top of page
  • Izak de Vries

Ja, my bra, Rachelle se toilet is ’n lekker plek!


Ek is nou effens keelvol vir politiek. So, kom ons gaan kuier onder die belt, en onder die bloes van ’n mooi vrou.

Ek het pas Rachelle Greeff se Alles behalwe die geheim van my whiskeys klaar gelees. Dis heerlik. Werklik iets om aan te beveel.

Daar is tintelende klein vignette oor mense soos Bertha Smit, wat skynbaar haar sigarette deur ’n koker gerook het, en Niel Hammann, ’n voormalige redakteur van Huisgenoot, wat dol is op katte.

Maar ek wil by twee staaltjies vassteek wat julle hopelik sal aanmoedig om ook dié pienk boek aan te skaf en heerlike te lag saam met Rachelle.

Die eerste is oor bra’s. Buustelyfies, sou die geleerdes waarskynlik sê, maar ek ken ding as ’n bra.

Self het ek nog net een keer die nut gehad van een. Ek moes cross-dress vir ’n kerkfunksie (moenie vra nie!). Om die nodige, um hoogte, te kry, leen my suster my toe een van haar bra’s. Nou, kyk. As ek ooit gedroom het daarvan om Pieter-Dirk die Tweede te word, was daardie nagmerrie genoeg om my vir ewig van die droom te vervreem. Die bra het my só seergemaak dat ek nie kon wag om die dêm ding uit te trek nie.

Lipstiffie kan ek verstaan, en fyn onderklere van satyn maak sin (nie vir my nie, my jeans sal afval, maar okay), maar ’n bra?

Voorts moet ek ook maar bieg. Ek het nog altyd gesukkel om ’n bra van ’n vrou af te kry. Ek is mal oor borste. Kleintjies, grotes, almal. Ek kan soen en vryf en bloot kýk na die twee wonderwerke, maar dis die dekselse bra wat altyd in die pad staan.

’n Broekie kan ek hanteer. Daar is maniere om so al óm die broekie te vry totdat dit so uiteindelik amper vanself verdwyn. Maar ’n bra? Dit voel vir my soos ’n slot.

Oukei, genoeg oor my eie onvermoëns en gebrek aan rondborstigheid, kom ons keer terug na Rachelle. Sy sny stories oor dié onnutsige stukkie lap wat selfs vir my laat regop sit het. Rachelle gaan haal die vóórgeskiedenis van die bra by die korset. (Dank vader, dink Sakkie onmiddellik, hoe sou ek ooit by ’n stel borste uitgekom het as hulle met walvisbeen versper was?) Dit was glo Catherine de’ Medici wat die korset uitgedink het, en onse Rachelle stel op die plek voor dat ons Katerinatjie, postuum, vonnis tot ’n langnaweek op ’n eiland saam met Michael Jackson en Oprah Winfrey. En al wat hulle mag dra, is voedingsbra’s.

Lees self verder.

Die tweede stuk wat ek wil aanraak, en weer my eie vroulike self daar wil inbring, is Rachelle se storie oor toilette. Lees self wat sy te vertelle het. Ek wil daarby aanhaak en vertel van die mooiste toilet waarin ék nog gepiepie het.

Mý toilet is heeltemal anders as die Europese toilette wat Rachelle beskryf in haar reis deur plasplekkies van die kontinet. Mý toilet sit op die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Daar is net ’n breë rivier vol krokodille tussen jou en Mosambiek as jy op daardie troontjie afkom.

Sien, die ding is in Ndumo, ’n voëlkykersparadys in Noord-Natal. Die paaie is verskriklik, die muskiete is oorweldigend, maar die voëls en die natuurskoon maak alles die moeite werd.

En daar, op die grens, sit ’n toilet. Dis nie toegebou nie. Van agter lyk dit soos ’n gewone regop toilet, maar voor en langs die kant is daar niks. En dis nou juis die ding. Ek wou piepie, maar as ’n man staan, staan jy met jou rug na die uitsig. Dis dus net daar waar Izak toe besluit, not ’n wiel. Ek wil kýk en geníét terwyl ek piepie. So, ek maak toe soos ’n regte lady: Ek trek my broek mooi tot op knieë, druk alles na ander (ladies maak nie so nie, maar okay) en geniet die rustige stroom van die rivier terwyl ek sít en plas.

Viva! Ons het ’n mooi land.

As President Motlante jou onderkry, koop Rachelle se boek en lees dit. Kyk net waar het dit mý kop laat rondloop. Onder belt en onder die bra.

Vlooi, vlooi? Koop ’n boek en lees dit in die kooi.

1 view

Recent Posts

See All
bottom of page