top of page
  • Uitmelkbos

HY MAG MAAR SKRYF


Johan en Zandra van Wyk

GESOEK: Die beste skrywer in Afrikaans van wie geen boek op die rak pryk nie. Sou so ‘n ambisieuse soektog wel geloods word, het ek ’n kandidaat wat kwalik as wenner getroef sal kan word.

Ek stel bekend: my oud-kollega Johan van Wyk, jarelange skrywer van die rubriek Stop van Myne in ons ou koerant, Die Volksblad, en deesdae, in sy aftreedae op die Strand, ‘n energieke bydraer tot veral Weg en Landbouweekblad, wat vir hom ‘n lojale gevolg opgebou het met sy heerlike humor en meesleurende nostalgie oor tye wat verby is.

‘n Ander oud-kollega, Herman le Roux, het met sy kenmerkende deeglikheid ‘n lys saamgestel van die ryke oes skrywers wat Die Volksblad deur die jare opgelewer het. Amper sestig Voksbladmense het saam byna 600 boeke geskryf, het Herman bevind.

Onder hierdie skrywers is die sukses-stoomroller Deon Meyer en kroonprins op die terrein van spanning, Chris Karsten. Van die Volksblatters is met die hoogste pryse bekroon, soos C.M. van den Heever, Jaap Steyn, Pieter W. Grobbelaar en die nimlike tweeling Meyer en Karsten. Gaan krap gerus by Volksblad.com.

As ‘n ontbrekende ding soos ‘n seer vinger met ‘n dik verband kan uitstaan, is dit Johan van Wyk se naam. Ondanks skitter-bydraes oor enige onderwerp onder die son het niemand ooit die blinkste juwele gaan uitpik vir bundeling nie. Ek het dit ‘n slag in my Volksblad-dae by Tafelberg aanbeveel en Danie van Niekerk het saamgestem. Iemand moes egter die rug buig en die werk doen. Daardie iemand het nooit na vore gekom nie.

Ek is vieserig vir myself dat ek nie die een of ander tyd self die taak onderneem het om Johan se beste werk in boekvorm te verewig nie – hoewel ek darem in van my boekies flertsies van veral sy kostelike humor-stukke opgeneem het: onder andere die hoofstukke Stop van Syne en Hef ‘n Bedpan in my eerste boekie Scoops en Skandes. Dis egter maar skrapse erkenning vir so ‘n ster. Ohopoho!

Johan is in die 90’s met die FAK-prys vir Afrikaanse joernalistiek bekroon. Daarvoor eis ek darem vir myself ook krediet op, want ek het die boer van “Kafferrivier” (soos dit destyds geheet het) by Henno Cronje opgevysel. Maar “die Oom” het meer pryse verdien, soos Naspers se Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit – dalk selfs die eksklusiewe Markus Viljoen-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Ek weet sy elegante vrou, Zandra, het ‘n plakboek gemaak van sekere van Johan se rubrieke, onder meer briewe aan sy kinders wat hy in Stop geskryf het. (Hy het aan vele mense “briewe” geskryf soos aan ‘n bloedjong Anneline Kriel se Tukkie-kêrel, Jacques Malan, vir wie hy mooi beduie het hoe om so ‘n mooi meisie te vry – maar tevergeefs!)

Van dié plakboek het ek te hore gekom toe ek nou die dag een van sy roerende Stoppe – een oor ‘n plaasbegrafnis – raak-Google. (Tik net in: plaasbegrafnis, die volksblad, johan van wyk). Hy het dit in Oktober 2001 geskryf toe ek in my laaste skof as redakteur was – mintag maar ek is ingenome met so ‘n mooi stuk wat in my koerant verskyn het.

Dit begin so: “Van al die mooi dinge in hierdie gebroke, maar tog mooi wêreld waarin ons leef, is ‘n mooi plaasbegrafnis op ‘n mooi lentedag ná vroeë reën vir my een van die mooiste.

“ Hartseer ook ja, natuurlik, maar dis ‘n mooi soort hartseer. Amper half lekker.”

Ek gaan nie verder aanhaal nie, want dan sal ek nooit kan ophou nie. Ek beveel egter aan dat iemand daardie plakboek gaan bedel/steel en as boek publiseer. Toe, uitgewers, hier’s ‘n geleentheid. Carpe diem!

Ewenwel, ek het die betrokke Stop vir Johan gestuur met die vraag: “Onthou jy dit nog?” Ek het bygevoeg dat in ‘n kompetisie om sy mooiste skryfwerk te vind die traantrek-mooi plaasbegrafnis-rubriek voor sal hardloop saam met ‘n stuk oor sy verswakte 85-jarige pa se afskeid van sy vervreemde geboortgerond by Calvinia, wat onlangs in Landbouweekblad was.

Daardie stuk het ek onlangs na vriende geblits met die opmerking: “Dit moet van Johan van Wyk se mooiste skryfwerk wees.”

Sy meesterlike atmosfeerskepping blyk onder meer uit hierdie paar paragrafies:

“By sy vader, my oupa, oorlede in 1921, se eenvoudige graf, nou net ‘n hopie uitgewaste grond, omring deur n stukkende heining met n skewe hekkie tusssen gannabosse, het hy sy hoed afgehaal, met sy een hand bewend op die verweerde tuisgebeitelde kopklip van ruwe sandsteen moeisaam op ‘n knie neergesak en ‘n handvol grond opgetel. Trane het oor sy wange gerol.

“Ruimte en tyd het skielik stilgestaan, die ewigheid ‘n vlietende werklikheid. Dit was een van die roerendste, hartseerste, en tegelyk mooiste, mees deernisvolle oomblikke van my lewe.

“Toe gooi ek vir ons n Mellowoodjie vir versterking en toe eet ons die koue skaapnek daar langs die ou voorvader.”

Hierdie wellewende ex-Calvinianer, ex-Vrystater mag maar skryf. Iemand wat nie saamstem nie?

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page