top of page
  • Uitmelkbos

JAN TUISBLY SE VLIEGTUIGIE

Blomkwekers in die verre Kaap, BBP’s, bruidegomme, begrafnisgangers – die lys is eindeloos van mense wat van lugvervoer afhanklik is/was en al dae lank met hul vingers sit en speel terwyl die aswolk-ellende voortduur.

Ai, ‘n mens sien die moedeloosheid en frustrasie op die rye, rye gesigte van teleurgestelde passasiers as die nuuskameras so ry op en ry af by internasionale lughawens swiep. Die glimlag het inderdaad in lugdienstoue ‘n skaars kommoditeit geword terwyl die temperatuur om vasgekeerdes se krae sigbaar styg.

Een ontstellende stukkie nuus wat die uwe op Facebook raakgelees het, het nog nie eens Suid-Afrika se koerante gehaal nie. Dit is dat André Rieu, “Koning van die Wals”, in Europa vasgekeer sit – en Saterdagaand moet sy Stradivarius sing en swaai by Sun City se Super Bowl waar mense lag-lag R950 stuk opgedok het vir die voorreg om dié meester se eerste Suid-Afrikaanse konsert te sien.

Die jongste nuus is dat hy via Spanje sou probeer vlieg – dan hoop ons maar die “rain in Spain” (figuurlik bedoel) val nie “mainly on his plane” nie !

Die warboel van emosies by mense wat deur die vulkaan op die grond vasgekeer is, kan tot vrugbare verbeeldingsvlugte (ek gebruik die woord “vlugte” met sardoniese doelbewustheid!) aanleiding gee. Daar moet aangrypende stories wees van huwelike en begrafnisse wat belemmer is, hartseerstories van droomvakansies wat gesneuwel het, groot geldverliese; dalk ook skreeusnaakse stories van onwelkome besoeke wat uitgerek is.

Ek is nou nie ‘n ou vir skoonmagrappe nie (my eie skoonma is ‘n engel), maar die potensiaal is legio.

“Ouma, wanneer gaan pappa sy toertjie doen?”

“Watter toertjie, my liewe kind?|

“Ouma hy’t gese as ouma nog een nag onder sy dak is, klim hy teen die mure uit!”

Een weggesteekte Burger-storie wat hierdie bejaarde blogger nogal laat glimlag het, is van die Kaapse ouma wat baba oppas terwyl pappa en mamma oorsee rondrits. Terwyl hulle nie ‘n vlug terug kan kry nie, word nie net kleinding se “slapies” by haar meer nie, maar ook die vuil doeke.

Die berg onwelriekende babadoeke hoop in die vullisdrom op, maar … o wee.. nou staak die munisipale werkers terselfdertyd – slegte tydsberekening! Uiteindelik moet ouma ‘n omkoopgeldjie uit haar handsak skud om die onaangename vullisdrom verwyder te kry.

Met die baba self het daardie uitweg natuurlik nie bestaan nie!

Wonder heveel derduisende euro’s, dollars en ander valuta is aan selfoonroepe bestee om oor vasgekeerdes se wel en wee aan geliefdes, sekretaresses, sakekontakte en wie nog almal te rapporteer en om krisismaatreëls te tref.

Een dag was ek op ‘n vlug wat weens lae wolke nie op O.R. Tambo kon land nie. Die joviale vlieënier het vrolik verduidelik ons gaan vir ‘n “kort vakansietjie” na Durban.

Een passasier in die ry agter my was in ‘n toestand. Hy sou sy boesemvriend die middag op Vanderbijlpark in die eg verbind. Boeta, jy moes sien hoe hy moes bontstaan om per selfoon alternatiewe reëlings te tref.

Net toe hy wou moed opgee, bel hy ‘n studentemaat op die gholfbaan raak, en pleit so mooi dat dié hom bereid verklaar om net 9 putjies te speel ten einde as huweliksbevestiger vir sy vriend se vriend te gaan optree.

Nie almal in nood het sulke welwillende maats nie, vrees ek. Dus: “Vrou, ken ons werklik nie nog iemand wat ons kan bel nie?” Of: “Gert-Jan, jy’t my dalk al vergeet, maar ek sit nou hier op Schihpol …”

Die koste vir lughawens moet ook geweldig wees – o.m. aan toiletpapier. Want is dit nie ‘n vreemde reaksie van die wonderlike spysverteringstelsel nie: dat sy aktiwiteit dikwels gestimuleer word deur papaja-in-die-waaier-situasies soos hierdie?

Hoe dieper jy in die knyp raak, des te meer moet jy knyp!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page