top of page
  • Uitmelkbos

IN BEGRAFNISBRIEF


M.M. het lank vir my net een naam in herinnering geroep: Marilyn Monroe, die skattige, blonde, pruilmond-aktrise wat ‘n Amerikaanse president (John F. Kennedy) verlei het, en saam met Tony Curtis en Jack Lemmon in die skreeusnaakse 1959-rolprent “Some Like It Hot” gespeel het.

Algaande leert men. Hoor ek M.M., dink ek deesdae ook aan Mattys Michielse Walters, Swartlander, met ‘n slag vir satire, wat heerlike verse geskep het – ook dramas en essays (mooi foto hierbo deur Philip de Vos).


Twee jaar gelede, op 26 Oktober 2008, het ek hier oor “ontdekkings” geskryf. Op my letterkundige lysie was onder meer ‘n heerlike stuk humor deur André P. Brink met die titel “‘n Reël is ‘n reël” en die tweede ‘n treffende Audrey Blignault-essay oor Pretoria se jakarandas, met die titel “ ‘n Vrolike lied”, asook herontdekkings soos Ayn Rand se “Fountainhead” en “Paul Gallico” se The Snow Goose, wat in 1957 in matriek voorgeskryf was.

Musiek-ontdekkings (en -herontdekkings) het ‘n wye spektrum omvat – van trefferdeuntjies uit my jeug (Elvis, Pat Boone, Perry Como, Debbie Reynolds Doris Day…) tot die grootse operakore en –arias van Guiseppe Verdi, my gunstelingkomponis vir baie jare, en alle Mozart-musiek. Dit egter net terloops.

My storie gaan eintlik oor my ontdekking van M.M. Walters. Op my bedkassie lê op die oomblik sy versebundel, “ Apocrypha”, wat reeds in 1969 verskyn het. Daarin is tydlose verse oor o.m. ‘n bruilof (“Ek was ook op die bruilof te Kana”), modes (“Die jonges dra rokkies wat konstateer” en “Toe Eva haar tussen die vyebome aantrek”), asook die vrou (“Ek het haar oop mond gesien” en “En sou ook graag wou skryf”.)

Laasgenoemde handel oor sy eie vrou, en die slotwoorde is magistraal: “ A, my vrou is koningsdogter! Maar sy verstaan Afrikaans en sal nie toelaat dat ek stuitig raak nie.”)

My vriend Thys Slabber van Melkbos het “Aprocrypha” vir my vir R7,95 by ‘n winkel vir tweedehandse boeke op Clanwilliam gekoop. Vriende, hou julle oë oop vir n eksemplaar as julle weer tussen ou boeke rondkrap! Betaal ook maar gerus meer as R7,95 as dit moet!

Hoekom Thys juis hierdie bundeltjie vir my gekoop het? Dis nou ook weer ‘n ander storie, wat begin by sy ma se begrafnis enkele jare gelede hier op Melkbos. Op die begrafnisbrief, voor en agter, was twee wonderlike verse. Albei was sonder “erkenning”.

Toe ons uitstap vir toebroodjies en tee, vra ek Thys na die onbekende digter. “M.M. Walters”, antwoord hy toe, “wag dat ek jou voorstel”.

Presies wat die Swartlandse konneksie was, kan ek nie meer mooi onthou nie, maar dit is wat hierdie begaafde skrywer (sy lewe lank onderwyser en dosent in Afrikaans) daardie twee gedigte laat skryf, en hom na die begrafnis gebring het.

Dit was sy keuse dat sy naam nie gepubliseer word nie, omdat hy geredeneer het die kollig moet nie op hom kom nie, wel op die oorledene wie se begrafnis dit was.

Begaafd .. en dan nog beskeie ook.

Nietemin, ek het skielik die vrees dat veral daardie prag-gedig oor “Swartland se grond” op die voorblad van daardie begrafnisbrief verlore kan raak, en dat niemand later sal weet dit is ‘n klein M.M. Walters-meesterstuk nie. Wag, laat ek sommer nou oorry na Thys toe en gaan kyk of hy nog vir my ene het ….

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page