top of page
  • Izak de Vries

Jackson Hlongwane is dood

Die SABC het glo gisteroggend berig dat Jackson Hlongwane oor die naweek oorlede is. Hy was, na wat berig word, 99 jaar oud.

As dit waar is, het sy lyf het dus nou gevolg waar sy hart al lank al was.

Die oubaas se gedagtes was al baie lank al in die land van die mudzimi. In die laat negentigs, toe ek laas by hom aan huis was, was dit al moeilik om sy werklikhede en die gesprekke met die voormense uitmekaar te hou.

Hy was ’n verbasende kunstenaar en van sy stukke staan in die Sandton Konvensiesentrum. In 1995 is hy ook as “lewende kleinood” bevestig deur die Departement van Kuns en Kultuur. Sy werke word ook bespreek in die Nasionale Kurrikulum.

Tog het die gehalte van sy werk gewissel. Van sy sterk, enigmatiese kuns is wonderlik; ander stukke het kitsch voorgekom. As jy hom egter sou vra oor enige stuk, kon jy ’n ellelange lesing te wagte wees.

Ek het net een stuk van hom, waarvan ek hier ’n foto plaas. Toe ek hom vra hoeveel hy hiervoor wou hê, was sy antwoord dat ek vir Jesus moet vra. Hy maak nie pryse nie.

Ek het uiteindelik letterlik my beursie leeggemaak en vir hom die inhoud gegee. Hy het die geld aan ’n helper gegee en aangehou met sy lesing sonder om hoegenaamd belang te stel hoeveel dit was. Op dié manier is hy natuurlik soms ingeloop, want mense het met trots kom vertel dat hy aan hulle ’n stuk verkoop het vir so min as R20.

Ek wil een klein interessantheid noem: Die pers noem hom Jackson Hlongwane, en so het hy bekend geword ook, maar hy het nie self sy naam so geskryf nie.

Onder aan my kunswerk het hy met sy beduidende lelike handskrif geskryf: Jekisone Hlukwani.

Ek het baie gewonder hoeveel ons werklik van hom verstaan het. Ek was beslis nie fyn genoeg ingestel op die mudzimi se stemme om hierdie man se skoenrieme te kon vasmaak nie.

1 view

Recent Posts

See All

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page