Melkbos word al hoe meer ‘n mekka vir uiteters. Ons dorp bied ‘n wye keuse van restaurante, style, spyskaarte … en pryse. Ene waarvan die Van Deventers nogal hou, is ‘n informele seekos- restaurant, wat mense van heinde en ver lok met sy tradisionele vis en tjips.
Sy kurkgeld is aan die hoë kant: R30 vir die eerste bottel en R40 vir die tweede. Ek kla nie oor kurkgeld nie; buiten dat jy bedien deur ‘n kelner word, moet die eetplek die glase verskaf en agterna opwas. Die risiko van breek is altyd teenwoordig.
My vraag is egter: moet jy op kurkgeld boonop ‘n fooitjie gee of nie? My inklinasie is nee – kurkgeld is dan juis vir die diens.
Op die rekening word die kurkgeld normaalweg by die prys van die kos getel. Jy word met n totaal gekonfronteer. Die gedagte is blykbaar dat jy op die totaal jou fooitjie bereken. Ek verkies egter om die kurkgeld af te trek, en net ‘n persentasie van die res van die rekening as fooitjie by te voeg. My sommetjie frustreer klaarblyklik sekere kelners.
Wat is nou reg en wat is verkeerd? Elke mens maak seker maar soos hy of sy wil. Dalk kan iemand tog lig werp op die vraag of my manier van doen op ‘n suinige trek dui! Is ek ‘n fooitjievrek?
Comments