top of page
Uitmelkbos

IN HEILIGE HALLE


Die ou Volksraad. Dit word deedae o.m. vir opvoedkundighe toere ingespan.

In Januarie 1964, skuins na my 23ste verjaardag, het Alf Ries, politieke beriggewer van die Nasionale Pers, my, ‘n groentjie in die persgalery van die Volksraad, die verhewe plek gaan wys. Ek het klein gevoel toe ek die eerste keer afkyk op die groen banke waar die lede van die kabinet, die speaker en volksraadslede sit.

Elke keer as ek tonele uit die moderne nuwe parlement sien, soos met die rampspoedige sogenaamde staastrede, dink ek aan daardie waardige plek wat twee jaar lank my werplek was. Hoeveel respek het ek nie daarvoor gehad nie.

In my dag des lewens nie gedink tonele kan hom in 'n parlement afspeel soos ons op die skerm sien, en dat leiers so stamelend en onbeholpe kan optree soos die "agbare" Zuma of so onbeskaafd-onbehoorlik soos die ""agbare" Malema nie.


…of vir vakbondvergaderings.

As werksakker was die volksraad ‘n boeiende plek. In die kabinetsbanke was die formidabele dr. H.F. Verwoerd, wat bo sy tydgenote uitgetroon het, die oud-stoker Ben Schoeman, Eben Dönges, Paul Sauer, Hilgard Muller en die opkomende ster, John Vorster – almal in my jong oë groter as lewensgroot. ‘n Jong vuurvreter, P.W. Botha, het begin aandag trek. In die opposisiebanke was Marais Steyn, wat kon praat dat skuimvlokkies in sy mondhoeke staan, die waardige Piet van der Bijl en die strydvaardige Helen Suzman.

‘n Toespraak van ‘n karakter soos Blaar Coetzee van Vereeniging – altyd op die uitkyk vir ‘n geleentheid om ‘n kwinkslag kwyt te raak – sou ek vir geen geld misloop nie. Op ‘n keer is hy aan die woord. Dr. Jan Moolman (V.P., Oos-Londen) kom half orent om ‘n vraag te stel. “Orde, orde, ” raas Speaker Henning Klopper van Parys, “die agbare lid moet opstaan as hy ‘n vraag wil stel.” Soos blits kom dit van Blaar Coetzee: “Staan op Jan, as jy sit, is die drukking op jou verstand te groot!”

Groot skrik het gevolg na ‘n HvD-scoop – nogal op Die Burger se plakkaat een Saterdagoggend – oor die onenigheid tussen ‘n Nasionale L.V. van Pretoria, Jan Visse van Gezina, en een van die destydse Kleurlingverteenwoordigers, Bill Hollander. Die misverstand het na die wandelgang toe oorgespoel waar ‘n paar geniepsige houe oor en weer gewissel is.

Toe die speaker in die koerant van die opstootjie lees, was hy nie geamuseerd nie Alf Ries ook nie. Drie lesse vir Van Deventer: die speaker is baas van die parlement; nie die eerste minister, soos hy in sy onkunde gedink het nie. Die wandelgang is ‘n “heilige hal” en wat daar gebeur, gebeur as ‘t ware met gegrendelde deure. ‘n Jong abjater krap nie in die politieke beriggewer se slaai nie. Maar dit was blykbaar in my om gevaarlik te leef.


Scan10079

Uit my te kort termyn van twee jaar as parlementêre verslaggewer lê veral een foto my na aan die hart: ek en twee SAUK-kollegas, Neville Krige en Daan Eksteen (albei al saliger) , elk met ‘n krieketpet op.

Doodgewone pette was dit allermins. Nee, dit was pette van die parlementêre krieketspan, deur ons drie met kolf en bal – en dalk veral ons flinke veldwerk – verwerf op die skilderagtige veld van die parlementêre klub Fernwood in Nuweland. As aanvangskolwer teen Simonstad het ek hier ‘n hoogste persoonlike telling van iets in die veertig agter my naam geplaas, boonop nie uit nie!

Onvergeetliker was egter om in ‘n ontspanne atmosfeer onder Fernwood se eike politici soos die V.P.-leier, sir De Villiers Graaff, beter te leer ken; as gedugte kolfvennoot, fyn mens en galante gasheer. ‘n Man uit een stuk, hierdie melkboer van De Grendel aan die Tygerberg. Ek dink steeds hy was uitgeknip vir die rol van staatspresident; een wat berge sou versit om verhoudinge tussen Afrikaanse en Engelse mense te verbeter.

Naskrif: Oor Helen Suzman het ek in my boekie Byl in my Bos in ‘n grafskrif o.m. die stelling kwytgeraak dat sy “die eerste vrou was wat ek teen¬gekom het by wie geen onder¬danigheid teenoor mans ¬bestaan het (of geveins is) nie”. Dit was by terugskoue nie ‘n slim of sensitiewe stelling nie. Onder andere die joernalis Martie Meiring het my in haar resensie van die boek met mening gepak oor die “heel verouderde manlike chauvinisme”. Wat haar ietwat laat vermurwe het, was my slot¬woorde: “Dit is die Helen Suzman vir wie ek ná haar afsterwe op die eerste dag van 2009 simbolies my eie vlag halfstok laat hang het.” Daarop was Meiring se kommentaar: “Die feministe sal hom genadig wees. Dis immers bekend dat baie van die veral Nasiona¬liste-parlementariërs ook vir eers soos Van Deventer gedink het en later ook hul vlag halfstok vir so ’n vrou sou hang, by wyse van spreke.”

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentários


bottom of page