige vloed deurgeloop het, was vir Meshack treffend. Op sy inisiatief is ‘n bus gehuur en het ‘n groep van sy gemeente die volgende jaar vir Paasfees al die pad Laingsburg toe gekom.
Ek hoor hy het ver gevorder op die pastoorsleer – kan deesdae huwelike voltrek en ook volwassenes begrawe.
Goeie ou Meshack. Ek sal nie die geheim verklap van “pastoor Cadaffie” se witleuentjie om by sy ander werkgewer verlof vir die Paasnaweek te kry nie. Dié was Waldie Greyvensten, die oumotor-man.
Op pad terug huis toe, by Drie Susters, druk Meshack hom plat teen ‘n muur en sis vir Tokkie: “Loop verby, loop verby.” Later verduidelik hy sy vreemde optrede. “’Greyvensteyn is hier”. Dit blyk toe hy het nie verlof gevra nie, maar gejok dat hy pampoentjies het. “Bly weg, jy sal my kinders aansteek,” was Waldie se reaksie.
Só het Meshack die “lughawe van die bote” te siene gekry.
Comments