Irma Joubert het op 6 November haar boektoer deur vyf provinsies afgeskop by die Waverley Biblioteek in die Moot, Pretoria. Irma toer deur die land om Tolbos bekend te stel.
My kamera het saamgereis. Kliek op die foto's om hulle groter te maak.
Hier is Cecilia Britz, hoof van fiksie by LAPA, Jan Joubert (Irma se man), Irma Joubert en Jan-Jan Joubert, haar seun.
’n Pragtige uitstalling van Irma se trilogie is gehou. Tolbos is die derde boek in die trilogie. Ver wink die Suiderkruis is eerste en daarna volg Tussen Stasies.
Willie Spies (links) van Afriforum het in die Moot grootgeword en het as klein seuntjie al boeke uitgeneem by die Waverley Biblioteek.
Unine Yeo is LAPA se agent wat die uitstalling en die verkope hanteer het. Haar man het haar bygestaan.
Jan-Jan het die vrae gevra.
Irma het die gehoor aan haar voete gehad.
Die versnaperings was voortreflik.
Hier is Len van Heerden, ’n ou skoolvriend van Jan-Jan. Hulle twee het saam die Voëlvry-konsert in Durban bygewoon en dit is na daardie einste konsert waarheen Katrien, die hoofkarakter van Tolbos, gegaan het. Irma het vir Len en Jan-Jan bedank dat hulle destyds, agter haar rug, die konsert bygewoon het, want sy kon toe daaroor skryf deur hulle oë.
Hierna het verskeie van Irma se aanhangers boeke gekoop en haar gevra om dit te teken.
Hier is Sam Cooper, die hoof van Waverley Biblioteek, besig om sy boek geteken te kry.
Irma, saam met die span staatmakers van Waverley Biblioteek.
Comentários