In my vorige inskrywing oor ET het ek dit duidelik gemaak dat my basstem gevoeg word by die koor wat vinger wys na Malema as ons na plaasmoorde kyk. Ek staan steeds daarby, maar ek wil ’n ander standpunt ook hier stel: Dit is positief dat die ANC die reg om “Kill the boer” te sing aan die grondwet wil meet.
Hoe dan nou? Het ek daggatee gedrink? Nee. Inteendeel.
Daar is talle mense wat opgewonde is oor die grondwetlike toets wat die ANC wil loods, al is hulle hóé kwaad vir Malema.
Kom ek verduidelik: As die ANC bereid is om vir vryheid van spraak hof toe gaan, dan kan dit ons almal tot voordeel wees. Die ANC moet dus versigtig wees: As hulle die saak wen, sal hulle skynbaar nie die AWB, die DA of die uwe daarvan kan weerhou om uitsprake teen die regering te maak nie.
Daar was die afgelope ruk talle aanduidings dat die regering allerlei drakoniese wette wou deurdruk wat op persvryheid en op artistieke vryheid sou inbreuk maak. Van die wette het die ou Nasionale Party se sensuurrade na kinderpartytjies laat kyk.
As Malema dan mag vra dat boere doodgemaak word, sal die ANC sukkel om aan ’n regter te verklaar hoekom die einste boere nie oproepe van weerstand mag maak nie.
Hulle sal mý dan beslis nie kan aankla as ek teen Malema of Prez Showerhead uitvaar nie.
Ek is nie ’n regsgeleerde nie. Vir ’n baie deeglike, maar toeganklike, stuk regsopinie lees gerus hoe ’n prokureur Professor Pierre de Vos se standpunt hieroor bespreek.
Ek is egter ’n filosoof en die vraag wat ék wil vra is: Hoe ver mag ons dit dan vat?
Mag die inwoners van Langa of Diepsloot weer begin sing: “Maak dood die buitelanders!”? Sal die Suid-Afrikaners vryheid van spraak swaarder weeg as die buitelanders se reg om veilig te wees?
Ek het ’n spesmaas dat Malema op ander gronde wel deur die hof stilgemaak kan word. Ek dink die boere staan ’n baie goeie kans om ’n bevel teen Malema te kry waarin hy belet word om hulle reg op lewe in gevaar te stel – in watter vorm ook al. Dít mag nou interessant wees.
Intussen moet die ANC twee goed doen:
Hulle moet Malema ’n moerse klap gee en hom belet om mense se lewens in gevaar te stel, en
Hulle moet my en jou vryheid van spraak waarborg.
As hulle dít nie doen nie (sal hulle?), moet Agriforum die reg op ’n veilige lewe in die grondwethof toets. Malema, die jeugliga, die ANC en Prez Showerhead sal die respondente moet wees.
コメント