top of page
  • Chomsetussenbetragtings

Jip, ek is nog hier!

********** Vryheid is nie ‘n keuse nie


Dis net na 8, Maandag, 28 April.

National Freedom Day.

Haar ma het haar vroeg al uitgejaag. Asof sy nie weet wat sy en haar nuwe boyfriend wil doen nie! Gelukkig het die baba nog geslaap, anders moes sy seker dié ook saam uitbring. Sy wens haar ma was nie haar ma nie. Die kinders by die skool sê lelike goed van haar. En van haar, Katy, ook. Hulle spot haar met haar reguitstywe hare en groenerige oë. En natuurlik haar ligte vel.

Dit was ‘n groot fout om haar ma daarna te vra toe sy een aand van die tavern af kom. Dik gerook. “Dit was 1997, dis ‘n free country. Mens kan vry wie jy wil in ‘n free country.” Toe het haar ma die kers doodgeblaas en haar net so daar in die donker gelos.

Sy sit op die dreindeksel in die straat voor hulle RDP-huisie, en bekyk die kinders wat die hele straat vol speel.

Van hulle het ‘n klomp platgekapte koeldrankblikkies wat hulle van ‘n afstand af in ‘n stukkende plastiek-emmer probeer gooi. Hulle baklei aanmekaar oor wie se beurt dit is om te gooi, en wie oor die gooi-streep getrap het. Liesbet van die groen huisie op die hoek baklei die hardste van almal — vandat die tsotsi’s laasjaar haar ma by die ATM doodgesteek het, is dit asof sy elke dag al hoe harder skree.

Twee seuntjies jaag heen en weer op hulle lendelam fietse, en kyk wie kan die meeste stof maak as hulle rem trap. Die ene sukkel baie, want sy fiets se een trap is af.

Op haar skoot lê haar kosbaarste besitting, die voosgevatte Getaway van November 2005, wat sy uit die biblioteek gesteel het. Sy blaai stadig daardeur, sonder om regtig te sien. Sy het in elk geval al lankal elke foto in haar kop ingesit, om snags na te kyk. En die verbeelde geluide van bergwinde en branders en watervalle in haar ore geplant om na te luister. Sy vryf die stof met haar mou van die voorblad af, rol die tydskrif op en druk dit onder haar trui in.

Oorkant die straat sit ou granny Mary op haar stoepie. Sy’t nog haar nagklere aan, met dik sokkies en ‘n bruin weermagjas. Sy trek met skrefiesoë aan ‘n plat zol, en kyk nêrens nie, net voor haar. Katy wonder of sy dink aan dinge wat verby is, of dinge wat nooit uitgewerk het nie.

Die vorige dag het sy, sonder om haar ma te vra, na die Freedom Day celebrations by die sokker stadium toe gegaan. Iemand het gesê daar gaan gratis kos wees.

Daar was toe nie. Net baie speeches, alles oor freedom en change en development. Van die mense wat gesing het se klere was verskriklik mooi vir haar, en hulle het baie gelukkig gelyk terwyl hulle sing.

Die geraas van die wit bakkie wat langsaan by die bure stop laat haar terugskrik. Sy ken die vrou, sy kom baie daar. Sy werk saam met die buurvrou se dogter by die koerant. Sy het haar seker kom haal, sodat hulle moet gaan werk. Freedom Day of te not.

Die vrou klim nie uit nie. Sy sit maar net, en kyk vir die kinders wat in die snuifgetrapte stof speel. Dieselfde stof wat snotgladde modder raak elke keer as dit reën.

Die vrou lyk hartseer, dink sy. Dalk verlang sy na iemand. Sy bel iemand op haar selfoon, sit dan die foon op die dashboard neer. Sy lyk of sy besig is om iets te skryf.

Katy wil amper begin lag toe die vrou haar selfoon vinnig gryp toe ou mal David naby die bakkie verbyloop. Dit lyk amper of die vrou skaamkry toe ou David haar vriendelik groet.

Net toe kom die bure se dogter uit, en sy klim in die bakkie. Deur die oop vensters hoor sy hoe die twee vrouens mekaar groet, en hoe hulle lag toe hulle vir mekaar “Happy Freedom Day!” sê.

Freedom se gat, dink sy.

1 view

Recent Posts

See All

Net 9 disse?

Kom ek op hierdie interessante berig in die Sowetan af vandag, en herken myself toe baie goed! Alhoewel die studie onder die Britte gemaak is, dink ek dis tot 'n groot mate op ons van toepassing. Sal

My kortverhale (wow, dit was pret!)

Hy klap die agterdeur met 'n dawerende slag agter hom toe. Sy bly op die vloer sit, en vryf oor haar brandende wang. *** "Mamma, waar's Pappa?" Sy sug, vat haar dogter om haar maer skouers en lei haa

Joeeeeehoeeee! Ek's terug! (dink ek...)

Hallo liewe blogvriende! Ja, vir die eerste keer in VIER maande het ek weer soortvan internettoegang! Dankie vir die van julle wat my nie vergeet het nie, en so nou en dan 'n boodskappie gestuur het (

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page