Diegene met lang genoeg geheues om Haasdas se nuuskas te onthou (asook Heidi en die Brady Bunch), behoort dadelik die sensasie van herkenning te gewaar as ek praat van Petrocelli en Petrocelli se huis.
Tony Petrocelli was in die begindae van TV in Suid-Afrika ‘n gewilde televisie-advokaat wat van Boston na die platteland uitgewyk het. Hy het die kuns geken om waar alles verlore lyk, die kastaiings vir sy kliënte uit die vuur te krap. Sy ryding was ‘n gedaan ou bakkie en hy was aan’t bou aan ‘n huis wat nooit kon klaarkry nie.
Die huis op die foto noem ons Petrocelli se huis. Dis nie oor enige ooreenkoms in voorkoms nie. Hierdie een, reg oorkant my in Penguin Place, Melkbos, is van ‘n ander stoffasie. Maar dit kon eenvoudig ook nie klaarkom nie. Na vier of vyf jaar staan dit nou se einde kant toe. Die bure is uit hul vel van verligting.
Petrocelli se TV-huis is iewers in Arizona in die Nevadawoestyn opgerig. Die konstruksie van hierdie gele het ook eindelose “woestynstorms” veroorsaak. As die suidoos opsteek, kom die seesand in vlae na die arme bure aangerol. En sementsakke. En ander gemors. Dan is dit uit met die kruiwaens en grawe om op jou werf orde te herstel.
Hoekom die bouery so lank geduur het, is ‘n bitter lang storie waarin oortreding van omtrent elke bouregulasie onder die son ter sprake was. Die oorspronklike eienaar, ene Baragwanath, ‘n afstammeling van die man na wie die Baragwanath-hospitaal genoem is, is al lankal langboompies toe.
Na ‘n lang tussenfase waarin niks gebeur het nie, het die nuwe eienaar op die toneel gekom. Hy het die plek op ‘n veiling gekoop, en moes heelwat herbou om onder meer binne hoogtegrense te kom. ‘n Laer nuwe vlak moes onder meer bygevoeg word om die gemiddelde hoogte af te bring.
Maar dis nie al nie. Die jong eienaar het as ‘t ware die “stooskrapers” ingestuur. Kaste, vloere, muurteëls en wat nog is voor die voet gestroop en vragte vol weggery. Van daardie huis waarin nog nooit iemand gewoon het nie, was uiteindelik net die buitedop oor. Selfs binnemure het links en regs gewaai soos vertrekke groter of kleiner gemaak is.
Een van Tokkie se roetinetakies van die laaste jare was om gereeld by ons voordeur te gaan inspeksie doen watter onaansienlikheid die wind daar aangerig het. Dan stoom sy oor om werksmense aan hul ore te gaan naderpluk en te eis: “Maak skoon!”
Sy wonder of die stormwaterdreinering gaan voldoende wees, vra sy nou die dag. Ek bespeur in haar stem amper ‘n hoopvolheid dat ‘n nuwe probleem wag om na vore te kom – anders kan dit vir iemand met so ‘n rustelose gees soos my gade buitengewoon vervelig word, vrees ek.
Gelukkig vir haar is hoër op in die straat darem ook nog ‘n bouery aan die gang wat belofte toon om ‘n uitgerekte besigheid te word.
Want dis nou maar een ding van Penguin Place wat hom onderskei van alle ander strate waarin ek al gewoon het – van ons dertien jaar gelede hier ingetrek het, was hy nog nooit sonder sy kwota messelaars, pleisteraars en annerlike soorte konstrukisietipes nie.
Ons sal waaragtig nie weet wat ons getref het as rustigheid en stabiliteit in onse straat moet neerdaal nie. (HvD)
Comments