top of page
  • Uitmelkbos

IN HAND EN OOG EN HART


3 JANUARIE 2012, SABIEPARK

Om 71 te word met jou eerste ervarings van die dag twee 7-jarige seuntjies wat by Oupa in die kooi kom klim en ‘n bobbejaanmannetjie wat buite die slaapkamervenster op die swembadmuurtjie sy tande ontbloot, is nogal iets om oor huis toe te skryf.

Huis toe skryf daaroor kon ek egter nie, want die internet-konneksie uit die bos was vanjaar pieperiger as ooit. Om ‘n blog in die bos op te laai met HvD se toestelle en geriewe word toenemend ‘n uitdaging. Die enigste enetjie wat wel die paal gehaal het, was net te veel van ‘n gesukkel.

(Jammer, sommer in dieselfde asem, aan almal wat so geswoeg het om die verjaardagman per selfoon raak te bel met MTN-seine wat hoofsaaklik tussen nul en twee op en af spring en jou telkens, met gepaardgaande bosluis-gevaar, die veld in laat storm om ‘n oproep te neem!)

Die laaste dag of drie van die vakansie het die Sabiepark Wi-Fi klopdisselboom gewerk (moet dit erken), maar toe’s die ou man se program ongelukkig weer ietwat aan die vollerige kant. ‘n Verslag dus van HvD71 agt dae nadat dit gekom en gegaan het. Nou stryk ek aan 72 toe, dan 73, dan 74 …. Aarde!

In ieder geval, die verjaardagfeestelikheid het ook behels “roomys in die boomhuis”. Vir daardie doel het Jacob en Thomas hul beursies te voorskyn gebring, Oupa kon na hartelus kies uit die yskas by die Protea-hotel by die Krugerbrug, maar, wyslik, darem met ‘n plafon wat die prys betref.

Sien, Oupa het die vakansie as’t ware roomys herontdek, en die seuns was teen daardie tyd bedug op die moontlik skade wat hierdie nuwe liefde van hul gryse grootvader vir hul sakke kon inhou (soos vir sy gewigsbeheer!).

Die “boomhuis” is gawe klein “losies” in ‘n reuse-jakkalsbessie aan die Sabie wat deur en deur ‘n kuier werd is – met die kleingoed of met iets sterkers in die hand saam met vriende. Protea betaal my niks, maar ek beveel daardie gerief van harte aan by almal wat in daardie omgewing kom.

Die aand is ‘n fris filet in die Weber op Tarlehoet se stoep gaar gemaak saam met die Philip van Rensburgs van Die Plasie, erf 62, Wildevy, wat, terloops, nou spog met ‘n salige dek waar ‘n mens ‘n hond uit die bos kan kuier. Dié het ons ‘n week tevore behoorlik ingewy.

Die seuns het elke denkbare drywende kersie uitgedelf en vir Oupa ‘n verskeidenheid liggie-skepies te water gelaat. Die fakkels om die lapa het lustig geflikker. Die bosnagaap moes die aand spesiaal welkom gevoel het!

Oupa is ook afgeneem met ‘n “sparkle” in sy hand. Julle weet mos: daardie stokkies uit ‘n vorige era wat ‘n mens aan die een punt aan die brand steek. Dan gooi hy sterretjies totdat hy uitgebrand is. Het waarskynlik as kind laas ene vasgehou, maar Ouma het die goed iewers in ‘n winkel op Melkbos/Blouberg raakgeloop en ‘n voorraadjie vir die seuns saamgevat.

Almal wat by Tarlehoet kom kuier het, was ingenome met dié jeug-herinnering van outydse oujaarsaande en so. Maar niemand was so ingenome soos Oupa nie. Die “sparkle” was op 3 Januarie in sy hand EN in sy oog EN in sy hart.

Die seuns sit in elk geval altyd ‘n glinstering daar … stokkie of te nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page