Die Claassens-broers danig in hul skik met hul sertifikate.
Die Afrikaanse woordeskat bestaan uit een miljoen woorde waarvan die meerderheid uiteindelik in die omvangryke Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) te boek gestel sal wees.
Dis maar net ‘n baie klein-klein druppeltjie aan ‘n enorme emmer, maar my genoegdoening dat ek twee uit ‘n miljoen woorde borg, steek ek nie onder ‘n maatemmer weg nie. Dit staan tot in my CV.
Danksy ‘n stukke flinkdink van Tokkie, my vrou, is die vier kleinkinders ook nou saam in die WAT-bootjie. Elkeen borg ‘n word op haar voorstel. Soos oupa waarde heg aan sy borgsertifikaat, het hulle ook trots hulle s’n in ontvangs geneem.
Jacob en Thomas, die tweeling, borg onderskeidelik “blinkblaar-wag-‘n-bietjie” en “jakkalbessie”, kleinboet Christopher borg “wildevy” en nefie Migael van Deventer borg die woord “spesiaal”. Sal aanstons elkeen se storie vertel.
Oupa se woorde – indien iemand dalk nie weet nie – is “koerant” en “joernalis”. Eersgenoemde borg ek ekslusief. Dis my woord. Myne alleen. Vir die woord “joernalis” kan daar meer borge wees. My borgskap daarvan is nie eksklusief nie. Die woord lê my nietemin na aan die hart. As iemand my vra wat my nering was, twyfel ek nooit vir een oomblik aan my antwoord nie. Ek was ‘n “joernalis”. Kort en klaar.
Die wete dat my verrbintenis van 36 jaar met Naspers se koerante ook in hierdie opsig simbolies verseël is, is ‘n heuglike een.
Vir die verbintenis met die blinkblaar-wag-‘n-bietjie hoef nie ver gesoek te word nie. Op ons boshuis, Tarlehoet, se werf in Sabiepark staan ‘n hele paar wag-‘n-bietjies. By die straatingang staan ‘n opgeskote een. Toe die kinders kleiner was, het Ouma Tokkie hulle altyd deur die skerp dorings laat “vang” wanneer ons verbystap piekniekplek toe.
Dan sê sy vermanend vir die boom: “Nee, boom, ons kan nie nou wag nie; ons gaan nou piekniekplek toe”. Eindelose pret is aan al die kinders verskaf, maar veral aan Jacob. Hy het gekraai van plesier en wou elke keer dat die boom hom eerste “vang”.
Op ons werf is ook jakkalsbessies. En by die Proteahotel by die Krugerhek waar ons altyd “roomys in die boomhuis” gaan eet, is ‘n reuse-meneer. Die rede vir Thomas se borgskap is egter te vinde in ‘n preek van ds. Nelus Niemandt, oud-NG-moderator, in ons Skukuza-gemeentetjie se karaktervolle kerk in die personeeldorp, waar hy op besoek was.
Christopher by die naambord in Wildevylaan.
Die leraar preek daardie Sondag boeiend oor bome en vra vir die lidmate wat hul gunstelingbome is. Thomas se hand is oudergewoonte eerste in die lug: “jakkalsbessie”. (Sy vrymoedigheid en kennis het al R50 vir homself verdien deur in ‘n diens in die NG gemeente Welgemoed blitsvinnig ‘n ralreier as ‘n reier te eien.)
Wildevy is die naam van die straat voor ons huis waar die seuns so graag kuier. Teen die kombuismuur hang ‘n yslike kaart van Sabiepark. Toe Christopher kleiner was, moes Ouma hom telkens op die kombuiskas tel en op die kaart wys waar is Wildevylaan. As hy dit eers op sy radar het, kry hy vinnig-vinnig 154.
Migael – borg van die word “spesiaal”.
Migael het nie so ‘n konneksie met ‘n boomnaam nie. Vir kinders met spesiale uitdagings speel bome en hul name nie juis ‘n groot rol in hul lewens nie. Ek vra toe vir sy ma, Mariza, om ‘n woord te kies. Sy het nie lank geaarsel nie. Haar voorstel is nie om dowe neuter nie. Dit is natuurlik nie net geïnspireer deur haar seun se spesiale uitdagings nie, maar ook deur Migael self en haar belewenis van hom. Een van sy eerste boekies was deur Max Lucado met die titel “Jy is spesiaal”.
Op daardie noot: hoe spesiaal is dit nie vir hierdie oupa nie dat sy vier kleinseuns ook nou elk ‘n word in die WAT borg. Die WAT is ‘n bewonderenswaardige onderneming en hul bydrae is in hul oupa se oë nogal iets WAT-wonders.
Vier van ons spannetjie se woorde – “blinkblaar-wag-‘n-bietjie, “jakkalsbessie”, “joernalis en “koerant” – is reeds gepubliseer in die eerste veertien dele wat alfabeties van A tot Skooier strek. “Spesiaal” kom binnekort aan die beurt. Heelwat later eers “wildevy”. Maar nou-ja, Christopher is die jongste. Hy moet maar sy beurt afwag.
Comments