top of page

IDIOTE IN HUL BOTE

Uitmelkbos

Elke jaar as die walvisse Melkbosstrand toe kom, kom ook die idiote in hul bote.

In ‘n verskeidenheid raasbek-vaartuigies sak hulle op die arme kolosse van die diepsee toe en sirkel dreunend al hoe nader en nader.

Of hulle kom ewe windgat aangerits op hul ratse waterponies wat die branders met swierige swaaie en swenke oopkloof.

‘n Mens wens dat net een kortgebakerde walvis hom vervies en hierdie selfsugtige rusverstoorders met een magtige swaai van sy statige stert tot doer in die blou waters wil klap.

Dalk sal dit ‘n einde bring aan hierdie sinnelose “sport”.

Maar walvisse is mos vredeliewende diere. Pleks van baklei vir hul regte, gee hulle liewer stil-stil pad.

Een oomblik sien jy nog die kenmerkende sproei wat walvis-teenwoordigheid verraai of, as jy gelukkig is, die reuse-sterte ‘n klipgooi van die strand af in die water flap. Kort daarna is daar net water.

Dan is die walvisse vort en is almal se plesier bederf.

Jy wonder of die boot-entoesiaste nie besef wat die onvermydelike resultaat van hul nare onbedagsaamheid is nie. Kom hulle nie agter dat die walvisse elke seisoen skamer raak, langer wegbly en liefs so ver moontlik buite sig bly nie?

Jy wonder ook wat is dit wat sulke mense dryf. Is dit vir adrenalien? Is dit om by vriende te kan spog ?

Jammer, ek dink by daardie garde is ‘n skroef in die kop los – soos by daardie 4×4-jafels* wat in natuurreservate en wildtuine roekeloos deur die veld sal ploeg om tot teenaan ‘n leeu of ‘n luiperd te kom.

Hul IK’s kan nie buitengewoon hoog wees nie.

In my verseboekie Polisie, Polisie, Ons Reënboog Is Geroof het ek in 2003 in ‘n versie Walvistyd my soos volg oor die walvis-verdrywers uitgelaat:

Idiote in hul bote

Jaag walvistyd

Die branders plat –

Met hul verstand

In laagste rat.

In 2009 verwoord daardie versie nog presies hoe ek oor hulle voel.

* Moenie skiet nie! My verwysing na 4×4-jafels is geen veralgemening nie. Ek ry immers self met ‘n 4×4 – maar ek jaag nie die veld in agter n leeu of luiperd aan nie.

2 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Kommentare


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page