Van die hele Idols-gedoente weet ek soveel soos die spreekwoordelike kat van saffraan. Van die rampsalige debakel rondom Jason en Natasha kon ek egter nie anders as om kennis te neem nie. Meen, die media was op hol asof die 2010-sokker van ons weggeraap is of iets.
Soos dit vir my lyk, het oorywerige ondersteuners van die twee finaliste die selfoonnetwerke so met sms’e gebombardeer dat die spulletjie, soos my ouma altyd gesê het, “toetentaal gekollapseer” het. Miljuisende stemme het ongeteld in die lug bly hang – wat, terloops, die begrip “spookstem” in my boekie ‘n nuwe betekenis gee!
Nietemin, uiteindelik is die verklaarde wenner toe eintlik die verloorder en word die ware wenner as ‘n mede-wenner uitgeroep – of iets in daardie trant. Nie dat dit my juis beroer nie.
Wel duik by hierdie onkundige twee vrae op wat ek graag eerstens aan die adres van Idols-eksperts en tweedens aan die selfoon-ghoeroes wil rig.
Vraag nommer een is watter geloofwaardigheid enige uitslag van enige kompetisie kan hê as begeesterdes maar mag bly stemme uitbring of dit uit die mode raak. Ek lees iewers van ‘n dametjie, meen ek, wat op die rand van ineenstorting was omdat haar 40 stemme vir Jason nie betyds kon deurgaan nie. Veertig stemme van een mens vir een kandidaat – goeie aarde!
Sulke absurde verwringings van die demokrasie lyk vir hierdie waarnemer na ‘n uitnodiging vir manipulering en die resep vir meer fiasko’s as net die huidige verleentheid wat me. Patricia Scholtemeyer en haar M-Net-slimjanne met soveel eier op die gesig gelaat het.
Idles (soos hierbo met die Idols-logo) tong in die kies gespot word, is mos dan ‘n beter naam vir die program wat klaarblyklik uit en uit niks anders as ‘n bogspul kan wees nie.
My tweede vraag is ietwat ernstiger. Denkende aan al die noodsituasies wat enige tyd enige plek kan opduik, wonder ek wat die lot van ‘n dringende sms of oproep na ‘n dokter, die polisie, brandweer en dies meer gaan wees as dit in so gruwelike verkeersknoop in die eter vasgevang sou raak.
Eers 24 uur later by sy bestemming kom? Dan is die slagoffer al dood, beroof of verkrag, die huis afgebrand of die motorkapers ver weg met ‘n gesteelde kar. Selfs ‘n kontrak wat van ‘n vinnige antwoord afhanklik is, kan so sneuwel – of erge huweliksonmin gegenereer word. In sulke gevalle is daar nie die geleentheid om later die gemors te beredder nie, en is verskonings te laat vir trane.
Ekself het al helder oordag, sonder enige kompetisie van Idols-beheptes, ‘n selfoonmaatskappy se noodnommer probeer skakel oor ‘n man wat met sy kop op die bedrywige N1 naby Colesberg lê – in die pad van duisende motorwiele wat teen 120 k/pu van noord na suid voortsnel. Wat ek vir my moeite gekry het, was die mededeling dat al die “konsultante” op daardie oomblik besig was, en daarna geblikte musiek – eindeloos.
Ander belangrike oproepe word telkemale gestuit deur die sein “network busy”.
Slaan my dood, maar ek sal nimmer as te nooit begryp dat instansies wat weet dat hulle vermoë (kapasiteit) in normale omstandighede op die rand van ooreising is, hulle blootstel aan sulke ligsinnige avontuurtjies soos die Idols-stemmery nie.
Tensy dit uit naakte gierigheid is.
Comments