top of page
  • Izak de Vries

Ideale lesers en resensente

Die prinses het my nou so mooi opdrag gegee om weer oor resensente te skryf, dat ek dit graag sal doen.

Ek lees baie graag resensies, maar as ek vooraf weet ek wil ’n boek lees, dan sal opsetlik wag om eers self te lees voor ek die resensies lees.

Hoekom lees ek resensies? Want tien paar oë sien meer raak as een paar oë. Ek leer dikwels baie uit resensies.

Vir wie word resensies geskryf? Dit hang af. Sommige publikasies, soos LitNet, laat jou toe om boeke deeglik te ontleed. Dis lekker, want dan kan jy werklik jou eie ontledings deel met die leser. Ander gee jou bitter min woorde. Ek dink, byvoorbeeld, Cilliers se resensie sou minder stug oorgekom het as sy meer woorde gehad het. As ’n mens min woorde het, kan jy nie nuanses uitlig nie.

Moet resensente boeke bemark? Daar is baie debatte hieroor. Ek glo dat ’n resensent die potensiële leser in die oog moet hou en vir daardie leser vertel of die roman vir hom of haar bedoel is.

Ek kan tog nie ’n lekkerleesroman, soos Oop kaarte van Annemari Coetser oor dieselfde kam skeer as Joan Hambidge se baie mooi, maar baie moeilike Kladboek nie?

Oop Kaarte en Kladboek gaan toevallig albei oor die tipe verhoudings waaroor Cilliers so frons: In albei word meer as net twee partners by ’n seksuele verhouding betrek. Tog verskil die teikengehore van albei radikaal. (Wie het al die tekste gelees?)

Ek glo dus wel dat ’n bemarkingsfunksie een van die doele van ’n resensie is, maar dis nie al nie. Die resensent moet waarskynlik vir die potensiële leser laat verstaan dis vir haar / hom, al dan nie. As ek tannies wat net slapbandliefdesboeke lees sover kry om Kladboek te lees, sal ek vreeslik bly wees, maar dan moet ek hulle net waarsku dis nie maklik nie. Aan die ander kant sal mense wat ’n grondige ondersoek na poli-amorie soek, teleurgesteld wees oor Oop kaarte, want Oop kaarte is gewoon ’n lekker liefdesroman (wat goed geskryf is).

En dis nie al nie. ’n Goeie resensent sal ’n forum, soos LitNet, gebruik om ook die leser te lei na ander tekste wat moontlik interessant sal wees by die lees van hierdie werk. Dit is ook moontlik in korter resensies, maar moeiliker.

Dis hoekom ek resensies lees. Ek glo dat resensente dikwels vir mý kan help om nuanses uit te lig in ’n boek wat ek nie raakgesien het nie.

Die prinses is egter baie korrek wanneer sy sê kuns is tegelyk iets wat diep uit die psige van die kunstenaar kom, en dan ook kommersieel is.

Almal wat my blog lees, sal weet dat ek nooit ryk kan word uit Byna Liefde nie, maar as mense die boek sou koop, sal ek darem lekker kan vakansie hou met die geld. Aan die ander kant is daar baie mense wat graag wil vakansie hou en hulle sal dus mooi wil dink of hulle Izak de Vries se prul wil aanskaf, of ’n ekstra stel tentpenne. (Of kondome en rome?)

’n Negatiewe resensie kan maak dat mense liewer tentpenne sal koop.

Tog: NO news is BAD news. BAD news is GOOD news. Kyk bietjie wat Harry skryf:

Hahahaha Izak. Ons wag vir jou volgende boek. Deesdae is sms en skype so sinoniem met liefde en romanse dat jy dit so te sê nie meer kan onderskei nie... Anyway. As Cecile ’n resensie oor jou boek doen, moet jy weet jy het dit gemaak in die skrywerswêreld. Jy moet begin worry as sy nie ’n resensie doen oor jou boek nie. Hou so aan!

Natuurlik is Harry reg. Oor Skype, maar ook oor die feit dat ek veel eerder Cilliers se resensie sou wou hê as geen resensie nie.

Terug na die prinses:

Ek wonder net of daar ‘n ander manier is om te werk te gaan om resensies meer toeganklik te maak vir die literêre leek - Jan-Alleman wat wil weet of die boek soetsappig is, enige obsene materiaal bevat, mooi prentjies in het, en die moeite werd is om te koop.

Dis deels waaroor dit gaan, prinses. Ek stem. En dalkies, net dalkies, het iemand daardie verwysing in Cilliers se resensie na pornografie raakgesien en toe die boek gaan koop!

Die grap is, niemand het nog kommentaar gelewer op die godsdienstige ondertoon in Byna Liefde nie... Nou ja.

Maar, baie belangriker nog, wat kan “gewone mense” bydra tot die lees van ’n boek? Terug na die Prinses:

Kyk, enige iemand kan mos deesdae ‘n resensie publiseer op online-handelaars se webwerwe soos Amazon en Kalahari. Omdat hierdie resensies deur lesers geskryf word, en nie noodwendig deur mense met aansien binne literêre kringe nie, is dit dalk meer op die man af. Meer: ‘Die man ontmoet die vrou. Hulle trou. Kak boek’. Maar ook, omdat hierdie resensies geskryf word deur mense wat nie noodwendig ‘n naam het binne die literêre wêreld het nie, kan hul integriteit en bekwaamheid nou weer bevraagteken word.

Jy’s natuurlik doodreg, hoogheid! Daar word BAIE navorsing gedoen oor die toegang wat “gewone” mense het tot blogs en die invloed wat hulle het op verkope. Die antwoord is: Meer as wat die slim literêre mense dink. Lesers lees wat gewone mense sê!

Ek is dus verheug oor elkeen wat op die blog skryf hulle lees my boek. My hart slaan bollemakiesie van blydskap as Cindy (Original Cin) skryf:

I'm enjoying your book, albeit slowly; I need to reread constantly to make sure that no idiom is lost is translation.

Niemand koop haar nie, niemand betaal haar nie. DIT IS WERKLIK WONDERLIK.

Maar, terug na die prinses:

Maar toe ek so deur Cilliers se resensie begin werk, besef ek egter dat haar taalgebruik eintlik heel eenvoudig is – inderwaarheid, presies op die vlak van die gemiddelde Suid-Afrikaanse koerantleser. Sy is geensins hoogdrawend en afbrekend nie. En wat sy sê, al stem ek nie altyd saam met haar nie, dra definitief meriete. Eintlik, besef ek net weer, is Cilliers uiters bekwaam met dit wat sy doen.

So waarom het ek dan so geworstel deur die resensie? Bloot omdat ek nie die boek voor my had om dit te vergelyk nie! Maar ek het nou die skakel onder my favourites gesave, en sodra ek klaar die boek gelees het, gaan ek weer die resensie bekyk.

Dis hy! Nou is jy op die regte pad, hoogheid! Ek herlees ook resensies talle male. (En nie net resensies van my eie boeke nie!-)

Die prinses vra ook:

So hier is nou die eintlike issue wat ek het: Is een van die uitkomste van ‘n resensie enigsins dat die resensent die boek moet aanbeveel? Is die doel met ‘n resensie dan nie eintlik bloot om debat en bespreking te stimuleer nie? Maar indien dit die geval is, waarom die resensie publiseer slegs drie maande na die boek die rakke gehaal het, en in ‘n familiekoerant? Waarom nie uitsluitlik in publikasies gemik op ywerige in-diepte lesers, taalpraktisyne, akademici ens nie?

Prinses. Jy sit in Londen. Daar het julle sulke goed. By ons vou boektydskrifte gereeld. Books & Leisure het net meer as ’n jaar gehou. Boeke-Insig doen okay, maar hulle het spasieprobleme, en steeds is daar te min mense wat dit koop. (Dus, mense, TEKEN asseblief in op BOEKE-INSIG!)

Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport het genoeg lesers dat hulle plek kan gee aan resensies. Hulle sou meer geld gekry het as hulle daardie bladsye aan sport, seks en kondome gewy het. Dis eintlik maar net Naspers wat baie nice is en iets doen vir die Afrikaanse boek. Soos Harry vir my sê, dis ’n voorreg om plek te kry in so ’n publikasie.

En bespreking stimuleer? Ha! Hier klets ons al ’n hele week oor een resensie!

Nog ’n prinsesvraag:

So, is dit dalk aanbevole om die styl van die tradisionele resensie aan te pas binne sekere publikasies om meer effektief tot die leser te spreek, of kloof ek nou hare oor niks? Watter funksie dien ‘n literêre analise binne ’n familiekoerant?

Ek dink ek het dit deels al beantwoord, prinses. Maar, mag ek jou vertel van een van my eie moerse flaters? Ek het verlede jaar ’n gesprek met Breyten Breytenbach gevoer oor A veil of footsteps. Omdat LitNet ’n literêre blad is, en omdat Die Burger toe al reeds ’n “gewone” gesprek met Breyten gevoer het, wou ek die leser bekendstel aan die boek deur ’n gesprek te voer in die styl waarin die boek geskryf is. En was dit nou ’n mislukking! Ampie Coetzee, ’n baie geleerde man, het my behoorlik uitgetrap en die SêNetters het my kop geëis!

Ek weet nie, dalk wou ek te slim wees. Ons het egter ’n helse bespreking veroorsaak!

Die punt is: Ek hou nou maar weer by eenvoudige vrae en antwoorde, al is dit LitNet!

Maar goed. Ek moet nou ophou gesels. Een klein dingetjie net nog: In die letterkunde verwys ons na die ideale leser. Dis iemand wat nie bestaan nie.

Die “ideale leser” is een wat AL die literêre intertekste sal verstaan.

In Byna liefde se openingsverhaal waarsku ek al die leser dat hulle verby die oppervlak moet kyk as dit oor verhoudings gaan: Die boeke wat ek daar by die naam noem, is ’n voorspooksel van iets wat gaan kom. Dit vertel ook die leser dat, net soos verhoudings nie swart en wit was in die “ou dae” nie, so sal hulle ook nie vandag wees nie.

Maar, onthou die ideale leser bestaan nie.

Die ideale leser sou ook alle ekstratekstuele verwysings kon snap (dis goed wat buite die letterkunde gebeur.) Sou so die ideale leser nie wonder oor daardie storie waar Umkhonto en die ou SAW-manne saamgegooi word nie, want hulle sal weet dat sulke kampe regtig plaasvind, en dat hulle juis in die bos plaasvind, want dis waar soldate die beste praat. Die ideale leser sou ook weet dat Izak vir vyf jaar lank gereeld gewerk het (deels voltyds) vir ’n organisasie wat soortgelyke kampe gereël het. (Ons s’n was net vir jonger mense.) Ons het presies geweet wanneer die snot en trane gaan kom.

Maar, daar is geen manier waarop Cecile dié stukkie inligting sou kon hê nie.

Die ideale leser bestaan dus nie. Punt.

As Izak boeke resenseer, dan maak hy ook foute. As Izak boeke lees, dan mis hy ook goed.

Wat dus kom by my laaste punt in dié skrywe. Lees baie resensente. Ek wou die ander dag nie lelik wees nie, so ek het Joan Hambidge se mooi woorde op SêNet verswyg, maar die prinses het dit nou weer onthou. Joan klink positief oor die boek. Lees gerus self. En dan moet julle egter onthou, Joan het ook al van te vore negatiewe kritiek gelewer op my werk.

You win some, you loose some. Maar almal dra by tot die teks.

Doen dus wat die prinses doen: Koop die boek en besluit self. En nie net my boek nie!

1 view

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page