top of page
  • Uitmelkbos

IL COLOSSALE!


Dawid en Goliat


Dink aan ‘n drywende Wimbledon, Roland Garosse of Flushing Meadow: iets soos tien tennisbane op elk van die 11 dekke langs mekaar ingeryg.  So kolossaal is die MSC Opera (251 x 29 meter) waarmee ons klomp Walvisbaai en Luderitz toe is. 

 Alles aan hierdie luukse-vakansieskip is enorm – buiten die storthokkies!  Dit het, terloops, ‘n speletjie geword om so na al die GROOT mense aan boord te korrel – daar was BAIE – en te raai hoe hulle daardie lywe onder die stortkop inwurm.  

 Maar grootte:  Toe ons op Luderitz aan wal gaan, is die indrukwekkende formaat van die reusagtige gevaarte eers deeglik tuisgebring.  Die Opera het doer in die baai in die diep waters bly dryf. Ons is kaai toe gependel in spesiale bote wat ook as reddingsvaartuie dien. Elk vat iets soos 125 (of dalk 150) sittende pasassiers. Langs die Opera is so ‘n boot ‘n spikkeltjie – of ‘n blertsie voëltjiestront, soos my vriend Hans du Plessis ‘n keer oor iets gedig het.  Kyk die foto.   

 Aan boord kon jy tot op die laaste dag nog mense raakloop wat verward rigting soek. Toe die skip omdraai en suid begin vaar, was alles boonop aan die “verkeerde” kant.  Bakboord het dan skielik stuurboord geword!   

 Oral teen die mure van die 11 dekke – elke met die naam van ‘n gewilde opera – is darem borde met hulpvaardige kolletjies: Jy is hier. (Dit het iemand glo eendag laat vra: Hoe weet hulle dit?)  Maar in ons groep was iemand – naam is my geheim – wat ondanks al die pyltjies op en af nou nog na die Byblos Discoteca op dek 12 (La Bohemedek) soek. Hy is skepties oor die bestaan van die mooi, rustige plek met sy reuse-glasvensters.

 Die getal passasiers vat-vat aan die 2 000. Hulle word van kop tot tone bedien en bederf deur 700 uniform- en oorpakdraers: van 110 loodgieters tot 80 elektrisiëns en 50 skrynwerkers. Ek het niemand gesien wat bleek om die kiewe is nie – die Opera wieg skaars as die seeperdjies al lekker rof raak – maar van ooretery en so het ‘n hele paar seker mediese hulp nodig gekry. Vir daardie doel staan ‘n span van 50 met stetoskope en pille gereed. En o, daar is ‘n brandweer van 100 weerbare manne!   (Het gedagtes laat terugdwaal na Kroonstad se historiese stasie wat afgebrand het – g’n brandweer.)

 Aan die kosfront is alles ook in maksi-formaat. Daarvan vertel ek in die volgende blog. 

 Selfs die koerante wat teen $4 per eksemplaar per internet afgelaai kan laat word, is buitengewone knewels.  Die wye reeks sluit Beeld en Die Burger in, maar nie Rapport nie. Die Sondag aan boord het ek die Sunday Times bestel. Dis ‘n propperliese “boek” van 100 plus bladsye in ponieformaat, met rugkant gegom.  Swaar soos ‘n baksteen.  Het nietemin myne huis toe gebring as ‘n soewenier.  Jou naam en kajuitnommer staan immers – baie vernaam – op elke bladsy gedruk.


 (Die koeranthemp waarin ek vir die foto geklee is, is van materiaal wat ek in die jare 90 in Honolulu,Hawaii, gekoop het – die laaste op die rol en net-net genoeg om die nodige te bedek.)

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page