top of page
  • Uitmelkbos

In ‘n tyd van moord

’n Week soos hierdie, waarin die aandag op moord en doodslag is (én op Jacques Pauw se boek), is ’n groot toets vir enige resensent. Koerantlesers se aandag is versplinter. Gaan die resensie wat jy ’n ruk terug al geskryf het, voordat plaasmoorde die land ernstig omgekrap het, nóú vir mense iets te sê hê?

Moontlik is dit Crito se literêre voorkeure wat saamgespeel het, maar Frederick Botha se resensie vir Boeke24 van Hartlam (saamgestel deur Gerda Taljaard en Deborah Steinmair) was die enigste een wat my volle aandag gehou het. Nie dat dit foutloos was nie. ’n Resensent wat liefdesverhale takseer post Fifty Shades behoort darem meer te sê oor die grein van die verhale as wat Botha gedoen het. Hoeveel onskuld en ongetemde passie bly daar in moderne Afrikaanse liefde oor?

Carien Grobler se bespreking (eweneens vir Boeke24) van Sielsiek, Carla van der Spuy en Henk Swanepoel se boek oor die psiges van Suid-Afrika se koelbloedigste kriminele, is ’n moedige poging. Dit gee leiding vir die koerantleser oor die inhoud van die boek, maar dit kon interessanter aangebied gewees het.

In gevalle soos  hierdie neem mens altyd ’n les uit Time-tydskrif se stylboek: Begin met een van die gevalle wat bespreek word, en gebruik dít om die boek te meet.

Jacques Myburgh se inligtingstuk oor die bekroonde jeugboekskrywer Derrick van der Walt se roman vir volwassenes, Tussen vriende (Boeke24) het ek bolangs gelees.

Desmond Painter se bespreking, die vdag antevore in Rapport, van Die dood en die sin van die lewe, deur Anton van Niekerk, het my wel-end-uit laat lees. Painter se eie voorkeure en belangstellings (duidelik die musiek van Bob Dylan en Nick Cave) gee vir hom ’n ongewone invalshoek. Tog is sy hantering van die materiaal gemaklik en maak hy Van Niekerk se boek ’n proposisie.

Net jammer dat die resensie moes verskyn in ’n tyd waarin mense ander aspekte van die dood in hul gedagted gehad het. Crito het so in die terugdeins gelees.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page