Laat my maar uit die staanspoor in alle eerlikheid erken dat ek ‘n aansienlike ongeskooldheid geniet t.o.v. Jungiaanse teorieë oor die ingewikkelde werkinge van die menslike psige.
Selfs t.o.v. “die toegankliker” Sigmund Freud kwalifiseer my kennisvlak my as ‘n “intellektueel agtergeblewene” , ondanks ‘n abortiewe aanslag op ‘n Honneursgraad in die Sielkunde net ná die draai van die 50’s aan Tukkies.
My oud-kollega Cas van Rensburg het ‘n boek of boeke geskryf wat waarskynlik nuttig kon gewees het om op hierdie terrein n ingeligter wese te word. Ek het skandelik nagelaat om dit te lees – soos ‘n hele paar ander boeke van ‘n hele paar ander kollegas ook. Hulle het my waarskynlik in eie munt terugbetaal, want nie al my boeke/boekies tot dusver het ewe goed verkoop nie!
Ewenwel, wat ek eintlik wil deel, is my magtelose frustrasie oor my onvermoë om tot die kern van op die oog af eenvoudige drome deur te dring. Die afgelope paar nagte ryg ek mallerige drome oor die koerantwese in, met my in die meeste gevalle as ‘n soort nar wat in die web van onbeholpenheid verstrik raak.
Laasnag was ek in ‘n koue sweet oor die eis om as ’t ware man-alleen ‘n koerant uit te bring – wel, darem met die hulp van wyle Johan Parreira. Maar Parreira was knapper met sy vuiste as op ‘n tikmasjien – ‘n verskuldigde eer wat ek hom ook laat toekom in my aanstaande boek, “Byl in my Bos”, wat eersdaags by Griffel verskyn.
Meen, een aand wou ‘n bladplakker by” Beeld” my, die nagredakteur, met sy skerp plakkersmes met alle geweld die ewigheid inhelp toe Parreira dringend ontbied word om sake te kom beredder. Sy intimiderende teenwoordigheid het die bladplakker vinnig gekalmeer en hy’t my later na die veiligheid van my motor vergesel. Sulke talente is ook ‘n bate in die emosioneel-gelade atmosfeer van ‘n koerant voor spertyd.
Maar ek loop “Byl in my Bos” vooruit. Koop liewer die blerrie boek, soos Nataniël sou sê.
Die droom dan: dis ek en Parreira en die horlosie, en ons sukkel om iets vir die voorblad te kry, want dit was voor die tyd toe jy elke dag iets oor ’n peperduur partytjie of buitensporige motor van die een of ander hoë tot voorbladnuus kon oppomp. Van Deventer, altyd só vol idees, sit met sy hande in sy hare. Paniek pak hom beet.
Die volgende oomblik: hier loer J.P. Nel (nou by “Son”) om die deur. Waar was hy toe ek hom broodnodig gehad het? Weet nie, maar hy kom in ieder geval nie in die rol van ridder op ‘n wit perd nie. Hy kom net as boodskapper: die vleis is op die kole!
Kyk, ek is lief vir braaivleis, maar elke ding het sy tyd. ‘n Paar minute voor saktyd is nie braaivleistyd nie. Ek stuur Nel na die hel. Maar toe is ek werklik alleen. Parreira het hom waaragtig die uitnodiging vleispotte toe laat welgeval.
Mense wat my ken, sal weet hoe ek in sulke omstandighede bloeddruk en desibels sou opjaag. Maar toe pomp vroulief Tokkie my in die ribbes. “Wat skreeu jy so?” Nou ken ek ongelukkig nie die einde van my droom nie.
Die vorige nag begin my droom stemmig met ‘n voorbeeldige kerkbyeenkoms wat uitloop op’ n “informele Nagmaal” waar gemeentelede onbegeleid ‘n broodjie breek en ‘n kelkie wyn wegsluk. Om ‘n ronde tafel sit so tien mense van wie ek net een gesig herken: dié van my gewaardeerde oud-kollega by “Die Volksblad” Sarel Venter wat in elk geval stoer gereformeerd is en dus kwalik by daardie informele ronde tafel verwag sou word. Ekskuus, Sarel.
Die storie kry ‘n nare kinkel toe dit blyk n jafel met ‘n gestreepte Tukkiebaadjie (die geliefde rooi, blou en goud) het te entoesiasties Nagmaal gevier. Hy kom uit die kerk geslinger. Tokkie kyk hom afkeurend aan, en die volgende oomblik pak sy vrou my vrou met mening. Dis ‘n geruk en ‘n gepluk.
Dit kon ek darem nie toelaat nie. Toe ek my kom kry, is ek midde-in die geveg, met swaaiende elmboë, iets waaaraan ek in my stoutste drome nie sou dink nie. Ek slaan nie aan vroue nie! Ek dink in elk geval die aggressor het in daardie stadium die aftog geblaas, maar ek is ook nie seker nie. Dis mos die frustrerende van drome.
Nou wonder ek of kennis van Jung sou kon help. Sou Cas van Rensburg dalk kon lig werp? Of is drome maar net soos dit soms lyk: gekke stories sonder enige boodskap of betekenis
Comments