top of page
  • Uitmelkbos

IN DIE HART, UIT DIE KOP


Amper van blad tot blad duik ou gunstelinge op: baie wat ek op skool in die hart leer liefkry en uit die kop leer ken het. Eugène Marais, A.G. Visser, Jan F. Celliers, Totius , C. Louis Leipoldt, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers – almal wat die skoonheid van poësie in die jare 50 van die vorige eeu by hierdie seuntjie  tuisgebring het,.  

Die ouer digters oorheers, wat seker te verstane is as ‘n mens na die metodiek kyk. Die koerantbylaag By, Leserskring en RSG het saamgespan om die gewildste gedigte in Afrikaans deur die publiek te laat kies –  dit is dus deur en deur demokraties en Opperman se Verseboeke speel waarskynlik geen geringe rol in die samstelling van die erelys nie.

Sowat 1 300  gedigte is  benoem, lees ek.  Die 100 wat die paal gehaal het, verteenwoordig ‘n klein groepie van 35 digters. Al 35 is darem nie mense van my generasie nie.  Ingrid Jonker, Antjie Krog, Breyten Breytenbach en andere maak deeglike buigings.

Geluk, oud-kollega J.C. (Jaap) Steyn, met die insluiting van jou Woord en sin. Ander oud-kollega Pirow Bekker (wat saam met Jaap aan Die Volksblad se subtafel gesit het) ontbreek verrassend.

HvD se persoonlike gunsteling Die dans van die reën van Marais het sewende plek behaal. Toe dit gisteraand voor slapenstyd weer lees … en weer … kon ek nie begryp hoekom slegs sewende nie.  Marais se ander juweel Winternag (wat 108 jaar oud is)  is  darem bo-aan die lys.  Sy Sneeuwitjie is ook daar – al is die Racheltjie de Beer-storie volgens oortuigende nuwe getuienis apokrief.

Maria van Elisabeth Eybers is nommer twee; Ma van Antjie Krog nommer drie.  Maar wag, ek gaan darem nie al die geheimpies verklap nie!

Arm aan natuurgedigte is die bundel nie. Na my smaak móés o.a. die volgende treffende natuurverse egter beslis ook in die net opgeskep te gewees het:  Theo Wassenaar se See-sonnet;   Toon van den Heever se Haelwit getapelde wolke, W.E.G. Louw se Vaalvalk (wat sing soos hy draai, soos hy draai) en Leipoldt se Koperkapel.

Waar is hulle?   Hoe op aarde het party wat ingesluit is, hulle dan uitgestof?

Maar die keuse was demokraties.  En demokrasie is nie perfek nie. Benjamin Disraeli het dit  mos al meer as ‘n eeu gelede as ‘n “dodelike lawwigheid” bestempel.

NASKRIF: Moet darem meld dat hierdie my blog nommer 996 is sedert ek in September 2006  met die tydverdryf begin het. Tyd om te besin?

4 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page